Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
BTW: Lys van vrygestelde goedere dalk uitgebrei

Die kabinet oorweeg dit om die lys van basiese goedere wat vrygestel is van belasting op toegevoegde waarde (BTW) uit te brei.

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie, sê dit is in reaksie op die kommer wat uitgespreek is oor die 1 persentasiepuntverhoging in die BTW-koers tot 15% wat Malusi Gigaba, voormalige minister van finansies, verlede week in sy begrotingsrede aangekondig het.

Nomvula Mokonyane

Sy het gepraat op die inligtingsessie ná vanjaar se eerste kabinetsvergadering.

Tans is basiese voedselsoorte soos mieliemeel, bruinbrood, droë bone, vrugte, groente en rys vrygestel van BTW.

Verskeie politieke partye het verlede week beswaar gemaak teen die styging in die BTW-koers.

Mokonyane sê die kabinet het die BTW-verhoging bespreek en daar was eenstemmigheid daaroor dat die lys uitgebrei moet word.

“Daar is nie in besonderhede bespreek watter artikels dit kan insluit nie. Die nasionale tesourie saam met die relevante ministeries en departemente sal vorentoe daarop uitwei.”

Daar is geen tydsraamwerk hiervoor nie.

’n Span ministers gelei deur die nasionale tesourie is aangestel om hierna te kyk. Die burgerlike samelewing sal ook geraadpleeg word. Die ministers sal dan terugrapporteer aan die kabinet.

Op die vraag of dié besluit ’n erkenning deur die regering is dat die BTW-verhoging nie ’n goed deurdagte besluit was nie en dat die regering die openbare reaksie daarop onderskat het, het Mokonyane geantwoord dit is die regering se taak om BTW verder te verduidelik omdat baie verwarring daaroor geskep is.

“Dit gaan daaroor om terugvoering van Suid-Afrikaners te kry en te sê laat ons na ander kwessies kyk wat buite die beheer van die mees kwesbare mense is.

“Dit is ’n aanduiding van ’n regering wat luister en wat erken dat ons verder moet gaan om (dit) te verduidelik sodat daar ’n beter begrip is oor waarom daar op die styging in BTW besluit is, wat die implikasies is en wat die gebiede is wat ons gaan beskerm.”

Die vakbondfederasie Cosatu het die voorgestelde verhoging in BTW verwerp, berig News24.

Cosatu verwerp ook die komende verhogings in heffings in die brandstof- en padongelukkefonds.

"Dit is 'n manier om werkers te laat betaal vir die sondes van ander," het Cosatu se sekretaris-generaal, Bheki Ntshalintshali, Donderdag gesê.

Die nasionale vergadering moet óf die voorstel verwerp óf die mandjie met goedere wat vrygestel word van BTW, vergroot.

Meer oor:  Nomvula Mokonyane  |  Btw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.