Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cabo Delgado: SAOG keur ‘tegniese ontplooiing’ goed
Mosambiek se pres. Filipe Nyusi (links) gesels Donderdagoggend in Maputu met Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa (middel) en dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Presidensie

Die veiligheidsgroepering van die leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het Donderdag in Maputo besluit om ’n “onmiddellike tegniese ontplooiing” in Mosambiek goed te keur.

Die veiligheidsgroepering het in die Mosambiekse hoofstad vergader oor die verslegtende toestand in die olie- en gasryke noordelike Cabo Delgado-provinsie, waar Moslem-militante ’n skrikbewind voer.

In ’n verklaring wat ná die vergadering uitgereik is, word nie presies uiteengesit wat met ’n “tegniese ontplooiing” bedoel word nie, maar dit is bloot ’n ander term vir ’n feitesending, het Liesl Louw-Vaudran, ’n Afrika-kenner van die Instituut vir Sekerheidstudies, gesê.

“Die doel van die missie sal wees om die situasie op die grond te evalueer.”

Dié feitesending moet binne drie weke terugvoering gee op ’n buitengewone ministeriële beraad,wat vir 29 April beplan word, sê die leiers in die verklaring.

Prof. Theo Neethling, ’n politieke en militêre kenner van die Universiteit van die Vrystaat, het gesê hy hoop die SAOG gee gou meer duidelikheid hieroor.

“Wat ek wel weet, is dat ’n teeninsurgensie-operasie nodig is. Dit verg grootliks spesiale magte omdat dit nie gaan en kan neerkom op ’n konvensionele operasie of ’n multinasionale vredesteunoperasie nie.

“Wat ook belangrik is, is dat daar nie bloot na militêre oplossings op kort termyn gesoek sal word nie, maar politieke oplossings vir ’n probleem wat op politieke vlak lank verwaarloos is en minstens twee jaar gelede reeds in SAOG-verband aandag moes geniet het.”

Intussen is die lyke van 12 onthoofde mense – moontlik buitelanders – in die dorp Palma gevind wat onlangs deur die rebelle ingeval is.

Suid-Afrika is Donderdag deur pres. Cyril Ramaphosa verteenwoordig. Drie van sy kabinetslede, dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Nosiviwe Mapisa-Nqakula,

minister van verdediging en militêre veterane, en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, was ook in Maputu.

’n Seremoniële wag van die Mosambiekse weermag het pres. Cyril Ramaphosa met sy aankoms Donderdagoggend in Maputu ingewag. Foto: Presidensie

Die SAOG sê hy is baie bekommerd oor die probleme in Cabo Delgado omdat dit ’n bedreiging vir die hele Suider-Afrika inhou. Die veiligheidsgroepering het die aanvalle verwerp en die wreedheid waarmee dit gepaardgegaan het, veroordeel.

Donderdag se vergadering, waarop die leiers ingelig is oor die huidige veiligheidsituasie in Cabo Delgado, is geopen deur Mosambiek se pres. Filipe Nyusi, die huidige SAOG-voorsitter, terwyl pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana, voorsitter van die veiligheidsgroepering, pres. Lazarus Chakwera van Malawi en pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe ook op die vergadering was.

Mnangagwa sê op Twitter daar was net een doel met die vergadering: “Om ’n oplossing vir die veiligheidskrisis in Mosambiek te vind ter wille van die beskerming van ons streek. Ons sal dringend optree om tot voordeel van al ons mense vrede te verseker.”

Reuters berig dat die bevelvoerder van die plaaslike polisie joernaliste meegedeel het dat die nasionaliteit van die slagoffers in Palma nog nie bekend is nie.

Dit lyk asof slagoffers se hande agter hul rûe vasgebind is voordat hulle onthoof is. Die lyke is onder ’n mangoboom begrawe, het Club of Mozambique berig.

Omdat al die slagoffers wit is, word vermoed dat hulle buitelanders was.

Daar kon nog nie bevestig word of die lyke gevind is naby die Amarula Hotel in dié dorp, waar meer as 150 buitelanders kort ná die begin van die aanval geskuil het nie.

Talle van die vasgekeerdes is later dood toe hulle uit die hotel gevlug en in ’n hinderlaag beland het. Die Suid-Afrikaner Adrian Nel was onder die mense wat gesterf het.

Tientalle mense is in die aanvalle dood en duisende het uit die gebied gevlug.

Die Verenigde Nasies het ’n beroep gedoen op Tanzanië om nie die mense wat na dié land gevlug het te verwerp nie.

Meer oor:  Mosambiek  |  Saog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.