Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Brown ‘kry nie brief’ oor Molefe se pensioen
Lynne Brown, minister van openbare werke.Foto: Lindile Mbontsi

Lynne Brown, minister van openbare werke, beweer sy het nooit ’n brief ontvang waarin Brian Molefe, Eskom se voormalige uitvoerende hoof, se omstrede pensioenpakket van R30 miljoen uiteengesit is nie.

Sy het Maandag in haar jongste beëdigde verklaring voor die hofsaak oor Molefe se pensioen die resolusie deur ’n Eskom-raad om sy dienskontrak aan te pas en hom ’n salarisverhoging te gee, as “bisar” bestempel.

Sy sê die vergadering in Februarie 2016 waarop die besluit geneem is, is gehou sonder dat sy gekonsulteer is.

Molefe se “sogenaamde aftrede en heraanstelling” ná sy bedanking is ongeldig, voer Brown aan.

Die vakbond Solidariteit, die DA en die EFF het Molefe hof toe gesleep om sy pensioenuitbetaling van R30,1 miljoen onwettig te verklaar en tersyde te laat stel.

Die saak begin op 29 November in die hooggeregshof in Pretoria en sal oor drie dae aangehoor word.

Brown is ’n respondent in die saak en sê sy sal die hof se beslissing aanvaar.

In ’n vroeëre beëdigde verklaring het sy gesê sy het eers op 19 April op ’n vergadering met die Eskom-raad van Molefe se pensioen bewus geword.

Die verwikkelinge het gevolg op berigte in Sunday Times.

Brown het in dié verklaring gesê sy het niks van die uitbetaling geweet nie omdat dit ’n “bedryfskwessie” was.

Sy ontken in haar nuutste beëdigde verklaring dat sy ’n brief van twee bladsye van dr. Ben Ngubane, Eskom se voormalige voorsitter, ontvang het.

Indien sy wel die brief ontvang het, was sy nogtans salig onbewus van Molefe se pensioen, sê Brown.

Volgens Daily Maverick is die brief na drie mense in Brown se kantoor gestuur – die departement van openbare ondernemings se registerbeampte, die departement se hoofdirekteur van bestuur en Kim Davids, Brown se voormalige persoonlike assistent.

Molefe het op 16 Oktober 2015 by Eskom begin werk maar sowat 16 maande later bedank nadat sy naam in adv. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, se verslag oor staatskaping genoem is.

Brown sê Molefe is op ’n vastetermynkontrak by Eskom aangestel.

Op 25 November 2015, twee weke nadat Molefe amptelik sy aanstellingsbrief onderteken het en twee maande nadat hy by Eskom begin werk het, het Ngubane aan Brown geskryf om haar goedkeuring te vra vir die gewysigde pakket waarin Molefe se pensioenuitbetaling vergroot is.

Sy sê die Eskom-raad het intussen op 15 November 2016 aan haar geskryf om ’n ander pensioenreëling vir Molefe voor te stel.

In die brief is glo voorgestel dat Molefe toegelaat word om aan die einde van sy termynkontrak van vyf jaar af te tree, mits hy die ouderdom van 63 bereik het. Eskom sou ingevolge hierdie ooreenkoms enige boetes namens Molefe betaal.

Brown sê die brief het haar nooit bereik nie.

Luidens hofstukke beweer sy Eskom se direksie, asook sy mense- en bestuurskomitee, het op 9 Februarie 2016 vergader om Molefe se pensioenpakket sonder haar insette te bespreek.

Sy het haar teenkanting teen die besluit uitgespreek nadat sy in die Sunday Times-berig daarvan bewus geword het.

BRON: https://www.fin24.com/Economy/Eskom/exclusive-brown-says-she-never-saw-molefes-pension-letter-20171115

Meer oor:  Lynne Brown  |  Eskom  |  Brian Molefe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.