Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cosatu sê Tito moet korrupsie, verkwiste uitgawes takel

Planne teen die grootskaalse en verdiepende vlakke van korrupsie in die regering, én die verkwisting van belastingbetalersgeld is volgens Cosatu waaraan Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) moet aandag skenk.

Die vakverbond, politieke partye en die landbou-organisasie Agri SA het Maandag hul verwagtinge vir die MTBR uitgestippel.

Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, meen die ekonomiese, maatskaplike en werkloosheidskrisis wat die land verswelg, kan deels toegeskryf word aan die “misleidende” makro-ekonomiese beleidsraamwerk wat die afgelope jare toegepas is.

Volgens hom hoop werkers daarom dat die MTBR sal strook met pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan vir die land.

Cosatu meen korrupsie en die verkwisting van staatsgeld strem ekonomiese ontwikkeling en hy vra dat die wetsontwerp op openbare verkryging sowel as die instelling van die nasionale aanlyn tenderstelsel bespoedig word.

“Ons eis deursigtigheid in die regering se verkryging van grootmaat-goedere.

“Die beste planne sal betekenisloos bly tensy die regering die pandemies van korrupsie en verkwiste uitgawes oplos.”

Pamla sê dit is veral belangrik omdat die ouditeur-generaal vroeër bekend gemaak het dat tot 10% of R150 miljard van die jaarlikse begroting weens bogenoemde verlore gaan.

“Die onlangse inhegtenisneming en hofverskynings (weens beweerde korrupsie) word verwelkom, maar dit moet tot skuldigbevindings en die verhaling van die gesteelde staatsbates lei.”

Die beste planne sal betekenisloos bly tensy die regering die pandemies van korrupsie en verkwiste uitgawes oplos.

Intussen het Wouter Wessels, VF Plus-woordvoerder oor finansies, gesê dat ’n mediumtermynbegroting vir die volgende vyf jaar “grootliks sinloos” is teen die agtergrond van die resessie waarin die land verkeer, en weens ander onvoorspelbare faktore soos die koronaviruspandemie.

“Die VF Plus is bekommerd oor hoër belastings wat aanstaande jaar ingestel kan word in ’n poging om staatsinkomste te verhoog. Dit sal die teenoorgestelde uitwerking hê en sal eerder ’n demper plaas op ekonomiese groei.”

Hy meen die VF Plus sal nogtans wil sien dat Mboweni werklike strukturele hervormings aankondig, sowel as werklike planne oor Eskom, maatreëls om staatskuld en -besteding te verklein, dat beleidsekerheid aangespreek word en dat planne aangekondig word om persoonlike- en maatskappybelasting te verlig.

Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, het gesê die MTBR moet die land op ’n volhoubare pad na herstel en fiskale dissipline bring.

Hy meen dit is net so belangrik om noodsaaklike dienste teen groot begrotingsbesnoeiings te beskerm. Veral die nasionale vervolgingsgesag en ander entiteite in die strafregstelsel wat mense vir korrupsie en staatskaping moet ondersoek en vervolg.

Hill-Lewis sê moeilike en pynlike besluite, soos groot besnoeiings aan die staat se salarisrekening en die stop van reddingsboeie aan sukkelende staatsentiteite, moet nou geneem word.

Intussen het Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, gesê hulle sien veral uit na Mboweni se aankondiging oor staatsentiteite, “met spesifieke verwysing na die Landbank, ’n sleutelinstelling vir die landbousektor”.

Die VF Plus is bekommerd oor hoër belastings wat aanstaande jaar ingestel kan word in ’n poging om staatsinkomste te verhoog. Dit sal die teenoorgestelde uitwerking hê en sal eerder ’n demper plaas op ekonomiese groei.

“Ons het aanbeveel dat die tesourie dringend ’n hulppakket van R18 miljard oor vyf jaar oorweeg om die Landbank se volhoubaarheid te verseker.

“Die toenemende likiditeitsprobleme van die Landbank hou ’n risiko in vir sy vermoë om die landbousektor te ondersteun, aangesien dié bank 29% van die totale landbouskuld finansier en dus ’n kritieke bydraer tot voedselsekerheid is,” sê Van der Rheede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.