Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cele in die spervuur ná dreigemente teen boere

Bheki Cele, minister van polisie, is in die spervuur ná sy uitlating dat plaasmoorde nie tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar moet word nie en sy dreigemente teenoor boere op ’n imbizo (volksvergadering) Maandag in KwaZulu-Natal.

Die imbizo tussen die polisie en boere in Normandien naby Newcastle is gehou om die veiligheidsprobleme in die gebied te bespreek ná die moord op Glen (63) en Vida Rafferty (60) drie weke gelede.

Roland Collyer, ’n familielid van die egpaar en die voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het vroeër aan Netwerk24 gesê dit het gou duidelik geword dat ’n deel van die gemeenskap ander planne gehad het toe hulle opgedaag en die kommersiële boere verskreeu en beledig het.

Bheki Cele, minister van polisie.

Hy sê Cele het ook na die imbizo gekom om die boere uit te trap. Hy het petrol op die vuur gegooi in ’n gemeenskap waar grondkwessies al jare lank groot wrywing veroorsaak.

Ou sake wat al in die hof gedraai en afgehandel is, is opgediep.

Cele het Dinsdagmiddag op 'n mediakonferensie in Pretoria oor die Covid-19-inperkings egter ontken hy het hom teen die verklaring van plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad uitgespreek .

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het Cele daarvan beskuldig dat hy hom skuldig maak aan aanhitsing tot geweld teen boere. Die minister nie respek vir die reg nie en hy ondermyn regspraak.

“Dit is hoogs onaanvaarbaar dat die minister ná klagtes van die gemeenskap sê hy sal ’n saak teen ’n boer laat heropen nadat die saak reeds in ’n hof gedien en die boer onskuldig bevind is aan die bewerings teen hom.

“Die VF Plus vra wie is die minister van polisie om te besluit ’n saak wat afgehandel is, mag heropen word. Dit sou beteken Suid-Afrika word ’n polisiestaat, wat totaal onaanvaarbaar is,” sê Groenewald.

Tommy Esterhuyse, landelike veiligheidshoof van Agri SA, het by navraag gesê hy wil nie kommentaar lewer oor wat by Normandien gebeur het nie omdat hy nie self by die vergadering was nie.

Dit is hoogs onaanvaarbaar dat die minister ná klagtes van die gemeenskap sê hy sal ’n saak teen ’n boer laat heropen nadat die saak reeds in ’n hof gedien en die boer onskuldig bevind is aan die bewerings teen hom.

Sy terugvoering is wel dat dit ’n baie goeie vergadering was, al is daar “na beide kante toe” beskuldigings rondgeslinger.

“Dit is jammer dat die hele ding nou in ’n politieke rigting gedraai het. Dit is nie gesond en bevorderlik vir samewerking (tussen die polisie en boere) in landelike gebiede nie.”

Hy sê ’n opvolgbesoek van Cele word vir oor drie weke beplan.

Cele se uitlatings volg nadat pres. Cyril Ramaphosa, adj.pres. David Mabuza en Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, plaasaanvalle- en moorde vroeër veroordeel en Cele self aangekondig het dat gespesialiseerde eenhede op die been gebring sal word om plaasmoorde te beveg.

Die landbou-organisasie Saai sê Cele se uitbarsting skep verdere beleidsonsekerheid en skeptisisme onder sowel plaaslike grondeienaars en wêreldwyd onder handelsvennote en beleggers wat vrees dat ad hoc-grondbesettings eerder as grondwetwysigings – soos wat in Zimbabwe gebeur het – die sneller tot ekonomiese inploffing sal wees.

Dit is jammer dat die hele ding nou in ’n politieke rigting gedraai het. Dit is nie gesond en bevorderlik vir samewerking (tussen die polisie en boere) in landelike gebiede nie.

Dianne Kohler Barnard, DA-woordvoerder oor staatsveiligheid, sê tipies van Cele het hy net ’n maand nadat hy in antwoord op ’n parlementêre vraag van haar gesê het aanvalle op plase en kleinhoewes ís ’n prioriteitsmisdaad, sing hy nou ’n ander deuntjie.

Sy sê Cele het destyds nie geaarsel om transitorooftogte tot ’n prioriteitsmisdaad te verklaar en oplossings te vind om geldwaens te beskerm nie.

Kohler Barnard sê Cele het die hoop dat die ANC omgee vir menselewens in landelike gebiede laat vervaag en die mense hier woedend en wanhopig gemaak.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê die bewering dat dié misdaadverskynsel nie geprioritiseer kan word nie omdat dit bloot ’n verskyningsvorm van ander misdade is, is irrasioneel omdat álle prioriteitsmisdade verskyningsvorme van ander misdade is.

“Feit is: Plaasmoorde is ’n unieke misdaadverskynsel wat unieke gevolge vir die samelewing as geheel inhou. Dit op sigself is genoeg gronde om dit te prioritiseer.”

Henry Geldenhuys, nuwe president van TLU SA, sê vir Cele gaan dit blykbaar oor die semantiek en nie die beskerming van menselewens nie.

TLU SA eis dat die minister dringend duidelikheid gee oor of plaasaanvalle en -moorde die aandag ontvang wat dit dringend nodig het.

“Selfs al het dit volgens hom nie meer die status van ’n nasionale prioriteitsmisdaad nie,” sê Geldenhuys.

Esterhuyse wys daarop dat plaasmoorde in 1998 al deur oudpres. Nelson Mandela tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar is, maar dit is nooit toegepas nie.

“Daaroor is ek bekommerd,” sê hy.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Kwazulu-Natal  |  Plaasmoorde  |  Boere  |  Dreigemente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.