Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
China ‘diskrimineer nie teen Afrika-broers en -susters’

China ontken dat hy sy “Afrika-broers en -susters” swak behandel en teen hulle diskrimineer.

Dié ontkenning kom nadat China se departement van buitelandse sake samesprekings gevoer het met die ambassadeurs van meer as 20 Afrikalande oor gevalle van beweerde vreemdelinghaat in Guangdong wat te midde van die Covid-19-pandemie voorkom.

Die verteenwoordigers uit Afrika was omgekrap nadat video’s verlede week op sosiale media versprei is van Nigeriese burgers wat uit hul hotelle en woonstelle in die dorp Guangzhou in die Guangdong-provinsie geskop is.

Gedurende die naweek se samesprekings het Chen Xiaodong, adjunkminister van buitelandse sake, gesê die gebeure in Guangzhou sal ondersoek word.

“Die owerhede in Guangdong doen ’n aantal stappe om hul optrede te verbeter. Gesondheidsmaatreëls sal toegepas word sonder dat onderskeid tussen burgers en buitelanders getref word,” het Xiaodong gesê.

“In China maak ons altyd seker dat ons vriende uit Afrika op ’n billike, regverdige en vriendelike manier behandel word. Die departement  sal in kontak met Guangdong bly om die probleme op te los.”

Vrees vir Covid-19-gevalle van buite

Die probleme spruit meestal uit vrese dat buitelanders die virus weer die land kan inbring, al geld streng reisbeperkings steeds in die land.

Volgens China se nasionale gesondheidskommissie is tot 13 April altesaam 1 464 sulke gevalle landwyd aangemeld.

Pang Xinghuo, adjunkdirekteur van Beijing se sentrum vir siektebeheer-en-voorkoming, meen ook die risiko is groot dat die virus weer in China kan versprei omdat dit van buite die land ingebring word.

“China verkeer steeds onder aansienlike druk om dié gevalle te voorkom,” sê Pang.

In die afgelope week was daar ’n toename in hierdie gevalle in die provinsie Heilongjiang, Sentraal-Mongolië en Sjanghai, met die meerderheid wat uit Rusland afkomstig was.

kwarantyn
Die gesondheidsowerhede in Guangzhou het dié maskers en koorspen aan ’n Suid-Afrikaner gegee sodat hy sy gesondheid kan monitor terwyl hy in verpligte kwarantyn is. Foto: Verskaf
Suid-Afrikaner in Guangzhou: Ek is in verpligte kwarantyn

’n Suid-Afrikaner wat die afgelope jaar en ’n half in Guangzhou woon, het dié week gesê hy is vroeg in April deur die plaaslike owerhede gekontak en in verpligte kwarantyn geplaas. Hy het gevra om anoniem te bly uit vrees dat hy sy werk kan verloor.

Guangzhou was van 27 Januarie tot einde Februarie in ’n staat van inperking. Die inwoners kon aan die begin van Maart weer buite rondbeweeg “en dinge het tot normaal teruggekeer”.

Soos meer gevalle bekend geword het van mense van buite wat die virus ingebring het, het dinge egter verander, sê die onderwyser.

Op 5 April het hy kennisgewing gekry van sy verhuurder dat hy ’n verpligte koronatoets moet ondergaan, “want die regering het so gesê”.

Ná die toets kon hy in sy woonstel aanbly, maar ’n veiligheidskamera is aangebring om seker te maak dat hy nie die huis verlaat nie.

Die man moet ook twee keer per dag sy koors meet en dit telefonies deurgee aan die gesondheidsdepartement se amptenaar wat hom besoek en getoets het.

“Dit is ook so vir baie van my medeburgers met wie ek kontak het. Persoonlik gee ek nie om nie, want ná die kwarantyn sal ek papiere kry wat sê ek het nie die virus nie, wat my weer kan help,” sê hy.

Die oomblik toe hy besef dat hy in kwarantyn gaan wees, het hy kruideniersware gaan koop.

“Ek het toe geen probleme gehad met winkels wat my nie wou help nie,” sê die man.

Indien hy ’n tekort het, is reëlings getref dat hy aanlyn bestellings kan plaas.

Situasie nie oor China heen dieselfde nie

Dit lyk asof buitelanders in die provinsies van China verskillend behandel word.

Verlede week het Netwerk24 berig oor klagtes van veral Suid-Afrikaners wat sê daar word ook teen hulle as buitelanders gediskrimineer.

Heelparty winkels het kennisgewings opgesit wat aandui dat buitelanders “tydelik onwelkom” is. Taxi’s weier glo ook om buitelanders te vervoer.

Suid-Afrikaners wat woon in Wuhan, die episentrum van die Covid-19-uitbreking, is egter nie bewus van dié soort behandeling nie. Een Suid-Afrikaner daar het Woensdag bevestig dat sake tot normaal teruggekeer het en nog geen berigte ontvang is dat buitelanders weer in verpligte kwarantyn geplaas gaan word nie.

Regering hou situasie dop

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Dinsdag op die O.R. Tambo internasionale lughawe gesê daar is geen kwade gevoelens tussen Suid-Afrika en China nie.

Sy het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, vergesel toe hy ’n skenking van mediese toerusting en voorraad van China ontvang het.

“Die kwessies wat onder ons aandag gebring is, was nie teen die nasionale regering nie, maar teen ’n streek,” het Pandor gesê.

Sy het bygevoeg dat China se minister van buitelandse sake en sy adjunk reeds met die voorsitter van die Afrika-Unie oor die saak vergader het.

“En ons is verseker dat daar reeds opgetree is en as mense se regte geskenk is, sal opgetree word.”

Planne gaan ook voort om Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is, terug te bring.

Kyk na 'n video oor die storie hier.

Meer oor:  Afrika  |  Diskriminasie  |  China
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.