Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Briewe wys ‘diskrete’ NP-skenkings
PW Botha

Kan diskrete donasies aan die Na­sionale Party (NP) in die laaste jare van apartheid vergelyk word met vandag se onsmaaklik knus verhouding tussen sekere sakelui en die “gekaapte” Zuma-ANC?

Ja en nee, het kenners die afgelope week gesê ná die bekendmaking van briewe uit voorheen ontoeganklike argiewe wat skenkings bewys wat sakelui destyds aan die apartheidsregering gemaak het.

“Dit help ons om die verlede beter te verstaan in die soeke na ’n beter toekoms,” sê Hennie van Vuuren, aktivis en direkteur van die organisasie Open Secrets.

Van Vuuren, ook die skrywer van die boek Apartheid Guns and Money: A Tale of Profit, sê van die briewe van NP-donateurs wat die afgelope week deur die webwerf Daily Maverick gepubliseer is, het nou vir die eerste keer as “bewysstukke” beskikbaar geword, al het hy ook daaroor in sy boek geskryf. “Ek dink dis relevant dat Suid-Afrikaners weet wat in die verlede gebeur het.”

Vier briewe oor donasies aan die NP is nou die eerste keer gepubliseer.

“Daar is nog baie briewe, onder meer van maatskappye soos Federale Volksbeleggings, Sanlam en Naspers,” sê Van Vuuren.

Van dié briewe word vandeesweek bekendgemaak.

Ons moet weet waar ons vandaan kom.

Tot dusver is onder meer ’n brief gepubliseer van FW de Klerk aan pres. PW Botha waarin hy ’n donasie van R50 000 van Barlow Rand vermeld.

Christo Wiese, voorsitter van Pepkor en een van Afrika se heel rykstes, se donasie aan die NP is op 25 Augustus 1989 deur Kent Durr, NP-LP, in ’n brief aan De Klerk, toe waarnemende staatspresident, bekend gemaak. Wiese het nie op ’n versoek vir kommentaar gereageer nie.

Onder die dokumente wat Van Vuuren en ander navorsers in ’n argief van die NP by die Universiteit van die Vrystaat opgespoor het, was lêers wat gemerk is “donasies aan die NP”. Sommiges het kwitansies bevat.

“Ons gee nie voor dat dit alles korrupsie was nie. Maar dit wys ook die soort steun wat die NP van die sakegemeenskap gekry het. Sommige van die donateurs dui aan die steun moenie openbaar gemaak word nie,” sê Van Vuuren

Die dokumente is toeganklik vir ander navorsers.

Van Vuuren gooi wal teen aantygings dat die bekendmaking van die NP-argiewe dien om aandag af te trek van die Gupta-skandale, wat volgens Van Vuuren ongetwyfeld verdere ondersoeke vereis.

“Ons moet die verkeerde onder apartheid erken en vasstel wie daardeur bevoordeel is. Dis ’n poging om die waarheid uit te lig en ons as nasie te help om vorentoe te beweeg – nie om op ’n heksejag te gaan nie, want dit sal nie die land help nie.”

Prof. Hermann Giliomee, geskiedkundige, sê historici moet altyd gebeure in hul eie konteks probeer beoordeel.

“Verskeie van die groot Afrikaanse sakeondernemings, soos Nasionale Pers en Sanlam, het as deel van die Afrikaner-volksbeweging ontstaan waaraan mense uit al die lae van die Afrikanergemeenskap saamgewerk het.

“Ministers het byvoorbeeld gedurende die eerste 20 jaar van die NP-bewind in die direksies van Afrikaanse persmaatskappye gesit. Daar was egter baie min gevalle waar die NP-regering maatskappye onregmatig bevoordeel het.”

Giliomee sê die meeste wit sakeleiers van die tagtigerjare het daarvan oortuig geraak dat ’n onderhandelde skikking die enigste uitweg vir Suid-Afrika was. Dit sou net bewerkstellig kon word as daar ’n stabiele staat en leierskorps met ’n sterk ondersteuningsbasis aan sowel die wit as die swart kant was.

“Dit was die agtergrond waarteen sakelui geld vir die NP of ander partye geskenk het. Of hulle in ruil daarvoor bo mededingers onregmatig bevoordeel is, sal net deur behoorlike navorsing vasgestel kan word. Maar in die algemeen kan ek onomwonde verklaar dat enige poging om die korrupsie van die laaste jare met die betreklik geringe omvang van korrupsie in die 1980’s te vergelyk, grotesk en onverantwoordelik is.”

Van Vuuren sê egter dis nie ’n geval van wie se korrupsie groter is nie. “Dit help ons nie. Daar sal altyd iemand wees wat meer sal steel; ’n groter misdaad pleeg. Die punt is dat ons verstaan waar ons, as land, vandaan kom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.