Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Chaos breek uit in DA-koukus oor De Lille

DA-koukuslede in die Kaapse metro het mekaar behoorlik die hare ingevlieg nadat die DA-leierskap Donderdagoggend opdrag gegee het dat geen verdere mosies van wantroue teen Patricia de Lille, die DA-burgemeester, gebring sal word nie.

DA-koukuslede is glo ingelig dat ’n ooreenkoms bereik is dat De Lille haarself aan die party se dissiplinêre prosesse sal onderwerp, in plaas van ’n mosie van wantroue.

James Selfe, voorsitter van die DA se uitvoerende federale raad, het kort voordat die stad se raadsvergadering moes begin die besluit aan raadslede in ’n koukusvergadering oorgedra.

“Die boodskap is nie goed ontvang nie. Daar was ’n geskreeu op mekaar en verskeie raadslede het hul ontevredenheid uitgespreek,” het van die raadslede kort ná die vergadering gesê.

Patricia de Lille, DA-burgemeester, spreek die raadsvergadering in Kaapstad toe. Foto: Willem Law
James Selfe, voorsitter van die DA se uitvoerende federale raad, ná afloop van die DA-koukusvergadering in Kaapstad.Foto: Willem Law

Van die raadslede wat hulle gereed gemaak het om met die mosie voort te gaan, was so erg ontsteld dat daar selfs op Selfe geskreeu is.

“Een ding is seker, hier kom moeilikheid. Die bakleiery gaan nie einde kry nie en die verdeeldheid gaan hand uitruk,” het nog ’n raadslid gesê.

Die DA het nog nie die besluit dat die mosie teruggetrek moet word, bevestig nie.

Selfe wou nie na die vergadering kommentaar lewer nie.

De Lille het net gesê dat sy later ’n verklaring sal uitreik terwyl sy haar na die raadsvergadering gehaas het.

Ingeligte bronne in die DA het egter bevestig dat die DA en De Lille ’n ooreenkoms bereik het dat die party nie verdere mosies van wantroue teen haar sal indien nie.

Verskeie DA-koukuslede, wat anoniem wou bly, het ook bevestig dat daar ooreengekom is dat die DA se dissiplinêre prosesse teen De Lille binnekort sal voortgaan.

Die raadsvergadering het afgeskop met ANC-raadslede wat die burgemeester met oorverdowende applous verwelkom het toe sy agter die podium gaan staan het.

Xolani Sotashe, ANC-leier in die stadsraad, het gesê: “Speaker, die ANC gaan nie vandag uit die raadsvergadering loop nie sodat ons die burgemeester kan beskerm teen die wit liberale mense wat hier sit.”

Dit is nie duidelik of die mosie wel ingedien sal word nie, maar ’n mediakonferensie word glo vir 14:00 beplan.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  James Selfe  |  Da-Koukus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.