Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cele oor Nkandla: ‘Ons wou 2de Marikana vermy’

Die polisie het nie oor die naweek in Nkandla in KwaZulu-Natal opgetree waar die inperkingsregulasies oortree is nie om bloedvergieting te voorkom.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Maandag op vrae van die media in Soweto gesê waar die Covid-19-inentings van werknemers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) begin het.

Honderde ondersteuners het sedert Woensdag by Nkandla begin saamdrom nadat die konstitusionele hof ’n vonnis van 15 maande tronkstraf aan oudpres. Jacob Zuma opgelê het.

Dit het ’n klimaks bereik toe Zuma Sondagaand joernaliste en sy ondersteuners op ’n verhoog toegespreek het.

Volgens Cele het die polisie inligting ontvang dat 100 van die ondersteuners vuurwapens gehad het, en wou die polisie verhoed dat ’n situasie ontaard waar “vroue en kinders” doodgeskiet word.

ANC-ondersteuners wat Sondag by Nkandla opgedaag het om hul steun aan oudpres. Jacob Zuma te wys. Foto: Lulama Zenzile

Hy sê hierdie mense het skote in die lug afgevuur en die polisie uitgelok.

“Ons het inligting ontvang dat 100 mense vuurwapens gehad het en dat hulle op die polisie wou skiet. As dit sou gebeur, sou die polisie moes reageer. Koeëls het nie oë nie en vroue en kinders kon raakgeskiet word,” het Cele gesê.

Hy sê daar was oor die naweek sowat 200 polisielede in Nkandla, insluitend lede van die spesiale magte.

Volgens hom het die polisie lesse geleer uit die Marikana-slagting in 2012 toe 32 mynwerkers deur die polisie afgemaai is. Cele meen ’n soortgelyke voorval kon plaasvind as die polisie roekeloos opgetree het.

Cele sê daar was omtrent 20 polisiekameras op die toneel en dat mense in verband met die byeenkoms in hegtenis geneem kan word. Bykomende speurders is na KwaZulu-Natal ontplooi.

Ingevolge Dinsdag se bevel van die konstitusionele hof het die vyf dae verstryk vir Zuma om vir sy vonnis van 15 maande aan te meld. Cele is drie dae kans gegee om te verseker dat Zuma in hegtenis geneem word, sou hy homself nie aanmeld nie.

Joernaliste en ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma drom saam voor die verhoog waar Zuma hulle Sondagaand toegespreek het. Foto: Mlungisi Louw

Cele sê die polisie hou eers die situasie dop omdat hy ingevolge die hofbevel tot Woensdag om middernag kans het om die hofbevel uit te voer.

Intussen het die konstitusionele hof egter ’n aansoek van Zuma se regspan aanvaar om op 12 Julie ’n saak aan te hoor oor waarom hy nie tronk toe moet gaan nie.

Hy het ook ’n aansoek by die hooggeregshof in Pietermaritzburg laat indien om die lasbrief vir sy inhegtenisneming te laat opskort, hangend die bogenoemde hofsaak.

Volgens Cele wag hulle op groter duidelikheid weens die nuwe verwikkelinge.

Meer oor:  Nkandla  |  Demokrasie  |  Zuma-Vonnis  |  Partypolitiek  |  Politiek  |  Polisie  |  Vlak 3  |  Bheki Cele  |  Inperkingsmaatreëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.