Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril ontken kandidate vir NVG-toppos

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagmiddag in 'n verklaring ontken dat daar 'n kortlys van name is vir die pos as nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV).

News24 het vroeër die dag berig dat die hoofaanklaer in Gauteng en ’n DA-LP  van die kandidate op die lys is vir die pos as nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV).

News24 het betroubaar verneem dat adv. Andrew Chauke, die direkteur van openbare vervolgings in Suid-Gauteng, en die voormalige staatsaanklaer adv. Glynnis Breytenbach albei in aanmerking gaan kom vir dié pos by die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Name wat nog nie bevestig is nie, sluit twee afgetrede regters, adv. Andrea Johnson, wat adv. Gerrie Nel se mede-aanklaer was in die staat se saak teen Oscar Pistorius, en adv. Rodney de Kock, die direkteur van openbare vervolgings in die Wes-Kaap, in.

’n Raadgewende paneel, wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is, met Jeff Radebe, minister van energie, as die hoof, dryf die proses om die NDOV aan te wys.

Die onderhoude het Maandag begin en moet teen 23 November klaar wees.

Volgens die presidensie sal die onderhoude met die kandidate nie in die openbaar plaasvind nie en die name van die drie finale kandidate sal na die president gestuur word. Ramaphosa sal dan volgens sy eie diskresie besluit wie die volgende NDOV word.

Die paneel sal sy werk voltooi in oorleg met die spertyd wat deur die konstitusionele hof bepaal is vir die aanstelling van die nuwe NVG-hoof.

Die hof het Ramaphosa op 13 Augustus 90 dae gegee om ’n aanstelling te maak nadat hy bevind het dat die aanstelling van adv. Shaun Abrahams, vorige NDOV, ongrondwetlik en ongeldig was.

Breytenbach en Chauke het nog nie bevestig dat hul name wel op die lys is nie.

In sommige regskringe is daar kommer uitgespreek oor die moontlike aanstelling van Chauke omdat hy in 2012 besluit het om moord en verwante aanklagte teen Richard Mdluli, hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, terug te trek.

Die aanklagte teen Mdluli het gespruit uit die moord op Oupa Ramogibe in 1999. Chauke het later besluit om aanklagte teen Mdluli weer in te stel, maar in plaas van moord sou die aanklagte ontvoering, intimidasie en aanranding wees.

Die Mdluli-saak het verdeling in die NVG teweeggebring. Daar is ook bewerings dat Chauke, toe hy aan die stuur van die spesialiseenheid vir kommersiële misdade was, met kontant en ’n stel gholfstokke omgekoop is om ’n lasbrief uit te reik vir die inhegtenisneming van een van Brett Kebble se vyande in die sakewêreld. Dié bewerings is nooit in die hof getoets nie. Kebble, ’n mynmagnaat en vermeende misdaadbaas, is in 2005 vermoor.

Later het Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, op ’n vraag van die DA in die parlement gesê dat Chauke nie geskenke van Kebble ontvang het en hom nog nooit ontmoet het nie. Breytenbach, voorheen lid van die spesialiseenheid vir kommersiële misdade, het al met hoëprofielsake te doen gehad. Sy is deur die NVG geskors vir haar hantering van ’n saak oor mynregte waarby Imperial Crown Trading en Kumba Iron Ore betrokke was. Sy het egter volgehou dat sy uit die organisasie is omdat sy Mdluli van korrupsie en bedrog wou aankla.

Breytenbach hou vol dat Nomgcobo Jiba, geskorste adjunkhoof van die NVG, en die senior aanklaer Lawrence Mrwebi agter haar skorsing sit. Breytenbach het die NVG verlaat en by die DA aangesluit nadat sy op alle aanklagte teen haar vrygespreek is. Sy het later ’n DA-LP geword.

Sou Breytenbach as die nuwe NDOV aangestel word, sou dit as problematies gesien word weens die aard van haar skorsing. Sy word egter as uiters bevoeg beskou.

Meer oor:  Glynnis Breytenbach  |  Nvg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.