Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Buitelanders kan hof toe oor grond

Sou grondonteiening sonder vergoeding wel die wetboeke haal, kan die land hom dalk blootstel aan regsoptrede deur buitelandse beleggers wat reken dat dit hul grond se waarde benadeel.

Dít was Woensdag die mening van Xavier Carim, adjunkdirekteur-generaal vir internasionale handel en ekonomiese ontwikkeling in die departement van handel en nywerheid.

Hy het ’n voorlegging aan LP’s in die parlementêre ad hoc-komitee gelewer wat gemoeid is met die skryf van wetgewing om art. 25 van die Grondwet te wysig.

Carim se voorlegging het gehandel oor die invloed wat grondonteiening sonder vergoeding kan hê op internasionale verdrae waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is.

Hy het beklemtoon dat sy voorlegging nie ’n regsmening is nie.

Carim het daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering 49 bilaterale beleggingsverdrae onderteken het, maar dat slegs 22 daarvan van krag is.

Sulke verdrae verwys nie na grond nie, maar verbreed beskerming van beleggings.

Die uitslag kan nie voorspel word nie, maar die arbiters sou nasionale wetgewing in ag kan neem. Hul primêre verwysing sal egter die terme van die bilaterale beleggersverdrag self wees.

Dit dek “alle tipes bates” van ’n belegger in die grondgebied van die gasheerland – met ’n mate van ekonomiese voordeel wat aan die belegging gekoppel word.

Suid-Afrika het oor ’n tydperk van drie jaar – tussen 2008 en 2010 – ’n hersiening van sy verdrae onderneem. Dit het in 2010 gelei tot ’n nuwe raamwerk vir beleggingsbeleid wat deur die kabinet aanvaar is.

Daar is onder meer besluit dat Suid-Afrika slegs beleggingsverdrae sal onderteken op grond van afdoende ekonomiese of politieke redes en waar daar duidelike voordele is, dat ’n nuwe raamwerk vir verdrae ontwikkel sal word in ooreenstemming met die Grondwet en dat bestaande verdrae wat van krag is, beëindig moet word.

Ingevolge ’n mandaat van die kabinet is daar in 2013 formeel begin met die beëindiging van die bilaterale beleggingsverdrae.

Dié verdrae bevat volgens Carim “oorlewingsklousules”. Dit beteken ná die formele beëindiging van ’n verdrag kan die bestaande belegging wat onder die verdrag beskerm word vir ’n bepaalde tyd voortduur. Dié tydperk wissel en mag dalk tien, 15 of 20 jaar wees.

Wat betref die kwessie van onteiening sonder vergoeding, het Carim gesê: “As die grond van ’n buitelandse belegger onteien word en daardie belegger is ’n burger van ’n land wat ’n bilaterale beleggingsverdrag met Suid-Afrika het (insluitend waar ’n oorlewingsklousule van toepassing is), sal die betrokke belegger hom of haar kan beroep op ’n regsuitdaging ingevolge die verdrag as die belegger nie tevrede is met die vergoedingsbedrag nie.”

Drie arbiters sal ingevolge die Internasionale Sentrum vir die Bemiddeling van Beleggingsdispute (ICSID) volgens Carim ’n bepaling oor die kwessie kan maak.

“Die uitslag kan nie voorspel word nie, maar die arbiters sou nasionale wetgewing in ag kan neem. Hul primêre verwysing sal egter die terme van die bilaterale beleggersverdrag self wees.”

Oor vergoeding het Carim gesê sake in die verlede het getoon dat die standaardneiging in dié verband die “markwaarde” van die belegging is voordat onteiening plaasvind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.