Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
China op pad na SA

Suid-Afrika sal sy eie wette en beleide moet verkrag én moontlik die kroonjuwele moet verkoop in ruil vir die beloofde Chinese stad in Limpopo, sê kenners.

China se beplande industriële stad in Limpopo.

Pres. Cyril Ramaphosa het met sy terugkoms van sy staatsbesoek aan China verlede week gespog dat die Chinese R17 miljard in dié sone suid van Musina sal belê.

Wat veral die wenkbroue laat lig het, is die plan om ’n steenkoolkragstasie van 4 600 MW te bou wat nie aan die land krag sal voorsien nie, maar net aan die Musina-Makhado-nywerheidstad.

Kenners sê dit is onmoontlik om vir China te gee wat blykbaar belowe is. Die pas gepubliseerde konsep- geïntegreerde hulpbronplan (IRP) maak glad nie voorsiening vir nog ’n steenkoolkragstasie nie. Dié een sal so groot wees soos Medupi en Kusile wat al ’n dekade in aanbou is, maar die Chinese reken dit kan in ses jaar voltooi word.

Die IRP beweeg juis stelselmatig wég van steenkool na skoner energiebronne.

Dr. Grové Steyn, regulatoriese ekonoom by Meridian Economics, sê dis wetlik nie moontlik om so ’n kragstasie goed te keur as die IRP nie daarvoor voorsiening maak nie.

Dit lyk of Guptas se opvolgers arriveer.

Die stasie moet ook lisensies by die energiereguleerder kry. Grové sê dít is haas onmoontlik as daar nie ’n behoefte vir nog krag is in die land nie of as die stasie ’n landbougebied gaan besoedel.

“Daar sal sonder enige twyfel drukgroepe en belangepartye wees wat die planne in elke moontlike hof gaan beveg,” sê Steyn.

Phuti Seloba, woordvoerder van die provinsiale regering in Limpopo, sê aan Dewald van Rensburg hulle is bewus daarvan dat die kragstasie nie deel is van die IRP nie. Die regering gaan nou met rolspelers vergader en voorleggings doen om dit by die IRP in te sluit, sê hy.

Die Chinese beleggers wil “betroubare” krag hê vir die beplande aanlegte wat baie energie-intensief is.

Volgens Seloba behoort die grond van 7 262 ha in die Vhembe-gebied tans aan tradisionele stamowerhede wat reeds inskiklik is met die planne.

Die Limpopo-regering het reeds 14 000 CV’s van werkloses bymekaar gemaak wat hoop om daar geholpe te raak.

Die Chinese se beloofde beleggings kom egter nie verniet nie. Luidens ’n proklamasie van Rob Davies, minister van handel en nywerheid, in die Staatskoerant, sal die beleggers vrygestel word van BTW en doeanegeld, 15% maatskappybelasting betaal eerder as 28%, en ander belastingvoordele kry soos vervroegde waardevermindering vir geboue.

Bongani Lukhele, woordvoerder van die departement van handel en nywerheid, sê die regering self sal nie enige lenings kry nie. Die twee regerings het wel ’n verstandhouding onderteken dat die Bank van China lenings vir beleggers sal fasiliteer.

Nog ’n ooreenkoms wat onderteken is, is dat die staatsbeheerde maatskappy China Railway International Group $90 miljoen (R1,4 miljard) sal leen aan MC Mining (voorheen Coal of Africa) vir hul hoogs omstrede Makhado-mynprojek in die Soutpansberg-steenkoolveld.

Volgens die departement sal die dorp aanlegte hê vir die verwerking van kooksteenkool, yster, staal, chroom en ferrochroom en sal hopelik 20 000 nuwe werksgeleenthede skep.

John Tarboton, uitvoerende hoof van die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsvereniging vir vlekvrye staal (Sassda), sê enige beleggings in onverwerkte metale en spesifiek chromiet moet verwelkom word, maar hulle het hul voorbehoude.

Suid-Afrika en Zimbabwe het sowat 85% van die wêreld se chromietreserwes, wat ’n sleutelkomponent van vlekvrye staal is. Hy sê die werksgeleenthede is nie soseer in die verwerking van chromiet nie, maar in die verdere verwerking van vlekvrye staal.

“In werklikheid is daar nie enige behoefte in die plaaslike bedryf nie. Die voorgestelde aanleg in die Musina-Makhado-nywerheidsgebied gaan noodwendig vlekvrye staal vervaardig om verder verwerk te word in China,” sê Tarboton.

Dít terwyl ondernemings in die sone invoer- en uitvoervergunnings kry.

Die Chinese het ook onlangs ’n ooreenkoms met Zimbabwe onderteken om die haalbaarheid van ’n vlekvryestaalaanleg daar te ondersoek, sê hy.

Ramaphosa het ná sy staatsbesoek en bywoning van die Afrika-China-beraad gesê die algemene gevoel was dat “China ’n betekenisvolle vennoot is wat nie net daar is om die Afrika-vasteland te plunder nie, maar ’n vennoot wat wil help om hoër vlakke van industrialisasie te bereik”.

Liz McDaid van die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se omgewingsinstituut (Safcei), wat verlede jaar met ’n hofsaak ’n stokkie voor die land se Russiese kernkragplanne gesteek het, sien die saak heeltemal anders.

Sy sê hulle was verbysterd om te hoor van die beplande steenkoolkragsentrale.

“Niemand het hieroor gepraat nie – nie eens (Jeff) Radebe (minister van energie) nie. Net soos die kernkragtransaksie is dit ’n infrastruktuurplan waar daar ’n rits staatskontrakte vir konstruksie gaan wees waar daar wéér à la staatskaping geld gaan verdwyn.

“Ons probeer nog herstel van die Guptas en nou lyk dit of hul Chinese opvolgers gearriveer het. Steenkool is nie meer die kragbron van die toekoms nie. Suid-Afrika het nie meer krag nodig nie. Waar gaan die water vandaan kom?”

Leon Borcherds, president van Agri Limpopo, sê die regering sal moet water aankoop van boere wat op groot skaal besproeiingslandbou in dié broodmandjie van Limpopo beoefen.

“As georganiseerde landbou is ons bitter bekommerd oor die ekonomiese sone se planne. Op die skaal wat daar water gaan nodig wees vir die aanlegte, kan hulle die hele landbousektor benadeel. Myne se gemiddelde leeftyd is 30 jaar, maar landbou s’n is vir ewig.

“Daar moet omsigtig met dié plan te werk gegaan word, veral omdat daar tot op hede géén deursigtigheid was nie.”

Die departement van handel en nywerheid sê omvattende haalbaarheidstudies is gedoen voordat die gebied geproklameer is. Die regering moet egter nog die nodige omgewingsimpakstudies en tegniese uitvoerbaardheidstudies doen voordat konstruksie goedgekeur sal word.

Die ontwikkelingsone, wat sy eie webblad in Mandaryns en Engels het, sê die bou van ligte infrastruktuur soos paaie kan al vanjaar begin.

Meer oor:  Cyril Ramapahosa  |  Limpopo  |  China  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.