Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cele wil Senekal-spanning ontlont: ‘Ons voel almal se pyn’

Hy sal met politieke leiers soos Julius Malema, EFF-leier, en dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, asook met landbouleiers, in gesprek tree om die spanning te ontlont voordat die beskuldigdes in die moord op die 21-jarige Brendin Horner volgende Vrydag weer op Senekal in die Vrystaat in die hof verskyn.

So het Bheki Cele, minister van polisie, Vrydagoggend in ’n uur lange aanlyn onderhoud met Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, gesê.

Chaos en hoogspanning het vandeesweek op Senekal in die Oos-Vrystaat geheers nadat ’n groep boere Dinsdag by die hofgebou ingestorm het op soek na Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44), wat teregstaan vir Horner se moord.

Malema het daarna ’n beroep op die EFF se “grondmagte” en “vredeliewende Suid-Afrikaners” gedoen om volgende Vrydag met die volgende hofverskyning van die twee vermeende moordenaars “demokrasie en eiendom te beskerm”.

Julius twiet, senekal

Cele het gesê “ons voel almal pyn, ons kort nie nóg nie”.

Hy is bekommerd daaroor dat uitsprake van politieke leiers bydra tot die spanning.

Dié spanning moet op leierskapvlak ontlont word, nie net op parlementêre vlak nie, maar ook deur alle ander leiers. “Ek dink dis die weg om te volg. Voor Vrydag sal daar baie gepraat moet word, onder meer met die leierskap van die boerderygemeenskap.”

Hy vergader Saterdag met die polisie oor die saak, sê Cele.

‘Daar sal dié week baie gepraat moet word’

“Ek het ook al met dr. Groenewald gepraat en ek sal ook met Julius (Malema) praat.

“As die staat is dit ons verantwoordelikheid om almal te beskerm, maar ons sal eers die spanning wat hoog loop, moet probeer ontlont.”

Hy sê dit is belangrik dat Malema en Groenewald met mekaar praat, al sal dit nie vir hulle maklik wees om saam te stem nie.

“Mense is mense en ’n mens sal verbaas wees oor wat kan gebeur as hulle met mekaar praat,” het die minister gesê.

Thandi Modise, speaker in die Nasionale Vergadering (NV), het Donderdag ’n beroep op parlementslede gedoen om die toenemende rassespanning in die land te ontlont.

Cele sê hy sal ook wil sien dat landbou-organisasies ’n beroep op vrede doen. Hy is teleurgesteld dat hulle dit nog nie gedoen het nie. Tot nou toe sê hulle net hulle sal daar wees, maar “dit help nie”.

Die minister het die koelbloedige moord op Horner ten sterkste veroordeel en gesê hy het ’n afspraak om Horner se familie te gaan sien.

“Dit is my plig om hulle te gaan sien. Ek het nie die woorde om die wreedheid van die moord te beskryf nie.”

Cele sê dit is jammer dat die konstruktiewe vergadering wat genl. Khehla Sitole, kommissaris van polisie, met die georganiseerde landbou gehad het, deur die gebeure in Senekal ontsier is.

Betogers bid Dinsdag waar hulle in Senekal in die Oos-Vrystaat byeengekom het vir die hofverskyning van die twee verdagtes in die moord op Brendin Horner. Later sou chaos uitbreek toe 'n groep boere die hofgebou bestorm het. Foto: Mlungisi Louw
‘Stadige pas van grondhervorming dra by tot spanning’

Die minister sê daar is by hom geen twyfel nie dat die stadige pas waarteen grondhervorming plaasvind, bydra tot die spanning in plaasgemeenskappe.

Die onsekerheid wat daarmee gepaardgaan, dra baie by daartoe.

Dit is waarom hy met landelike gemeenskappe in gesprek tree.

Cele het die versekering gegee plaasaanvalle en -moorde word in 'n baie ernstige lig gesien deur die regering en die polisie.

Plaasmoorde en -aanvalle is soos onder meer huisrooftogte en transitorooftogte, sogenaamde “vrees-misdaad” wat almal as “ernstige misdaad” sien en daarom spesiale aandag geniet en as ’n prioriteit beskou word.

Hy is ten gunste daarvan dat ’n omvattende ondersoek gedoen word om te bepaal wat agter die plaasaanvalle en -moorde sit.

Rassespanning kan nie ontken word nie.

In sy gesprekke met mense in die gemeenskappe het dit geblyk dat uitsettings, die kwessie van vee en verhoudinge tussen boere en hul werkers onder meer ’n rol speel in misdaad.

“In sommige gevalle is wraak ’n rede vir die aanvalle.”

Cele ontken dat die polisie niks doen om die veiligheid van boere te verseker nie.

“Daar is geen regverdiging vir plaasaanvalle nie. Dit is belangrik dat die boerderygemeenskap in vrede en veiligheid hul werk doen omdat hulle die land moet voed,” sê Cele.

Bheki Cele, minister van polisie.
‘Ek het dít nie gesê’

Die minister het opnuut ontken dat hy onlangs op ’n imbizo tussen die polisie en die boerderygemeenskap op Normandien naby Newcastle in KwaZulu-Natal gesê het hulle moet nie “huil wanneer julle seerkry nie”. Sy aanhaling in Zoeloe is verkeerd vertolk, sê hy.

Dié imbizo is gehou om die veiligheidsprobleme in die gebied te bespreek ná die onlangse moord op Glen (63) en Vida Rafferty (60).

Die minister het ontken hy het op die vergadering kant gekies teen die boere. Hy was wel ontevrede omdat hy gevoel het soos ’n skoolseun wat deur die skoolhoof aangespreek word.

“Dit was oor die algemeen ’n baie goeie vergadering en ons het baie dinge bespreek. Dit is waarom ek ’n opvolgbesoek aan Normandien sal bring.”

Van die boere het hommeltuie en voertuie vir die polisie aangebied om die gebied te patrolleer.

AgriSA het vroeër ook gesê sy terugvoer was dat dit ’n goeie vergadering was ondanks die feit dat beskuldigings oor en weer geslinger is.

• Oor die onlangse sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear (52), die Kaapstadse polisieman wat voor sy huis in Bishop Lavis vermoor is te midde van sy hoëvlak-ondersoek teen ’n sindikaat wat glo verantwoordelik is vir die onwettige uitreiking van vuurwapenlisensies, het Cele gesê hy wag nog op ’n volledige verslag oor waarom beskerming vir Kinnear deur die polisie onttrek is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.