Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cosatu bal vuis, sal nié gaan lê oor salarisse

Tito Mboweni se “pap en opswepende” begrotingsplanne om die staat se salarisrekening met meer as R160 miljard te besnoei, is ’n duidelike teken aan werkers dat die slagordes opgestel is, sê Cosatu.

“Werkers sal egter nie slagoffers speel nie en sal eis wat hulle toekom en sal nie daarvoor bedel nie, was dié vakbondfederasie en ANC-alliansievennoot se waarskuwing Woensdag nadat Tito Mboweni, minister van finansies, dié besnoeiing van amptenare se salarisse as deel van die kostebesparingsplanne in sy begroting aangekondig het.

Tito MboweniFoto: JACO MARAIS

Mboweni het bygevoeg die regering het reeds ’n agenda-item daaroor in die bedingingsraad vir die staatsdiens ter tafel gelê. “Die fokus is om die inperking van koste in die finale fase van die implementering van die huidige salarisooreenkoms te bespreek.

“Ons beplan om R37,8 miljard in die volgende boekjaar te bespaar. Daar is meer as een manier waarop dié doelwit bereik kan word.

“Georganiseerde arbeid verstaan waarheen ons op pad is. Hulle het konstruktiewe voorstelle oor ’n reeks kwessies gemaak,” het Mboweni gesê.

Dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, het kort voor die begrotingsrede ook aan joernaliste gesê vakbonde hoef nie “oorlog” te verklaar teen die besnoeiingsplanne nie, maar dat hulle eerder as ’n kollektief oplossings moet help soek.

Cosatu-geaffilieerde vakbonde soos Nehawu, Popcru, Sadou, Samwu en Denosa verteenwoordig saam die meeste werkers in staatsdepartemente asook polisiebeamptes, onderwysers, verpleegsters en munisipale werkers.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het Woensdagmiddag in ’n sterk bewoorde verklaring namens Cosatu gesê dat hulle die regering se voortdurende aanvalle op staatsamptenare “verspot en uitputtend” vind.

Die president se besluit om die salarisse van ministers te vries, is nie goed genoeg nie. Dit is swak leierskap van politici wat ons in hierdie krisis gedompel het. Hulle moet hul buitensporige voordele verloor.

Volgens Cosatu is Mboweni se planne “tragies” en ’n poging om die skuld vir die grootskaalse plundering van die staatsdiens na werkers te verskuif.

“Die obsessie met die salarisrekening is onsinnig as in ag geneem word dat dit die afgelope tien jaar stabiel by 35% van die regering se gekonsolideerde uitgawes gebly het. Dit stem ooreen met internasionale standaarde.”

Volgens Pamla is Cosatu gereed om met die regering te praat oor maatreëls om die fiskus te stabiliseer.

Dit sluit volgens Cosatu onder meer in om die opgeblase uitvoerende (ministers-) en bestuursposte en die gepaardgaande voordele te verminder.

“Die president se besluit om die salarisse van ministers te vries, is nie goed genoeg nie. Dit is swak leierskap van politici wat ons in hierdie krisis gedompel het. Hulle moet hul buitensporige voordele verloor.”

Maar as hy weer sy party voor die land kies deur onder die druk van die vakbonde te steier, sal hy ons land tot fiskale ondergang verdoem.
dr. Leon Schreiber, DA-woordvoerder

Pamla het dit ook onomwonde gestel dat Cosatu “slaggereed” is om die besnoeiings te beveg.

Intussen het dr. Leon Schreiber, DA-woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, die besnoeiingsplanne verwelkom en dit as ’n “DA-idee” beskryf.

“Pres. Cyril Ramaphosa kan nie een van die sentrale keuses wat sy presidentskap sal definieer, verder vertraag nie. As hy Suid-Afrika kies, sal hy Mboweni se beoogde besnoeiing aan salarisse implementeer, selfs al verdeel dit sy eie regeringsalliansie.

“Maar as hy weer sy party voor die land kies deur onder die druk van die vakbonde te steier, sal hy ons land tot fiskale ondergang verdoem,” het Schreiber gesê.

Brett Herron, sekretaris-generaal van Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, se Good-party, het die besnoeiingsplanne beskryf “as die bitter medisyne wat ons land nou moet sluk om te herstel van jare se buitensporige korrupsie en vermorste uitgawes”.

Die party waarsku dat dit egter nie hardwerkende staatsamptenare moet wees wat die prys daarvoor moet betaal nie. “Dit is die hooggeplaastes met politieke bande wat ons laat neerstort het en hulle moet die prys betaal,” het Herron gesê.

Meer oor:  Cosatu  |  Tito Mboweni  |  R160 Miljard  |  Begrotingsrede  |  Salarisrekening  |  Staat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.