SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Britte wil voor Zondo getuig oor hoe Guptas Vrystaat melk

’n Britse ondersoekeenheid het nóg verdoemende bewyse van korrupsie in die Vrystaat tydens die premierskap van Ace Magashule oopgevlek, én is bereid om  voor die kommissie van ondersoek na staatskaping daaroor te getuig.

Van die nuwe inligting sluit in hoe die Guptas rekenaars ter waarde van R1,7 miljoen teen meer as dubbeld die prys aan die Vrystaatse regering onder Magashule verkoop het.

Ander inligting het betrekking op die berugte Estina-suiwelplaas by Vrede en wys hoe die Guptas glo geroeste toerusting uit Indië vir die plaas ingevoer het.

ace magashule
Ace Magashule Foto: Felix Dlangamandla

Die ondersoek is gedoen deur die nieregeringsorganisasie Shadow World Investigations, voorheen bekend as Corruption Watch UK, waarin die voormalige ANC-parlementslid Andrew Feinstein ’n leidende rol speel.

Paul Holden, direkteur van Shadow World, sê die nuwe inligting spruit uit ’n dieper forensiese ondersoek na die uitgelekte e-posse, die sogenaamde Gupta-leaks.

Dit sluit in verdoemende nuwe besonderhede oor hoe senior Vrystaatse politici en amptenare bevoordeel is.

“Ons het ons beskikbaar gestel om voor die Zondo-kommissie te getuig,” het Holden Vrydag gesê.

Shadow World se verslag, wat Maandag uitgereik word, werp nuwe lig op hoe Estina slegs een van talle pogings deur die Guptas was om die Vrystaat te kaap.

Van die nuwe inligting sluit in:

- Hoe die kantoor van Magashule, toe Vrystaatse premier en deesdae ANC-sekretaris-generaal, ’n Gupta-frontmaatskappy (Sunbay) massiewe opgeblase pryse vir skootrekenaars betaal het. Dokumente toon dat Sunbay die Vrystaatse regering R3,8 miljoen gevra het vir rekenaars wat die Guptas se Sahara Computers slegs R1,7 miljoen gekos het, en hoe hulle só ’n wins van R2,1 miljoen (of 114%) gemaak het.

- Hoe die Vrystaatse departement van gesondheid bykans drie keer meer vir mobiele mediese klinieke betaal het as wat die diens werd was. Dokumente wat aan Tony Gupta gestuur is, toon dat ’n mobiele kliniekdiens wat deur Cureva (’n maatskappy wat behoort het aan ’n Dubaise maatskappy wat vermoedelik ’n Gupta-front was) verskaf is, R352 per pasiënt sou kos. Cureva (later Mediosa) het die Vrystaatse regering R954 per pasiënt gevra.

Mosebenzi Zwane

- Mosebenzi Zwane, destyds LUR vir landbou in die Vrystaat, het minstens R500 000 in voordele van Gupta-maatskappye ontvang – ’n maand nadat hy ’n omstrede 99 jaar-huurooreenkoms met die Guptas vir die Estina-grond onderteken het. Die Gupta-maatskappye het ook minstens ’n halfmiljoen rand betaal om Zwane en sy gospel-koor na Indië te stuur.

Shadow World Investigations het aan die Zondo-kommissie aanbeveel dat Zwane ondersoek word vir die oortreding van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede.

- Peter Thabethe, hoof van die Vrystaatse departement van landbou, het op die Guptas se Indiese maatskappy staatgemaak om die koste te dek vir sy “navorsingsreis” na Indië om Paras Dairy, Estina se Indiese vennoot, daar te gaan besoek.

Thabethe is vergesel deur Ashok Narayan, ’n sleutel- Gupta-luitenant. Thabethe het in sy getuienis voor Zondo beweer hy het Narayan nie voor die reis geken nie. Holden sê egter die Gupta-leaks-kommunikasie toon Narayan het Thabethe genooi om die SA-Indië-“vriendskapsvieringe” in Durban by te woon, lank voordat hulle saam Indië toe is.

Ander nuwe onthullings sluit in dat Estina geroeste melkery-toerusting aangekoop het van ’n maatskappy in Indië. Kamal Vasram, die enigste direkteur van Estina, het ook ’n lang sakeverhouding gehad met die Guptas voordat die Estina-projek begin is.

Die nuwe inligting kom twee weke nadat adv. Hermione Cronje, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat, gesê het hul ondersoek het vasgestel wie betrokke was by Estina en hoe die geld landuit geneem is.

Sekgopi Malebo, ’n voormalige LUR van openbare werke in die Vrystaat, het daar word in spanning gewag om te sien of Magashule en sy faksie vervolg gaan word.

Hy sê die ondersoekers en vervolgers is nie haastig nie “en dis ’n goeie ding, want ons gaan nie gelukkig wees as die klagte weer laat vaar word nie”.

Malebo sê die politieke bondgenote van Magashule in die Vrystaat probeer hulle nou van hom distansieer om nie ook by die ampsmisdrywe betrek te word nie.

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse wetgewer, het gesê Magashule se betrokkenheid moet deeglik ondersoek en uitgewys word.

Magashule was premier toe die suiwelprojek geïmplementeer is, van die begin totdat Estina daarvan onttrek het. Die kontrak is in sy kantoor onderteken.

“Toe Estina onttrek het, is hulle toegelaat om stil-stil na Indië te verdwyn.”

Die mislukte projek is in 2014 gekanselleer en die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie het toe die bestuur van die Vrede-plaas oorgeneem.

Jankielsohn sê Magashule was bewus van die onreëlmatighede met die projek.

Hy (Jankielsohn) het verskeie kere in ledeverklarings en reaksie op die premier se wetgewer-openings gesê daar is groot ongerymdhede.

“In die meeste gevalle is ek net beledig en hulle het geweier om ondersoek in te stel of om op te hou om geld (aan die projek) te gee.

“Ace Magashule was medepligtig deur sy toekenning van die geld en sy stilswye terwyl hy geweet het van die ongerymdhede en die betrokkenheid van die provinsiale regering,” sê Jankielsohn.

Dakota Legoete, ANC-woordvoerder, is om kommentaar genader, maar het nie reageer nie.

 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.