Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cameron weer in DA-spervuur

’n Voormalige staatsregsadviseur beskuldig oudregter Edwin Cameron van oneervolle gedrag en sê hy val terug op “sameswerings­teorieë” om sy wangedrag te probeer verskoon.

Oudregter Edwin Cameron

Adv. Johan Bruwer, wat onder presidente FW de Klerk, Nelson Mandela en Thabo Mbeki as adjunkhoofstaatsregsadviseur ge­dien het, het in Maart ’n klag by die Regterlike Dienskommissie (RDK) teen Cameron ingedien oor sy optrede tydens die saak waarin die konstitusionele hof moes beslis oor die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid. Cameron, wat beskou word as een van die land se top-regsgeleerdes, het die uitspraak in die saak, wat die universiteit gewen het, geskryf.

Bruwer het die afgelope week sy repliek op Cameron se antwoord op die klagtes teen hom by die RDK ingelewer. Hy gee in sy verklaring ’n uiteensetting van gebeure en wys onder meer daarop dat Cameron (wat uiteindelik die uitspraak ten gunste van die universiteit sou skryf) gereelde kontak met die Matierektor prof. Wim de Villiers en ander rolspelers gehad het terwyl die saak hangende was. Die eerste gesprekke het op 2 Julie, vyf weke voor die aanhoor van die saak op 8 Augustus, plaasgevind. Cameron het eers sy kollegas op die regbank agt weke later, op 29 Augustus, van die gesprekke tussen hom en die rektor, een van die partye in die saak, ingelig.

Op 17 September ontmoet Cameron en De Villiers in die geheim by ’n hotel op die O.R. Tambo-lughawe en agt dae later word hy eenparig tot kanselier verkies. Twee weke ná die verkiesing lewer hy uitspraak ten gunste van die universiteit se Engelse taalbeleid.

Cameron kap op sy beurt na die drukgroep Gelyke Kanse wat teen sy optrede kapsie gemaak het eers nadat hulle die taalsaak verloor het. Hy beskryf hulle as oneerlik en voeg by dat Bruwer se klagte so naby aan Gelyke Kanse se griewe is dat dit lyk asof Bruwer as front vir Gelyke Kanse optree.

“Die punt wat ek maak, gaan nie oor mnr. Bruwer se gesag nie, maar oor die ware aard van die saak,” sê Cameron. Hy sê hy het ten alle tye eties en korrek opgetree deur sy kollegas in te lig van die universiteit se versoek om hom beskikbaar te stel as kandidaat vir die kanselierskap.

Bruwer sê hy is nie ’n lid of ondersteuner van Gelyke Kanse nie en beskryf Cameron se bewerings in dié verband as “ ’n samesweringsteorie”.

Die appèlregter Dumisani Zondi is deur die RDK aangestel om die klag te ondersoek.

Intussen het die DA gesê hulle gaan voort met litigasie om die US te dwing om die transkripsie van getuienis wat voor oudregter Burton Fourie gedien het, bekend te maak. Dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, sê die party is met geen ander keuse gelaat nie omdat die Matie-bestuur weier om enige onderhoude, korrespondensie en ander getuienis bekend te maak wat voor Fourie gedien het.

Schreiber het op 9 Maart ’n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die universiteit ingedien waarin hy die inligting versoek het.

Die universiteit het by navraag gesê Schreiber se versoek is nie toegestaan nie “weens redes wat deur art. 44 (1) (a) van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting geregverdig is”.

Volgens hierdie artikel kan die inligtingsbeampte van ’n openbare liggaam ’n Paia-aansoek weier indien die versoek ’n mening, advies, verslag of ’n aanbeveling bevat wat verkry is met die doel om te help met die formulering van ’n beleid of om ’n besluit te neem in die uitvoering van ’n wet.

Schreiber sê die DA sal hul hof­aansoek indien sodra die howe weer ten volle geopen het ná die staat van inperking.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.