Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CIPC se bewys nooit ’n vereiste, sê Patel

Dit was nooit nodig dat sakeondernemings sertifikate by die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye (CIPC) bekom om tydens die inperking te kon sake doen nie.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid. Foto: Siyabulela Duda

Dít was Maandag die antwoord van Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, op ’n parlementêre vraag van die DA-LP Zakhele Mbele.

Mbele wou weet op watter bepalings in die inperkingsregulasies Patel staatgemaak het toe hy vereis het dat ondernemings ’n CIPC-sertifikaat bekom om as ’n noodsaaklike diens bedryf te word.

“Die noodsaaklike-diens-sertifikate . . . was nie ’n verpligte vereiste vir om tydens die inperking operasioneel te wees nie,” het Patel gesê.

“Daar is (op 26 Maart) verklaar dat die besit van ’n CIPC-sertifikaat nie goedkeuring gee om tydens die inperking operasioneel te wees nie en dat ondernemings deur die regulasies (van die Rampbestuurswet) gelei moet word oor of hulle toegelaat word om sake te doen,” lui die antwoord.

Piet le Roux, voorsitter van Sakeliga, sê Patel probeer met dié antwoord wegkom van die feit dat sy aanvanklike opdragte onwettig was. Die hooggeregshof in Pretoria het op 2 Junie beslis die regulasies wat op 12 Mei uitgereik is wat maatskappye verplig om ’n CIPC-sertifikaat te bekom, is onwettig en ongeldig.

Op vlakke 5 en 4 van die inperking kon wetstoepassers by ondernemings aandring op ’n CIPC-sertifikaat of ander lisensie.

In die normale gang van sake hoef net maatskappye en beslote korporasies by die CIPC te registreer, maar Patel het die CIPC se stelsel tydens die ramptoestand gebruik as registrasiemeganisme vir ondernemings wat noodsaaklike en toegelate dienste lewer.

“Daar is geen twyfel dat die CIPC-sertifikate as ’n verpligte prosedure voorgehou is nie en dat die polisie instruksies gehad het om aan te dring op CIPC-sertifikate om te bepaal of iemand toestemming het om sake te doen of nie,” sê Le Roux.

Op Sakeliga se eie sertifikaat wat tydens die inperking uitgereik is, staan: “Die CIPC sertifiseer hiermee dat die besigheid wat handel doen as Sakeliga toestemming het om tydens die Suid-Afrikaanse inperking, soos aangekondig deur die president van die republiek op 23 Maart 2020, operasioneel mag wees.”

Le Roux sê verder: “Selfs nadat Sakeliga vir Patel en die CIPC in Maart op hierdie onwettigheid gewys het, het Patel en kie versuim om hul fout te erken en die proses te skrap.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.