Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Burgemeester Dan Plato het kompetisie

Twee vooraanstaande DA-lede wil Dan Plato uit die kussings lig as die DA-burgemeester van Kaapstad.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, by die Blackheath Primary School tydens ’n onlangse wykverkiesing. Foto: Jacques Stander

Geordin Hill-Lewis, DA-LP en die party se woordvoerder oor finansies, en Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en Wes-Kaapse LUR vir vervoer, het albei aan Rapport bevestig hulle ding mee om die DA se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad te wees in vanjaar se munisipale verkiesing.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en afvalbestuur, het haar naam aanvanklik ook in die hoed gegooi, maar intussen onttrek.

’n Paneel van 22 sal besluit wie die DA se kandidaat vir dié belangrike amp is in ’n stad wat die party reeds sedert 2006 beheer. Die paneel bestaan uit John Steenhuisen (partyleier), Helen Zille (voorsitter van die federale raad), tien lede van die DA se federale bestuur, vyf van die provinsiale bestuur en vyf van die streekbestuur. Onderhoude vind op 12 April plaas en ’n besluit word teen einde April verwag.

Volgens bronne in die metro bly Plato (60), wie se veldtog bestuur word deur J.P. Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, die groot gunsteling. Hy het in 2018 die leisels as burgemeester oorgeneem ná die bedanking van Patricia de Lille. Hy was voorheen Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid.

“Plato het goeie ondersteuning in die metro en DA-mense in Kaapstad sal erg omgekrap wees indien hy nie ’n kans kry om in die posisie aan te bly nie,” het ’n bron in die metro op voorwaarde van anonimiteit gesê. “Dit was ’n moeilike pad om mense te kry om van Plato te hou, so ek glo nie mense in die metro sal nou al daardie werk van die laaste drie jaar ongedaan wil maak nie. Mense begin om met hom te identifiseer, en hy was baie gewild as LUR.”

Rapport verneem Plato het egter nie die steun van die nasionale leierskorps nie weens sy hantering van onder meer die verskuiwing van haweloses tydens die Covid-19-pandemie.

Plato was die afgelope week in die nuus toe ’n video op sosiale media versprei is waarin die burgemeester Aslam Richards, ’n aktivis van Ocean View, naby Kommetjie, aansê om stil te bly toe Richards hom met vrae oor dienslewering peper. Smith het aan die Cape Times gesê Plato is “geïntimideer” deur Richards se “tirade” van 20 minute.

Die DA vrees sy steun kan in die verkiesing tot onder die kritieke 50%-vlak in Kaapstad daal en die party kan sy kroonjuweel verloor. Interne peilings wys die DA kan talle proporsionele raadslede verloor.

Die DA het in 2016 onder De Lille 66,7% van die steun in die metro op hom gevestig en spog met 154 van 231 raadslede waarvan 73 proporsioneel verkies is. In 2019 se algemene verkiesing het die party kiesers op die Kaapse Vlakte afgestaan aan De Lille se nuwe party, Good.

Vrese dat hierdie tendens kan voortduur het Hill-Lewis (34) glo genoop om sy naam in die hoed te gooi. Hy is sedert 2011 ’n LP en word as ’n vertroueling van Steenhuisen beskou. Bronne in die Kaapse metro sê hoewel Hill-Lewis baie potensiaal as ’n politikus het, kan hy teenkanting verwag.

“Hy ken net opposisiepolitiek,” sê ’n bron. “Om in regering te wees is baie anders. Raadslede wat Plato goedgesind is, sal eers vir Hill-Lewis in ’n burgemeesterskomiteepos wil sien voordat hy die toppos kry. Ons weet ook die DA is nou ‘kleurblind’, maar die party sal moet mooi dink hoe kiesers die aanwysing van Hill-Lewis as kandidaat kan beskou. Dit beteken die enigste provinsie wat ons bestuur, het dan ’n wit premier én ’n wit burgemeester in Kaapstad.”

Madikizela (46), wat in November as Wes-Kaapse leier herkies is, geniet glo steun van ’n groepering in die metroraad wat Plato nie goedgesind is nie en gelei word deur Grant Twigg, die burgemeesterskomiteelid vir stedelike bestuur. Plato het Twigg in Oktober as DA-voorsitter in die metro vervang.

Madikizela wou Steenhuisen in November 2019 as tussentydse DA-leier uitdaag, maar het onttrek toe dit duidelik word hy makeer steun.

Meer oor:  Geordin Hill-Lewis  |  Bonginkosi Madikizela  |  Dan Plato  |  Kaapstad  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.