Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Brown ontken Tsotsi se bewerings oor Gupta, Essa

Lynne Brown, oudminister van openbare ondernemings, ontken dat sy ingemeng het om in 2015 die Eskom-direksie se samestelling te manipuleer.

Sy ontken ook die aantyging van Zola Tsotsi, destydse voorsitter van die Eskom-direksie, dat sy hom genooi het na haar huis, waar hy aanvoer Salim Essa en Tony Gupta teenwoordig was.

Brown het Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig en gesê sy ontken die aantyging dat dié twee mense in haar huis was, hetsy haar huis in Kaapstad of haar ministerswoning in Pretoria. Sy ontken dit ook dat sy Tsotsi gebel het oor die kwessie van wie in die Eskom-direksie se komitees moet dien.

Brown het dit ook ontken dat Essa haar raadgewer was en sy het getuig dat daar geen verbintenis tussen hulle is nie.

Volgens Brown het Tsotsi vantevore voor ’n parlementêre portefeuljekomitee ook aangevoer sy het per e-pos aan hom ’n gewysigde lys gestuur oor watter Eskom-direksielede in komitees aangestel moet word.

“Waarom is daar nie ’n afskrif van so ’n e-pos nie?” het Brown gevra.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het erken die kommissie het aan Tsotsi gevra om die e-pos beskikbaar te stel, maar hy het nie. Daar is nie so ’n bewysstuk aan die kommissie gelewer nie.

Waarom is daar nie ’n afskrif van so ’n e-pos nie?

Brown het gesê sy wil nie by “koffiewinkel-politiek” betrokke raak nie. Sy doen dinge op ’n amptelike wyse. Sy sou nie met haar iPad vir Tsotsi ’n lys gestuur het nie; dit sou amptelike korrespondensie vanaf haar departement gewees het. “Ek reageer net op amptelike wyse,” het Brown aangevoer.

Sy het ook gevra dat Tsotsi moet sê op watter dag spesifiek hy by haar huis was, soos wat hy aanvoer. Sy het sekuriteit by die ingange en sy soek die datum waarop Tsotsi aanvoer dat hy, Tony Gupta en Essa saam in haar huis was. “Ek ontken dit,” het sy gesê.

Brown sal nog ’n keer voor die kommissie moet getuig om haar getuienis af te handel.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het gevra of daar moontlik so ’n sitting op Maandag, ’n openbare vakansiedag, kan wees. “Soos almal weet, raak die kommissie se tyd min, daarom is daar nou sittings deur die dag en saans sodat soveel getuies moontlik die geleentheid kry om te kan getuig,” het Zondo gesê.

Meer oor:  Staatskaping  |  Lynne Brown  |  Zondo-Kommissie  |  Eskom  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.