Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Brackenfell: Man kry glo dreigemente
Van die inskrywings oor Ivan Simmers op ’n Whatsapp-groep van inwoners van Brackenfell.

Die man wat die omstrede “matriekafskeid” van die Hoërskool Brackenfell aan die groot klok gehang het, vrees nou vir sy lewe en dié van sy gesin.

Ivan Simmers, ’n eiendomsagent in Kaapstad se noordelike voorstede, het ’n video op sosiale media geplaas van matriekleerlinge van die skool wat ’n geleentheid op ’n wynplaas bygewoon het.

Die video is kort daarna, nadat daar beweer is dat geen anderskleurige matriekleerling van die skool na die funksie genooi is nie, privaat gemaak.

Die hoof, Jannie Muller, het toe ook gesê dat die geleentheid nie deur die skool of enige lid van die beheerliggaam gereël is nie.

Simmers het gesê hy word sedert hy die video op sy Facebookblad geplaas het, gedreig deur middel van telefoonoproepe en dreigemente op sosiale media.

Hy en sy gesin word ook deur onbekende mense in motors agtervolg, sê hy.

In een van die boodskappe skryf ’n man op ’n Brackenfell-WhatsApp-groep “plaas wittes die swart gemors vrek maak magtag”.

Volgens die inskrywing op Glody Nkanga se Facebookblad is daar ‘n prys van R10 000 op sy kop.

Simmers sê dat die polisie aanvanklik nie die naweek ’n saak wou aanhangig maak nie, maar dat Bellville-polisiekantoor Maandag ’n polisielid na sy huis sou stuur vir hom om ’n saak van intimidasie te maak.

Faiez Jacobs, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap, het Maandag gesê hulle sou Simmers die middag na die Bellville-polisiekantoor vergesel. Jacobs het gesê die ANC sal altyd mense wat slagoffers van rassisme is, ondersteun. “Ons kan nie maak asof rassisme nie in Kaapstad bestaan nie. Om dit te ignoreer is rassisme op sigself.”

Simmers is egter nie die enigste mens wat glo nou op sosiale media gedreig word oor sy uitsprake teen die skool nie. Glody Nkanga, wat in 2017 aan die skool gematrikuleer het, het Maandag gesê dat ook hy op sosiale media gedreig is. In ’n inskrywing op sy Facebookblad het iemand glo geskryf daar is ’n losprys van R10 000 op sy kop.

Nkanga het kort na die debakel oor die funksie uitgebreek het, gesê hy gaan ’n versoek aan die parlement rig dat die Hoërskool Brackenfell ondersoek word. Die dreigemente teen hom het kort daarna begin.

Intussen is ’n dringende aansoek van die beheerliggaam van die skool Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad tot 2 Desember uitgestel.

Die saak is glo nog nie gereed om aangehoor te word nie.

Volgens hierdie skrywe beplan die EFF ’n plakkaatbetoging vir Vrydag in Brackenfell.

Die skool se beheerliggaam het die hooggeregshof verlede Dinsdag met die aansoek genader en gevra dat die hof die EFF moet beveel om nie weer na die skool te kom en daar te betoog nie.

Die EFF het toe onderneem om nie die matriekeksamen te ontwrig nie.

’n Protes deur ’n handjievol EFF-lede verlede Maandag voor die skool het in ’n volskaalse bakleiery tussen EFF-lede en ouers en inwoners van Brackenfell wat die skool teen die EFF wou beskerm, ontaard.

Intussen doen ’n kennisgewing die ronde waarin Tshepo Khoaeane, provinsiale koördineerder van die EFF, besig is om lede vir ’n plakkaatbetoging vir Vrydag in Brackenfell te mobiliseer. Die kennisgewing lui egter nie waar in Brackenfell die EFF wil betoog nie.

Melikhaya Xego, EFF-voorsitter in die Wes-Kaap, het Maandag gesê daar is die middag ’n vergadering by die EFF se kantore en hulle sal gelei word deur die besluite wat daar geneem word rakende die beplande betoging van Vrydag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.