Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Buthelezi ‘nie bewus’ prins maak aanspraak op troon

Prins Mangosuthu Buthelezi, premier van die Zoeloevolk, ontken dat hy geweet het prins Simakade Zulu, seun van die ontslape koning Goodwill Zwelithini, is ’n aanspraakmaker op die Zoeloe-troon.

Die nuwe bewering oor die troonopvolger het kop uitgesteek ondanks Buthelezi se versekering dat Zwelithini se familie die aangewese koning, Misuzulu Zulu, aanvaar het en hom sal ondersteun.

Misuzulu Zulu is Vrydagaand as die nuwe Zoeloe-koning aangewys. Foto: Argief

Spanning in die koninklike familie het tot twee hofsake gelei om die aankondiging van die troonopvolger en erfporsies uit te daag.

Prinses Londiwe Zulu, ’n senior lid van die ontslape koning se bestuurspan vir belanghebbendes, het aan die SAUK gesê senior lede van die koninklike huishouding het eenparig saamgestem dat Simakade die volgende Zoeloe-koning is.

Volgens Londiwe is Simkade nie die seun van een van die ses koninklike vroue nie, maar is hy deur die ontslape koningin Mantfombi grootgemaak.

“Ek behoort koning Simkade te salueer. Ek behoort nie na hom as ‘prins’ te verwys nie. Ander lede van die koninklike familie het hom as koning van die Zoeloevolk aangewys,” sê sy.

Sy sê ondanks die koningin se testament of hofinterdik, salueer sommige van die koninklike familie Simkade openlik omdat hy die regmatige troonopvolger is.

Buthelezi het glo aan die openbare uitsaaier gesê hy het nie geweet Simkade wedywer om koning te word nie en hy was verbaas dat hy nooit amptelik sy belangstelling uitgespreek het nie.

Buthelezi het op ’n mediakonferensie gesê Misuzulu het Zwelithini se familie se ondersteuning, maar bygevoeg dit staan diegene wat die koning vir die troon wil uitdaag, vry om dit te doen.

“Hulle kan die kwessie hof toe neem. Ek is nie gister gebore nie, elke keer as ’n nuwe koning aangewys word, is dit algemeen dat daar ander aanspraakmakers sal wees.”

Hy het gesê hy het gehoor daar is individue wat regsadvies inwin.

Misuzulu is Vrydagaand as die nuwe Zoeloe-koning aangewys, ure ná sy ma se gedenkdiens. Die aankondiging is gemaak toe die ontslape koningin se prokureur haar testament gelees het.

Swaar gewapende mans, wat vermoedelik die nuwe koning se lyfwagte is, het met hom weggery in ’n konvooi onder die wakende oog van die polisie.

Meer oor:  Zoeloe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.