Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cele gooi wal oor vuurwapenwet nadat besware instroom

Die beoogde wysigings aan Suid-Afrika se Vuurwapenwet moenie gesien word as ’n manier om burgers te ontwapen nie.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag gesê oor die meer as 17 000 geskrewe besware wat al ontvang is sedert die beoogde­ wysigings Vrydag in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer is.

Bheki Cele Foto: SON

Die opsomming van die voorgestelde wysigings bepaal dat die behoefte om jouself te verdedig glad nie meer aangevoer kan word as rede waarom jy ’n vuurwapen wil besit nie.

Cele sê in ’n verklaring die kommentaar stroom steeds in.

Volgens Cele is die wysigings nie ligtelik gedoen nie en is baie navorsing gedoen en belanghebbendes geraadpleeg.

“Die Grondwet maak nie voorsiening vir vuurwapenbesit nie.

“Die Vuurwapenbeheerwet in sy huidige vorm bied ook nie so ’n reg aan mense nie. Om ’n vuurwapen te besit, is steeds ’n voorreg in hierdie land en daardie voorreg word deur die Vuurwapenbeheerwet moontlik gemaak,” sê Cele.

Volgens Cele sal die land se misdaadprobleem nie opgelos word deur inwoners te bewapen nie.

Volgens hom kan die blote besit van ’n vuurwapen lei tot verhoogde risiko’s – vir die vuurwapen se eienaar en vir mense in die eienaar se huishouding.

“Die voorgestelde wysiging kan dalk die verskil tussen lewe en dood vir honderde vroue beteken wat in hul eie huise in die kloue van geweldenaars leef,” sê Cele.

Intussen het adv. Christo de Koker, ’n Potchefstroomse regsgeleerde wat onder meer in vuurwapenregte spesialiseer, aan Alet van der Walt gesê die ideologie van ontwapening speel waarskynlik ’n rol in die beoogde wysigings.

De Koker meen ook dat verdraaide statistieke oor skietvoorvalle in Amerika dikwels in Suid-Afrika gebruik word om ontwapening te regverdig.

Hy sê die ideologie van ontwapening bedreig vuurwapeneienaarskap wêreldwyd. Dit is waarskynlik dat dit wel ’n groot rol in die beoogde wysigings gespeel het. In Nieu-Seeland het ’n enkele massaskietvoorval deur ’n buitelander daartoe gelei dat Nieu-Seelanders sekere van hul wapenregte verloor het.

Ontwapening in Suid-Afrika word ook dikwels deur die verdraaide statistieke oor skiet­voorvalle in Amerika regverdig, terwyl meer mense hier met skerp voorwerpe – van skroewedraaiers tot tuisgemaakte dolke en messe – as met vuurwapens vermoor word.

Volgens Gun Free South Africa (GFSA) se eie statistieke word minder as 20 uit die 58 mense wat daagliks vermoor word, doodgeskiet.

GFSA sê 3 miljoen mense in Suid-Afrika besit vuurwapens vir selfverdediging. Dit is dié mense wat nou hul regte sal moet prysgee of misdadigers gaan word.

De Koker sê die feit dat vuurwapenregte nie deur die Grondwet erken word nie, kan ’n groot bedreiging vir vuurwapeneienaars in Suid-Afrika inhou.

Die voorgestelde wysiging kan dalk die verskil tussen lewe en dood vir honderde vroue beteken wat in hul eie huise in die kloue van geweldenaars leef.

Die konstitusionele hof het in 2018 in ’n hofuitspraak gesê vuurwapeneienaarskap is nie ’n grondwetlike reg nie, maar ’n voorreg wat deur die wet beheer word.

Hy sal wil sien dat die konstitusionele hof vuurwapeneienaarskap erken, maar dat individue om sekere redes, soos misdadige optrede, onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit.

Hy meen net ’n hof moet iemand van so ’n reg kan ontneem.

De Koker sê regslui bestudeer tans die wetsontwerp en dat van die wysigings beslis met die gemene reg en Romeins-Hollandse reg se beginsels bots.

Hy sê die chaos waarin die sentrale vuurwapenregister gedompel is, speel moontlik ook ’n rol in die wetsontwerp.

Cele wil dalk op dié manier ontslae raak van ’n reuseprobleem wat deur swak bestuur en administrasie geskep is. 

Meer oor:  Bheki Cele  |  Vuurwapenwet  |  Wapenlisensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.