Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Coligny-2: Lesufi ‘weet niks van die reg’

Panyaza Lesufi is “onkundig” oor die regstelsel en moet eerder fokus op onderwys as op “kleinlike aanvalle” oor “kwessies wat niks met onderwys te make het nie”.

Dit was van die reaksies nadat Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, Sondag op ’n nuuskonferensie uitgevaar het teenoor die appèlhofbeslissing dat die sogenaamde Coligny-twee, Pieter Doorewaard (30) en Phillip Schutte (36), nié die 16-jarige Matlhomola Moshoeu vermoor het nie.

Lesufi is Sondag op die nuuskonferensie gevra oor ’n twiet waarin hy kort ná Vrydag se uitspraak geskryf het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet die “eerbare ding” doen en teen hierdie “nonsens appelleer”.

Skuldig tot onskuldig
Pieter Doorewaard en sy gesin. Sy suster, Mariska (37), sy pa, Gert (65), en sy ma, Marelie (62), is almal uit hul velle van blydskap. Foto: Deon Raath

Doorewaard en Schutte is in Maart verlede jaar tot onderskeidelik 18 en 23 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat regter Ronald Hendricks hulle in die hooggeregshof in Mahikeng skuldig bevind het aan Moshoeu se moord.

Die seun se dood op 17 April 2017 het tot groot onrus gelei toe die gemeenskap destyds huise, plase en winkels geplunder en aan die brand gesteek het.

Die staat het aangevoer Schutte het Moshoeu van ’n bewegende bakkie, wat Doorewaard bestuur het, afgegooi nadat hulle hom betrap het toe hy sonneblomme gesteel het.

Hendricks het hulle destyds ná die skuldigbevinding en vonnisoplegging verlof tot appèl geweier.

Die beskuldigdes het hulle toe met die hulp van AfriForum en adv. Barry Roux regstreeks tot die appèlhof gewend.

Die appèlregters Visvanathan Ponnan, Aubrey Ledwaba en Mahube Molemela het Vrydag bevind die staatsgetuie Bonakele Pakisi se getuienis is deurspek met teenstrydighede, die ondersoek was vol brouwerk en die staat kon nie sy saak teen die twee mans bo redelike twyfel bewys nie.

Hulle het Schutte en Doorewaard derhalwe vrygespreek op alle aanklagte en hul vonnisse tersyde gestel.

Lesufi is ‘baie kwaad’
Panyaza Lesufi.

Lesufi het hierna getwiet “wanneer die wet betekenisloos is, sal dit uitgedaag word”.

Sondag het hy uitgewei met: “Ek opper die kwessie nie as ’n LUR nie, maar ek is baie kwaad en ek dink Suid-Afrikaners moet (kwaad) wees”.

“Dit is die NVG en wetstoepassingsagentskappe se werk om die saak weer op te neem. Daardie kind het nie homself doodgemaak nie.

“Daarom moet ons nie deur rassiste gedikteer word wat glo die lewe van swart kinders is nie belangrik nie.

“Hier is ’n kind, 16 jaar oud, vermoor, en daar word vir ons gesê niemand is skuldig nie, dat dit onskuldig was, dit het maar net gebeur. Dit kan nie wees nie.

“Ons kan nie arms gevou sit en sê dit is normaal nie.

“As ’n hof hulle skuldig bevind en ’n ander hof bevind hul onskuldig, is daar ’n ander hof wat moet bewys of hulle skuldig is of nie.”

Lesufi het bygevoeg die NVG moet “dringend” hierna kyk.

Hier is ’n kind, 16 jaar oud, vermoor, en daar word vir ons gesê niemand is skuldig nie, dat dit onskuldig was, dit het maar net gebeur. Dit kan nie wees nie.

“Daar is ’n familie wie se kind doodgemaak is. Ons gaan nie net aanbeweeg nie.

“Soveel as wat mense betoog oor boere wat doodgemaak word, hier is ’n mens wat doodgemaak is vir ’n sonneblom. Om Vadersnaam! ’n Sonneblom!

“Daar is ’n tendens in hierdie land van rassiste wat glo hulle kan maak soos hulle wil. Hulle kan op polisiewaens klim, die wet ondermyn, hof toe gaan, die landdros intimideer en doen wat hulle wil. Daardie tyd is verby.

“Hulle het dalk daarin geslaag om ons grootouers te onderdruk. Hulle het dalk daarin geslaag om ons ouers te onderdruk. Hulle het probeer om ons te onderdruk, en ons het hulle gestop, maar hulle gaan nooit ons kinders en kleinkinders onderdruk nie. Dit stop hier!

“Rassiste moet weet hulle is breinloos en nikswerd en ons is nie bang vir hulle nie. Hierdie land behoort aan ons almal. As rassiste nie hier gelukkig is nie, moet hulle gaan.”

Hy het ook vir AfriForum bestempel as ’n organisasie wat “selektief mense verdedig wat wandade pleeg”.

Reaksie

Henry Mamothame, woordvoerder van die NVG in Noordwes, het gesê hulle neem kennis van Lesufi en “baie ander Suid-Afrikaners” se kommentaar rakende die appèlhofbeslissing.

“Die NVG vra vir kalmte terwyl ons die verantwoordelike ding doen deur die uitspraak te bestudeer en kyk hoekom die appèlhof van die hooggeregshof se beslissing (wat die beskuldigdes skuldig bevind het) verskil.

“Ná daardie proses sal ’n besluit oor die pad vorentoe geneem word,” het hy bygevoeg.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Lesufi se uitsprake is ’n “aanduiding dat sy begrip van situasie nie baie goed is nie”.

“Die feite spreek vanself: dit is baie duidelik dat hierdie twee jong manne onskuldig is. Dit was juis op grond van die feite dat AfriForum hul volle appèlonkoste betaal het.

“Of LUR Lesufi is nie baie slim nie, of hy word so verblind deur sy anti-Afrikaner-rassisme dat hy nie die feite kan raaksien nie. Ek vermoed dit is dalk albei,” sê Kriel.

Volgens hom is dit ’n kwessie van “skoenmaker hou jou by jou lees” en moet Lesufi eerder op sy huidige pos fokus.

Of LUR Lesufi is nie baie slim nie, of hy word so verblind deur sy anti-Afrikaner-rassisme dat hy nie die feite kan raaksien nie. Ek vermoed dit is dalk albei.

“Hy sukkel nog om sy huidige portefeulje van LUR vir onderwys te bemeester en wil nou sy lyf regsadviseur hou, iets wat uit sy uitsprake blyk hy geen kennis het hoe die reg werk nie,” voeg Kriel by.

Prof. Llewellyn Curlewis, ’n regskenner aan die Universiteit van Pretoria, sê Lesufi se opmerkings spreek van “totale onkunde” oor die reg.

“Miskien moet hy hom hou by goed waarvan hy iets weet en minder uitlatings maak wat sy politieke agenda probeer bevorder. Hy het duidelik nie ’n benul waaroor die Grondwet, die strafreg en Strafproseswet gaan nie en maak doodeenvoudig sy naam krater deur sulke nonsens te uiter. “Bravo vir die hoogste hof van appèl wat weer eens die regstelsel – wat deesdae reeds wankel – probeer red van leke soos hy.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.