SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Politiek
Chaos, gevegte op Mangaung-raadsvergadering
'n Vroulike veiligheidsbeampte probeer Paulnita Marais, raadslid van die EFF, met geweld uit die Mangaung-raad verwyder deur haar voor aan haar klere te gryp. Marais se hemp is in die proses voor oopgeskeur. Die EFF-raadslid Vicky Motlaung (met die wit) het probeer keer.Foto: Marietjie Gericke

’n Chaotiese raadsvergadering van die Mangaung-metro in Bloemfontein het Donderdagmiddag so ontaard dat die speaker, Mxolisi Siyonzana, (ANC), die munisipaliteit se veiligheidsbeamptes ingeroep het om die EFF-raadslede te verwyder.

Verwoede gevegte het toe tussen vroulike raadslede van die EFF en die veiligheidsbeamptes uitgebreek.

“Hulle is reg om ons te m**r,” het een EFF-raadslid geskree.

Die EFF-raadslede is verwyder nadat hulle vir langer as twee uur die vergadering ontwrig het deur heeltyd met Siyonzana te stry.

Die twispunt was die mosie wat die EFF in Augustus teen die burgemeester, Olly Mlamleli, ingestel het om haar uit haar amp te verwyder.

Die EFF wou toe hê die stemmery moes met ’n geslote stembrief plaasvind, wat nie toegelaat is nie. Die EFF wou die saak nou weer op die agenda plaas, maar het nie 48 uur vooraf kennis hiervoor gegee nie, het Siyonzana ná die ontwrigte vergadering aan Netwerk24 gesê.

Baba Sebolao van die EFF sê egter Siyonzana het op die laaste raadsvergadering beloof daardie punt sou inderdaad op die agenda wees.

’n Hewige geveg het Donderdag veral tussen twee vroue uitgebreek. ’n Vroulike beampte en Paulnita Marais, EFF-raadslid, het mekaar letterlik heen en weer gepluk. Die wag het Marais se klere voor oopgeskeur.

EFF-raadslede tart die speaker uit, terwyl veiligheidsbeamptes van die Mangaung-metro, in groen uniform, hulle uit die raad verwyder. Die raadslede is Tsholo Ranchobe (links) en Tumo Mapitsi.Foto: Marietjie Gericke

Ander raadslede het deurentyd die gevegte met hulle selfone afgeneem en gelag. Die EFF-raadslede het uiteindelik almal uit die saal gestap, begelei deur die veiligheidsbeamptes.

Die vergadering moes reeds vroeër vir tien minute verdaag word sodat Siyonzana met die EFF kon praat.

Die chaos het hierna voortgeduur toe Dave McKay, DA-raadslid, ’n huldeblyk aan wyle oudminister Pik Botha voorgelees het.

Ná sy huldeblyk het die ANC-raadslid David Pongola geskree: “En hy (Botha) het ook vir Samora Machel vermoor!”

Terwyl Siyonzana heeltyd met sy hamertjie moes kap om die raad tot orde te roep, het Hans Britz, DA-raadslid, ’n fluitjie skril geblaas.

Die DA het in ’n stadium met plastiekwaterbottels op die tafels gekap en vir Siyonzana gesê hy moet ’n reëling tref omdat die een ANC-raadslid net Sotho gepraat het. Daar is nie vertaaldienste nie.

Die DA-raadslid Dulandi Leech het gesê “dis my grondwetlike reg om vertaaldienste te mag hê”.

Mlamleli het daarop aangedring om ’n gedig, “Muskietejag” van A.D. Keet, in Afrikaans op te sê. “Jou vabond, wag ek sal jou kry, van jou sal net ’n bloedkol bly . . .” het sy voorgedra.

Die DA en die VF Plus het later ook uit die vergadering gestap.

Siyonzana het toe die vergadering verdaag.

* Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, raadslid van die VF Plus, het ná die tyd gesê dit was “ ’n sirkus” en die EFF se wetteloosheid is minagting van raadsreëls.

Hardie Viviers, DA-koukusleier, het gesê Siyonzana het nie die vermoë om die huis in orde te kry nie.

Leech het gesê dit wat binne die raad gebeur, word buite in die strate weerspieël.

Meer oor:  Mangaung  |  Gevegte  |  Raadsvergadering  |  Anc  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.