
Prof. Lucky Mathebula, Andile Mngxitama, grondaktivis, Ronald Lamola, “Zuma moet gaan”-aktivis, en Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, het Woensdag deelgeneem aan ’n paneelbespreking oor staatskaping by die Tshwane Universiteit van Tegnologie se Sakeskool in Pretoria. Foto: DEAAN VIVIER
Suid-Afrikaners moet die land en die ANC met massa-optrede terugeis van die “kapers”.
Staatskaping is nie iets nuuts nie, maar die Guptas doen dit skaamteloos, sê Ronald Lamola, voormalige adjunkpresident van die ANC-jeugliga.
Hy het gister deelgeneem aan ’n paneelbespreking oor staatskaping by die Tshwane-Universiteit van Tegnologie se sakeskool in Pretoria.
“Daar is onweerlegbare bewyse deur mense wat na vore kom met inligting oor hoe die Guptas hulle poste aangebied en opdragte gegee het.”
Lamola sê die uiteindelike doel met sy aktivisme teen die Guptas is dat Suid-Afrikaners die land en die ANC moet
terugwen.
“Die mense moet weer die diktators van die samelewing word, nie die Guptas of die Ruperts nie.”
Prof. Tinyiko Maluleka, politieke ontleder van die Universiteit van Pretoria, sê Suid-Afrika is in die moeilikheid as die staat nie meer doen wat kragtens die Grondwet van hom vereis word om alle burgers se lewe te verbeter nie.
“Watter verdere bewyse vir staatskaping soek ons? Het ons nie die Gupta-vliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis sien land nie? Is Nkandla net ’n mite of bestaan dit werklik iewers op ’n heuwel? En dan het ons Mcebisi Jonas en Vytjie Mentor wat ook vorendag gekom het met hul stories.”
Volgens Maluleka stem kiesers nog, maar is hulle nie meer in beheer nie. “Kiesers se belange word ondermyn.”
’n Gekaapte staat tree presies soos die huidige regering op. “Hulle is arrogant teenoor kiesers. Hulle prioritiseer ’n oproep van Saxonwold (waar die Guptas woon) teenoor die behoeftes van gemeenskappe, wat eers protesoptogte moet hou om gehoor te word.”
Andile Mngxitama, gewese EFF-leier en grondaktivis, sê die term staatskaping is propaganda van “wit, rassistiese” kapitaliste wat steeds die Suid-Afrikaanse ekonomie beheer.
Volgens hom het Nelson Mandela toe hy president was ook nie ekonomiese besluite geneem sonder om kapitaliste soos “die Ruperts” te raadpleeg nie.
Dit is ’n feit dat “(Johann) Rupert en ander wit sakelui” ná Des van Rooyen se aanstelling as minister van finansies in Desember dringend met ANC-leiers vergader het. “Dit word egter nie staatskaping genoem nie omdat dit wit kapitaliste was.”
Maluleka sê daar kan nie aangevoer word dat die Guptas nou toegelaat moet word om die staat te kaap omdat wit kapitaliste dit vroeër gedoen het nie.
Alex Mashilo, woordvoerder van die SAKP, sê die werkersklas moet weer in beheer van die land wees.