Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Brackenfell: Vrese oor nog geweld, maar polisie is gereed

Die polisie is slaggereed vir enige bedreiging wat uit die EFF se protesoptog Vrydag by die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad kan spruit.

Dié versekering kom nadat Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, in ’n beëdigde verklaring wat sy aan die Kaapstadse metro gestuur het, vra dat die permit wat aan die EFF uitgereik is, teruggetrek word.

Schäfer sê sy het inligting aan die metro gestuur wat daarop dui dat die EFF nie van plan is om vreedsaam te betoog of te voldoen aan die vereistes waaroor ooreengekom is nie.

“Ek het ’n beëdigde verklaring gestuur ingevolge art. 5 van die Wet op die Regulering van Byeenkomste en het my kommer oor die veiligheid van mense en dié van eiendom uitgespreek.”

Haar kommer spruit uit boodskappe op sosiale media waarin geweld duidelik aangehits word.

Die metro het op sy beurt gesê die polisie het die versekering gegee dat hulle enige bedreiging wat uit die EFF-protesaksie kan spruit, die hoof kan bied.

Die grense wat hulle gaan opstel, sal help om onnodige konflik te vermy en om te verseker dat net die getal optoggangers waarvoor toestemming gegee is, toegelaat word om die memorandum te oorhandig.

Die metro sê in ’n verklaring daar gaan ’n groot polisieteenwoordigheid in die Brackenfell-gebied wees. Daar is ook ’n omvattende operasionele plan waarin die polisie, metropolisie, wetstoepassing, verkeer en die betrokke gebiede se forums vir gemeenskapspolisiëring en buurtwagte insae gehad het.

Die polisie se eenheid vir openbare orde gaan ook verseker dat skarebeheer toegepas kan word om die leerlinge, onderwysers en skooleiendom te beskerm.

“Die grense wat hulle gaan opstel, sal help om onnodige konflik te vermy en om te verseker dat net die getal optoggangers waarvoor toestemming gegee is, toegelaat word om die memorandum te oorhandig,” aldus die verklaring.

Die EFF het aansoek gedoen dat 100 mense aan die optog deelneem, maar veel meer lede van die party word verwag.

EFF-lede Donderdag in die parkeergebied van die Brackenfell-poskantoor. Foto: Twitter

Die metro het ’n beroep gedoen op die publiek om die gebied te vermy in ’n poging om die polisie se werk te vergemaklik en ook sodat daar nie pogings is om konflik tussen lede van die EFF, die inwoners of ander groeperings aan te hits nie.

Ook die FW de Klerk-stigting het Donderdag sy kommer uitgespreek oor die “situasie” wat by die Hoërskool Brackenfell aan die ontwikkel is.

Hy is veral bekommerd oor matriekleerlinge wat met hul eindeksamen besig is. En die moontlikheid dat lede van die plaaslike gemeenskap weer soos op 9 November by die skool kan byeenkom in ’n poging om die skool te “verdedig”.

Ouers en inwoners van Brackenfell het op 9 November gedurende ’n EFF-betoging oorkant die skool met lede van die groep handgemeen geraak.

Die stigting sê verder sowel die EFF as PAC is radikale partye wat “geringe rasse-ongevoelighede” wat daar is of nie is nie, wil gebruik om konfrontasie tussen rasse aan te hits.

Die PAC het Woensdag by die skool betoog.

“In die proses neem die partye uiters uitdagende rasse-houdings en taal aan.”

Die stigting doen voorts ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa en Alan Winde, Wes-Kaapse premier, om te verseker dat kalmte heers en reg en orde gehandhaaf word.

In die proses neem die partye uiters uitdagende rasse-houdings en taal aan.

Jannie Muller, hoof van die Hoërskool Brackenfell, het op sy beurt gesê Vrydag sal ’n normale skooldag wees. “Ons het vir die ouers gesê hulle kan hul kinders skool toe stuur as hulle so voel.”

Daar is ook reëlings getref dat die matrieks hul fisiese wetenskap-vraestel in ’n ander lokaal skryf. Die eksamens vir die res van die skool is uitgestel.

Schäfer het gesê daar is ’n moontlikheid dat die skool vroeër as gewoonlik vir die dag kan sluit.

Volgens haar is die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) in kontak met die polisie en ander wetstoepassingsbeamptes.

“Ons werk saam met hulle om die veiligheid van ons mense en ons skool te verseker,” het sy gesê.

Daar gaan volgens haar ook private sekerheid wees wat hul dienste vrywillig aangebied het.

Ook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het ’n beroep op die EFF gedoen om te betoog sonder om op die leerlinge se reg op basiese onderrig inbreuk te maak.

Ons het vir die ouers gesê hulle kan hul kinders skool toe stuur as hulle so voel.

Gushwell Brooks, MRK-woordvoerder, het gesê dit is belangrik om in ag te neem dat die leerlinge in ’n reeds moeilike jaar vir hulle eksamen skryf.

Hy het gesê die MRK ondersoek die onlangse bewerings teen die skool. Dit sluit in die bewering dat ’n private matriekafskeid gehou is wat glo net deur wit matrikulante van die skool en sommige onderwysers bygewoon is. Die MRK ondersoek ook ander bewerings van rassisme in die skool.

Hy het om kalmte gevra en dat die protesoptog soos op 9 November vreedsaam en sonder voorvalle moet wees.

Die MRK kyk ook glo na die voorvalle. Hy vra verder dat mense wat Vrydag na die skool gaan, die leerlinge se belange eerste plaas en eerder maatskaplike kohesie bewerkstellig as om ’n groter skeuring in ’n reeds brose verhouding tussen verskillende sosiale groepe mee te bring.

Wandile Kasibe, EFF-woordvoerder, het Donderdag gesê hulle gaan hulle nie van stryk laat bring deur inskrywings van mense op sosiale media wat hulle aanval nie.

“Ons sal ook nie tot geweld oorgaan of tot geweld uitgelok word nie. Ons fokus daarop om die rassisme in die skool te pak en dit is wat ons gaan doen,” het hy gesê.

Kasibe het gesê die EFF is daartoe verbind om by die reëls en regulasies te hou en die optog vreedsaam te hou.

• Inwoners wat noodgevalle wil aanmeld wat uit die optog mag spruit, kan van ’n landlyn die metro se noodkommunikasiesentrum by 107 of van ’n selfoon by 021 480 7700 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.