Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cele lig sluier oor polisieplanne

Die polisie se bende-eenheid wat in November verlede jaar in Hanover Park op die Kaapse Vlakte bekend gestel is, gaan nasionaal uitgebrei word.

So het Bheki Cele, minister van polisie, die afgelope week tydens sy spreekbeurt in die staatsrede-debat gesê.

Cele het gesê dit is om te verseker dat die bende-eenheid se mandaat na ander misdrywe in gemeenskappe uitgebrei word.

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Jaco Marais

Die aankondiging van Cele kom twee weke nadat vyf lede van die Wes-Kaapse bende-eenheid in Sweet Home Farm, Samora Machel, buite Kaapstad in ’n aanval gewond en ’n sesde lid sy knie beseer het.

Cele het gesê die polisie wil met die uitbrei van die eenheid op ’n nasionale vlak regstreeks aandag gee aan bendegeweld. Ook ander spesialis-eenhede sal bekend gestel word.

Die bende-eenheid se mandaat sal nie net bendegeweld wees nie, maar hy sal ook fokus op moord, verkragting, voertuigkapings, huisrowe, huisinbrake en transitorooftogte. “Dit is almal misdrywe wat ons gemeenskappe terroriseer,” sê Cele gesê.

In die nuwe bedeling sal die polisiebenadering ooreenstem met nuwe misdaadpatrone en ekonomiese misdade bekamp, die sukkelende vragmotorbedryf stabiliseer en die onwettige mynbedryf takel.

Die gespesialiseerde fokus sal volgens Cele uitgebrei word om gespesialiseerde taakspanne wat fokus op politieke en hoëprofielmoorde, asook polisie- en taximoorde en ander hoëprofielsake, te ondersteun.

Hy sê die 72-uur-aksieplan van die polisie bou momentum op. Die aksieplan is die oggend van 12 Junie ná die aanval op die Wes-Kaapse bende-eenheidlede in werking gestel. Die polisie het toe daarin geslaag om binne die eerste 24 uur een van die vermeende aanvallers in die Paarl-hospitaal aan te keer.

Volgens Cele is die plan opgestel om seker te maak dat die maksimum hulpbronne gebruik word sodat voorlopige ondersoek deeglik gedoen word, sodat geen bewysstukke verlore gaan nie en oortreders vinnig aangekeer word.

Hy het gesê die sukses van die 72-uur-aksieplan kan veral gesien word in die afname in transitorooftogte.

’n Nuwe akademie waar nuwe speurders en speurders wat in sekere velde spesialiseer verder opgelei word, gaan ook die lig sien.

Volgens Cele is daar reeds planne om die speurders verder op te lei en om seker maak dat hulle die nodige hulpbronne het.

Cele wil ook hê daar moet beter samewerking tussen staatsaanklaers en speurders wees sodat daar groter sukses in die vervolging van prioriteitsake kan wees.

Die skep van howe wat spesialiseer gaan bespoedig word ten einde die strafregstelsel doeltreffender te maak.

Volgens die minister is die Valke ook hard besig om na ekonomiese misdrywe te kyk en die inhegtenisneming van ’n hele aantal mense getuig hiervan.

“Tot op datum is 1 800 dossiere aan die nasionale vervolgingsgesag voorgelê vir hulle om ’n besluit te neem.”

Die aanstelling van ’n nuwe hoof vir die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat is aan die gang en die deurlopende verslae van polisiekorrupsie kry aandag.

Cele se woordvoerder, Reneilwe Serero, het Donderdag gesê die minister sal in sy begrotingstoespraak meer oor die uitbreiding van die bende-eenheid op ’n nasionale vlak uitwei, sowel as oor die nuwe akademie vir speurders se opleiding.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Kaapse Vlakte  |  Bende-Eenheid  |  Staatsrede-Debat  |  Planne  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.