Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cosatu eis nou ook Gordhan se kop

Oproepe vir die kop van Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, kring al hoe wyer uit met die ANC-alliansievennoot Cosatu wat die jongste is wat eis dat Gordhan weens die voortdurende Eskom-krisis moet bedank.

Die vakbondfederasie het Vrydag sy stem gevoeg by dié van die ANC-jeugliga in die Vrystaat wat Gordhan se kop eis in reaksie op adj.pres. David Mabuza wat Donderdag in Kimberley gesê het Gordhan en die Eskom-direksie het Ramaphosa mislei deur te sê dat daar van die feestyd tot middel Januarie vanjaar geen beurtkrag in Suid-Afrika sal wees nie.

Die land gaan egter sedert vroeg Januarie nog gebuk onder beurtkrag.

Lees ook: Mabuza bedank uit Eskom

Intussen het Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, Donderdag luidens Fin24 gesê Ramaphosa wil veranderinge aanbring aan die Eskom-direksie as deel van die implementering van ’n reddingsplan daar. Diko het ook gesê Mabuza het geen “kwaadwillige bedoelings” met sy “mislei”-uitlatings gehad nie en dat die onlangse vlaag beurtkrag heeltemal onbeplan was.

Ramaphosa en ander top-leiers in die ANC is tans almal in Kimberley in die Noord-Kaap waar die party Saterdag amptelik sy 108ste bestaansjaar sal vier.

Paul Mashatile, ANC tesourier-generaal, het Vrydag luidens eNCA ook in Kimberley in reaksie op die herrie rondom Gordhan se kop gesê dit is Ramaphosa se prerogatief is om ministers aan te stel.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het Vrydag bevestig dit is Cosatu – ’n Ramaphosa-bondgenoot – se standpunt dat Gordhan moet bedank omdat hy ná byna twee jaar in sy pos nie die Eskom-krisis kon omkeer nie.

“Dit is niks persoonlik nie. Nuwe bloed kan met nuwe idees kom om Eskom om te keer. Om die president te mislei stel sy geloofwaardigheid in gevaar. Ons vra nie vir ’n kabinetskommeling nie, maar net dat Ramaphosa vir Gordhan moet vra om te bedank.

“Elektrisiteit is kritiek, veral noudat ons op die rand van die ergste scenario is. Luister net na wat graderingsagentskappe, die Wêreldbank, China en beleggers oor Suid-Afrika heen sê,” het Pamla gesê.

Elektrisiteit is kritiek, veral noudat ons op die rand van die ergste scenario is.

Cosatu se eis volg nadat die ANC-jeugliga in die Vrystaat kort ná Mabuza se uitlatings Donderdag ook die onmiddellike verwydering van Gordhan geëis het.

Reagan Booysen, sekretaris van die jeugliga in die Vrystaat, het in ’n verklaring gesê hulle sê al lank Gordhan, ’n Ramaphosa-lojalis, is deel is van beweerde planne om sukkelende staatsentiteite soos Eskom en die SAL te wil privatiseer.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder by die Noordwes-Universiteit, meen egter dat die ANC-jeugliga in die Vrystaat “voetsoldate” is van Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, wat die Eskom-krisis vir faksionele binnegevegte wil misbruik.

“Hul strategie is om Ramaphosa en sy ondersteuners in die ANC te intimideer en te destabiliseer in aanloop tot die party se nasionale raadsvergadering later vanjaar. Hul hoofdoel is om van Ramaphosa ontslae te raak.”

Chris Yelland, ’n energie-ontleder, meen Mabuza moenie vingers na Gordhan wys nie omdat hy voorsitter is van die “strydkamer” oor Eskom wat sedert dit in Desember aangekondig is, “nog geen vergadering gehou het nie”.

Beurtkrag

Volgens Yelland sal beurtkrag voortduur tot daar nuwe opwekkingsvermoë by die nasionale netwerk gevoeg word. “Dit sal ten minste tussen ses maande en vyf jaar duur afhangend van hoe dringend die regering sy huis by Eskom in orde kry.”

Hy meen daar sal vir die volgende twee jaar nog gereeld beurtkrag wees.

* Intussen het Pule Mabe, ’n ANC-woordvoerder, Vrydag aan Charné Kemp in Kimberley gesê die ANC se finansies “is ’n interne saak wat niks met buitestaanders te make het nie”.

Dit was ná gerugte dat die party in so ’n benarde finansiële posisie is dat hy ondanks sy verjaardagvieringe Saterdag wat glo miljoene rande sal kos, blykbaar nie sy personeel se salarisse in Januarie of Februarie sal kan betaal nie.

“Die ANC sal sy verpligtinge nakom. Ons het ’n oopdeurbeleid en praat gereeld met mense op voetsoolvlak. Die tesourier-generaal (Mashatile) het Donderdag bevestig die ANC het nie uitdagings wat sy bedrywighede kan benadeel nie.”

Meer oor:  Cosatu  |  Eskom  |  Pravin Gordhan  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.