Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
By kalm oor dam en hou aan praat, vra SA en AU

Suid-Afrika as die huidige voorsitter van die Afrika-Unie (AU) het Donderdag ’n beroep op Egipte, Ethiopië en Soedan gedoen om voort te gaan met gesprekke oor die omstrede Grand Ethiopian Renaissance Dam (Gerd) in die Nylrivier tussen Ethiopië en Soedan.

Dié dam, wat hidrokrag uit die Nylrivier in die noorde van Ethiopië sal opwek, is die onderwerp van ’n groot geskil tussen Egipte, Ethiopië en Soedan.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Sarel van der Walt

In die AU is daar vrese dat dié spanning tot grootskaalse konflik in die noordooste van Afrika kan lei.

Daarom hoop die organisasie die betrokke lande kan op ’n vriendskaplike wyse ’n bindende ooreenkoms bereik.

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) het ook al die geskil bespreek.

Egipte, wat bang is die Nylrivier – die langste rivier ter wêreld (6 550 km) – kan weens die dam tot 22% van sy vloei verloor, het vroeër vandeesweek gevra dat die onderhandelinge oor die dam opgeskort word.

Egipte is hoofsaaklik van dié rivier afhanklik vir sy water.

Soedan, wat bekommerd is die nuwe dam sal ’n uitwerking op sy eie Roseires-dam hê wat ook water in die Nylrivier opdam, het ook gedreig om hom aan die onderhandelinge te onttrek.

Egipte én Soedan vereis ’n nuwe ooreenkoms oor die vloeivolume van die rivier, maar Ethiopië is nie daarvoor te vinde nie.

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het in ’n verklaring namens pres. Cyril Ramaphosa, voorsitter van die AU, gesê ’n vriendskaplike ooreenkoms sal tot voordeel van al die lande wees waardeur die Nylrivier loop of aan grens.

Die Nylrivier, wat sy oorsprong suid van die ewenaar in Burundi het, loop langs of deur altesaam tien lande:

Burundi, Tanzanië, Rwanda, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kenia, Uganda, Soedan, Suid-Soedan, Ethiopië en Egipte voordat hy in die Middellandse See uitloop.

Pandor sê die onderhandelinge is tans in ’n kritieke fase. Daarom is dit belangrik dat die betrokke lande in die gees van Pan-Afrika-solidariteit en broederskap met grootmoedigheid en begrip vir mekaar se belange die onderhandelingsproses vorentoe neem. Die AU sal alle moontlike ondersteuning gee.

’n Verslag oor die jongste onderhandelinge sal moontlik oor sowat twee weke aan pres. Cyril Ramaphosa voorgelê word.

Die dam was die laaste tien jaar in aanbou en die eerste water word nou opgedam.

Buiten om Ethiopië van krag te voorsien, sal dié land ook elektrisiteit aan Khartoem verkoop.

Meer oor:  Au  |  Ethiopië  |  Egipte  |  Soedan  |  Dam  |  Water  |  Afrika  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.