Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Bring kiesafdelings terug, sê Roelf

300 uit die 400 lede van die Nasionale Vergadering behoort in kiesafdelings verkies te word en net 100 volgens die huidige stelsel van partylyste en proporsionele verteenwoordiging.

Dít is die kernaanbeveling in ’n verslag wat opgestel is deur ’n paneel kundiges onder leiding van Roelf Meyer, die destydse NP-hoofonderhandelaar wat later lid van die ANC geword het.

Die aanbeveling toon sterk ooreenkomste met dié van die Van Zyl Slabbert-kommissie, wat in 2003 ook ’n gemengde kiesafdeling-proporsionele stelsel vir Suid-Afrika aanbeveel het om direkte verteenwoordiging van kiesers ’n hupstoot te gee en partye se ystergreep op kandidatelyste te breek.

Die konstitusionele hof het in Junie bevind die huidige Kieswet is ongrondwetlik omdat dit nie voorsiening maak vir onafhanklike kandidate nie.

Hof sê Kieswet moet verander.

Die hof het die parlement 24 maande gegee – tot Julie 2022 – om die Kieswet te wysig.

Die Verkiesingskommissie (OVK) het intussen met navorsing begin oor hoe om die wet in ooreenstemming met die Grondwet te wysig.

Die voorstel van die Meyer-paneel het ten doel om kiesers seggenskap te gee oor die aanwys van parlementslede in hul kiesafdeling, hoewel die 66 kiesafdelings aansienlik groter as in die verlede sou wees.

Die paneel is saamgestel onder die vaandel van die Instituut vir ’n Inklusiewe Samelewing, waarvan die oud-ANC-LP Daryl Swanepoel voorsitter is.

Lede sluit in prof. Zweli Ndevu, akademiese hoof van die skool vir openbare leierskap aan die Universiteit Stellenbosch, Dren Nupen, voormalige uitvoerende hoof van die Verkiesingsinstituut van Suider-Afrika, prof. Firoz Cachalia, dosent in die regte aan die Universiteit van die Witwatersrand, en prof. Jurgen Elklit van die Universiteit van Aarhus in Denemarke. Elklit was destyds ook lid van die Van Zyl-Slabbert-kommissie en later betrokke by die OVK.

In 2003 het ’n kommissie onder leiding van die oud-opposisie-LP dr. Frederik van Zyl Slabbert aan die parlement teruggerapporteer dat Suid-Afrika se kiesstelsel hervorm moet word.

Die kommissie is in 1999 deur oudpres. Thabo Mbeki aangestel.

Anders as die Van Zyl-Slabbert-kommissie, beveel die Meyer-paneel egter nie aan dat die Nasionale Raad van Provinsies ontbind word nie.

“Die voorstel gaan dalk verder as die konstitusionele hof se bevel dat onafhanklike kandidate in 2024 verkiesbaar moet wees, maar die hofbevel en die Van Zyl-Slabbert kommissie impliseer in elk geval hierdie verkiesingshervorming,” het Meyer aan Rapport gesê.

Meyer sê die uitspraak van die konstitusionele hof bied ’n waardevolle geleentheid om die leemtes in die proporsionele stelsel van die Kieswet reg te stel.

Hy glo dié studie kan gesprek aan die gang sit wat hopelik deur die parlement verder gevoer kan word, sê Meyer.

Ingevolge die voorstelle sal partye hoogstens agt kandidate elk op ’n geslote lys in ’n gegewe kiesafdeling aanwys.

Die korter lyste kan vir onafhanklike kandidate en selfs groepe onafhanklike kandidate binne ’n bepaalde kiesafdeling ’n realistiese kans gee om tot die parlement verkies te word. Die kiesafdelings word saamgestel uit munisipale distrikte en die agt metrorade. In elk van die kiesafdelings word tussen drie en sewe parlementslede met ’n proporsionele lys verkies.

Die getal parlementslede per kiesafdeling word bereken volgens die getal stemgeregtigde kiesers daar. Elke kiesafdeling sal tussen 270 000 en 624 000 kiesers hê.

In ’n parlementêre verkiesing, soos wat weer in 2024 moet plaasvind, sal elke kiesafdeling sy eie stembrief hê. Die name van al die partye wat daar meeding, sal op die stembrief verskyn saam met die name van onafhanklike kandidate.

’n Kieser stem dan net een keer vir ’n party of ’n onafhanklike kandidaat.

Setels word proporsioneel toegeken op grond van die getal stemme wat elke party of onafhanklike kandidaat gekry het.

Dit bly dus ’n geslote kandidatelys soos in die huidige stelsel, maar die lyste is baie korter en in elke kiesafdeling uniek.

Die oorblywende 100 setels in die Nasionale Vergadering word propor­sioneel aan kandidate van politieke partye toegeken op dieselfde manier as wat 400 setels in die huidige stelsel toegeken word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.