Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cosatu sal ANC steeds steun in komende verkiesing

Cosatu sal ten spyte van probleme en spanning tussen veral staatsdienswerkers en die regering, nie later vanjaar se plaaslike verkiesings boikot nie.

Die vakbondfederasie sal ook steeds die ANC daartydens ondersteun.

Dit is die besluite van ’n spesiale vergadering van Cosatu se sentrale uitvoerende komitee (SEK) wat Bheki Ntshalintshali, sy hoofsekretaris, en ander hoofleiers Donderdag op ’n nuuskonferensie in Johannesburg bekend gemaak het.

Daar is ook besluit dat Cosatu “nog nie die ANC sal verlaat nie”, omdat hy nie ’n “politieke vakuum wil skep wat daartoe sal lei dat die ANC deur die reaksionêre en misdadige elemente gekaap word wat dit sedert 1994 probeer doen nie”.

Ntshalintshali het bygevoeg dat Cosatu gedurende die plaaslike verkiesings egter ’n parallelle veldtog van stapel sal stuur om kollektiewe bedinging te beskerm.

Bheki Ntshalintshali Foto: Daily Sun

“Daar is ’n werklike moontlikheid dat werkers in die staatsdiens tydens die verkiesings sal staak teen die besluit om salarisse te bevries en afleggings. Ons sal nooit hieroor kompromitteer nie en moedig al ons vakbonde aan om te mobiliseer en terug te baklei.”

Spanning tussen staatsdienswerkers en die regering is tans ook op ’n hoogtepunt weens die regering se weiering om vanjaar die laaste been van ’n driejaar-salarisooreenkoms te implementeer. Dit het daartoe gelei dat staatsamptenare nie vanjaar salarisverhogings gekry het nie.

Cosatu wil binne 14 dae dringend met pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se topleierskap vergader om werkers en ander probleme van gemeenskappe te bespreek.

Die vakbondfederasie het ook die ANC se nasionale uitvoerende komitee se besluit verwelkom dat alle ANC-lede wat van korrupsie en ander ernstige misdade in howe teregstaan, hul poste binne 30 dae moet ontruim. Dit beteken egter dat die ANC ook moet optree teen sy amptenare wat nie die party se konferensie-resolusies implementeer nie.

“Die spesiale vergadering (van Cosatu) het ook ’n beroep op die ANC gedoen om meer beslissend op te tree teen korrupsie en parasitisme in ons land. Dit is saam met die Covid-19- en geslagsgeweld-pandemie nog ’n werklike pandemie wat wegkalwe aan die winste wat werkers sedert 1994 gemaak het,” het Ntshalintshali bygevoeg.

Wat sê die Verkiesingskommissie (OVK) oor die komende plaaslike verkiesings?

Die OVK het Dinsdagaand aan LP’s in die parlement gesê dat hy ten spyte van die Covid-19-pandemie en begrotingsbesnoeiings druk besig is om voor te berei vir die plaaslike verkiesings.

Dít ten spyte daarvan dat Julius Malema, EFF-leier, en sy party hulle tans daarvoor beywer om die plaaslike verkiesings weens die pandemie te laat uitstel en dit moontlik saam met nasionale en provinsiale verkiesings te hou.

Sy Mamabolo, OVK-hoofkiesbeampte, het egter aan die portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake gesê die Grondwet bepaal dat die termyn van munisipale rade vyf jaar lank is. “Munisipale verkiesings moet dus binne 90 dae gehou word vandat die termyn verval het.”

Die huidige munisipale termyn verval volgens hom op 4 Augustus vanjaar en die 90 dae-tydperk is op 1 November verby.

Mamabolo het bygevoeg dat samesprekinge tussen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en die OVK ook amptelik begin het om ’n presiese datum vir die verkiesings te bepaal. Dlamini-Zuma sal dit bekend maak sodra die samesprekings gefinaliseer is.

Meer oor:  Verkiesing  |  Cosatu  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.