Die DA sê hy steun die voorneme van die Kaapse metro om die skade wat Vrydag gedurende die EFF se betoging naby die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad se noordelike voorstede aan munisipale eiendom aangerig is, van die party te verhaal.
’n Brandweerwa is tydens die betoging aan die brand gesteek, paaie en verkeersligte is beskadig en ’n stuk veld is afgebrand.
Verskeie winkels is ook geplunder en die vensters van ’n motorhandelaar is gebreek en skade is aan private motors aangerig.
Agt EFF-lede is Vrydag deur die polisie en ander wetstoepassingsbeamptes in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ná die betoging naby die Hoërskool Brackenfell ’n Hyundai-handelaar, die Brackenfell-poskantoor en ander private eiendom naby die skool beskadig het.
Die saak van openbare geweld teen hulle is Maandag in die Blue Downs-landdroshof tot 12 Februarie uitgestel vir verdere ondersoek.
Die metro beoog nou om die koste van die skade te bereken en dit dan van die EFF te verhaal.
“Dit is hoog tyd dat die EFF aanspreeklik gehou word vir sy dade en dat hy besef dat waar die DA regeer, sal hy aanspreeklik gehou word vir sy gewelddadige gedrag,” sê Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder.
“Die EFF het Vrydag geen rede gehad om in Brackenfell te wees nie. Sy betoging teen sogenaamde rassisme, was niks anders as ’n skandelike daad van politieke opportunisme nie.”

EFF-lede Vrydag agter lemmetjiesdraad gedurende hul betoging in Brackenfell. Foto: Adrian de Kock
Die DA het die polisie, die metropolisie en ander wetstoepassingsagentskappe geloof dat hulle die situasie in bedwang probeer hou het en saakbeskadiging beperk het.
“Die EFF het egter nie die metro se voorwaardes wat gestel is vir hierdie betoging nagekom nie.
“Terwyl ons almal se regte respekteer om te betoog, kan dit nie ten koste van die regte van kinders of munisipale eiendom wees nie.”
Nt’sekhe sê die DA gaan ook regstappe doen om wysigings aan die Wet op Byeenkomste te maak sodat die polisie in soortgelyke situasies beter bemagtig kan word.