Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Clicks buig knie voor boelies’

Die vakbond Solidariteit waarsku dat mense Clicks gaan boikot omdat dié winkelgroep die “knie gebuig” het voor die EFF en sodoende gewone Suid-Afrikaners blootstel aan ’n “boewe-demokrasie”.

Die EFF het sy betoging van vandeesweek teen die Clicks-winkelgroep afgelas nadat dié twee partye Donderdag ’n ooreenkoms bereik het oor ’n sjampoe-advertensie wat Clicks op sy webtuiste gepubliseer het.

Die EFF het bekend gemaak dat Clicks ingestem het om berou te wys oor die “rassistiese” advertensie en het, onder meer, onderneem om 50 000 sanitêre doekies en 50 000 maskers aan informele nedersettings van die EFF se keuse te skenk.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het Vrydag in ’n ope brief aan Vikesh Ramsunder, uitvoerende hoof van die Clicks-winkelgroep, gewaarsku dat Clicks “gestraf sal word met minder voete oor jul winkeldrumpels”.

EFF-lede betoog Dinsdagoggend vir ’n tweede opeenvolgende dag voor die Clicks in die Sandton City-winkelsentrum in Johannesburg. Foto: Dennis Delport

Hermann glo Clicks het gevou onder die druk van die EFF weens sy betogings wat veroorsaak het dat hy talle winkels moes sluit. Verskeie van sy winkels is ook gevandaliseer en minstens twee is met petrolbomme bestook.

Hermann het by navraag gesê hoewel Solidariteit nie ’n beroep op mense doen om Clicks te boikot nie, moet klante self besluit of hulle Clicks wil ondersteun.

’n Clicks-woordvoerder het by navraag gesê die winkelgroep gaan nie in dié stadium kommentaar lewer nie.

Hermann skryf in sy ope brief dat Suid-Afrikaners gewalg is deur die EFF se optrede en dat mense wil sien dat die EFF aanspreeklik gehou word.

“En wat doen Clicks? Julle beloon die anargiste. Julle gee ’n suigstokkie vir die kleuter wat ’n vloermoer gooi en al die maatjies knyp en hul hare trek. Julle voed anargistiese en rassistiese gedrag. Julle het van boewe helde gemaak en stel gewone mense bloot aan ’n boewe-demokrasie.”

Volgens Hermann het Clicks nou ’n presedent geskep omdat anargiste nou weet dit hou voordeel in om te “brand en af te breek”. Die winkelgroep het volgens hom ook nie die belange van die oorgrote meerderheid van sy klante in ag geneem nie.

En wat doen Clicks? Julle beloon die anargiste. Julle gee ’n suigstokkie vir die kleuter wat ’n vloermoer gooi en al die maatjies knyp en hul hare trek.

Die EFF het ook Donderdag ’n afsonderlike ooreenkoms bereik met die multinasionale maatskappy Unilever, die eienaar van TRESemmé, wat onder skoot gekom het omdat hy die omstrede advertensie aan Clicks verskaf het.

Unilever het Vrydag in ’n verklaring bevestig dat hy ingevolge dié ooreenkoms ingestem het om alle TRESemmé-produkte vir 10 dae van rakke te verwyder.

“Ons was geskok om te ontdek dat ons die beelde vir die Clicks-webtuiste verskaf het wat swart hare as minderwaardig uitgebeeld het. Dit was rassisties en ons vra onvoorwaardelik om verskoning,” lui die verklaring.

Unilever het ook ’n aantal stappe aangekondig om onder meer met “diversiteitsopleiding” van sy personeel te begin en om alle bemarkingsveldtogte te hersien om seker te maak dit stem ooreen met “ons verbintenis om alle skoonheid te vier en om diversiteit en inklusiwiteit te bevorder”.

Meer oor:  Solidariteit  |  Clicks  |  Dirk Hermann  |  Boelies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.