Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cele in PMB: ‘Ons moet baie versigtig wees’

’n Gespanne stemming het Maandag met ’n hoë polisie- en weermag-sigbaarheid in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal geheers.

“Ons is nog nie buite gevaar nie en moet steeds baie, baie versigtig wees,” het Bheki Cele, minister van polisie, met sy besoek aan die stad gewaarsku.

’n Weermaglid op patrollie in die sentrale sakegebied van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal. Die weermag en polisie is oral in die stad ontplooi. Foto: Isabel Venter

Hy het die Liberty Midlands Mall besoek, wat Maandag weer vir die eerste keer ná die vorige week se plundertogte oop was. Die doel van sy besoek was om te kyk hoe wetstoepassers reg en orde toepas en handhaaf.

Minstens twee ratels van die weermag het voor die hooggeregshof gestaan. ’n Groot groep weermag- en polisielede het die hof bewaak, waar oudpres. Jacob Zuma en die wapenvervaardiger Thales se saak oor beweerde bedrog in die destydse wapentransaksie aangehoor word.

In dié virtuele hofsitting het Zuma se regspan uitstel gevra vir die spesiale aansoek dat adv. Billy Downer SC as staatsaanklaer verwyder word. Hulle voer aan dat dit onregmatig is dat die saak virtueel aangehoor word en dat Zuma nie in lewende lywe kan verskyn nie.

Uitspraak in dié aansoek word Dinsdag gelewer.

Maandag was nog heelparty ondernemings in Pietermaritzburg se Kerkstraat gesluit. In die afgebrande persele kon mense gesien word wat skroot bymekaarmaak. Foto: Isabel Venter
Om die hooggeregshof het daar Maandagoggend ’n gespanne stilte en atmosfeer geheers. Verder af in die straat het mense hul geplunderde winkels opgeruim. In die sentrale sakegebied het verskeie mense in die geplunderde geboue se rommel en in ander afgebrande winkels vir afval-skrootmetaal rondgekrap. Foto: Isabel Venter
’n Weermaglid bewaak Maandagoggend die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Isabel Venter

Indien die hof sou instem dat Zuma fisiek in die hof kan verskyn, sal ander reëlings getref moet word, aldus Cele.

“Ons moet ons oor op die grond hou. Baie is nog aan die gebeur. Soos nou – daar moet nog oor Zuma besluit word.”

Die meeste winkels om die hof, wat nie geplunder is nie, was Maandag nog gesluit.

Mense het in Kerkstraat voor die kantoor van binnelandse sake in ’n tou gestaan. Hulle het aan Netwerk24 gesê hulle lewe in vrees en wil nie in die media geïdentifiseer word nie.

Die polisie en die weermag het elders in Pietermaritzburg heeldag patrollie gery.

Desmond Heunis, algemene bestuurder van die Liberty-inkopiesentrum, het Maandag gesê danksy die gemeenskap se samewerking met al die veiligheidsmagte kon hulle te midde van die geweld staande bly.

Mense was veral angstig om noodsaaklike kruideniersware en medisyne te koop, het Heunis gesê.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Kwazulu-Natal  |  Pietermaritzburg  |  Kzn-Herstel  |  Plundery  |  Zuma-Geweld  |  Plundery En Geweld  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.