Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cosatu gekant teen BTW-verhoging

Die ergste probleme sedert 1994 staar Suid-Afrika, en veral werkers, in die gesig en daarom sal Cosatu enige pogings van Tito Mboweni, minister van finansies, om veral BTW in sy begroting te verhoog, verwerp.

Tito MboweniFoto: Daily Sun

Só het dié vakverbond en ANC-alliansievennoot Maandag gesê toe hy soos ander politieke en burgerlike organisasies ook hul verwagtinge vir Woensdag se begrotingsrede uiteengesit het.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, het bygevoeg dat Mboweni ook sal moet ophou om Suid-Afrika se belastinglas al hoe meer na die werkers- en middelklasgesinne te verskuif.

“Die skuiwergate in die belasting-regime moet toegestop en die belastingstruktuur hersien word om te verseker dat rykes hul billike aandeel betaal.

“Verdere ingryping by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is nodig om te verseker dit gebeur deur byvoorbeeld ’n massiewe uitbreiding van sy kapasiteit vir doeane-afdwinging.”

Volgens Cosatu moet Mboweni ook Suid-Afrikaners inlig oor wat presies die regering gedoen het, doen en nog gaan doen om die 10% wat die fiskus jaarliks weens plundery en vermorste uitgawes verloor, te verhaal.

Versigtig optimisties

“Die publiek is moeg en wil sien dat beslissend opgetree word om hul swaar verdiende belasting terug te kry.”

Intussen sê Mzamo Buthelezi, IVP-woordvoerder oor finansies, sy party is “versigtig optimisties” dat Mboweni ’n begroting sal lewer wat sekerheid aan alle Suid-Afrikaners sal verskaf.

“Die nasionale begroting van 2020 moet verseker dat werkendes werksekerheid geniet, werkloses werkgeleenthede kan kry en dat beleggers ’n bevorderlike omgewing het waarin sake gedoen kan word.

“Die IVP glo dat ons deur vrymoedige, beslissende en eenvoudige optrede voordeel kan put uit ’n groeiende ekonomie wat landsburgers se beursie van die geld sal laat bult.”

Volgens die IVP kan laasgenoemde gebeur as die regering baie meer doen om veral klein-, middelslag- en makro-ondernemings te help groei. Daarby moet die regering ook sukkelende staatsentiteite gedeeltelik privatiseer én vertroue en integriteit in alle regeringsfere en onder beleggers herbou.

Landbousektor speel kritieke rol

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê Mboweni het met sy begroting die geleentheid om te wys dat sy departement die kritieke rol van die landbousektor in die ekonomie verstaan.

“Die steun wat die landbou in die begroting gaan kry, sal wys of sy departement daartoe verbind is om die landbou ter wille van voedselsekerheid, ekonomiese groei en investering te ondersteun.”

Van die heel belangrikste kwessies waarvoor die landbousektor volgens Strydom veral in die begroting uitkyk, is befondsing vir droogtehulp en vir die uitbreiding van opgaarkapasiteit om veral die huidige waterkrisis in die land te hanteer.

Koste van elektrisiteit styg meer as inflasie

Sy organisasie meen ook die koste van elektrisiteit het die afgelope dekade met meer as inflasie gestyg en dat verbruikers nie langer die koste van wanbestuur en korrupsie by Eskom kan dra nie. Hy hoop daarom ook vir ’n meer gedetailleerde toekomsplan vir Eskom en die inkorporering van alternatiewe energie-opwekkers.

*Intussen wys die jongste peiling van die marknavorsingsfirma Citizen Surveys dat net 54% van volwasse Suid-Afrikaners verlede jaar na Mboweni se begrotingsrede gekyk het, daarna geluister het of daarvan bewus was. Net meer as die helfte van diegene wat daarvan bewus was, het volgens Reza Omar, strategiese navorsingsdirekteur van Citizen Surveys, gemeen daardie begrotingsrede het ’n positiewe uitwerking op hul mening oor die land se trajek gehad.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Btw-Verhoging  |  Cosatu  |  Begrotingsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.