Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cosatu verwag 10 000 gaan opruk na parlement
Lede van die vakverbond Cosatu het Woensdag in Durban betoog teen dreigende werksverliese oor die land heen. Dié betoging sal Dinsdag in Kaapstad voortgesit word met ’n optog na die parlement. Foto: Reuters/Rogan Ward

Cosatu in die Wes-Kaap verwag dat 10 000 mense Dinsdag na die parlement sal opruk in ’n staking teen die “slagting van werksgeleenthede” wat in die land dreig en om te eis dat verlede jaar se BTW-verhoging geskrap word.

Die vakverbond het Sondag op ’n mediakonferensie gesê hulle gaan die strate van Kaapstad invaar om hul “teleurstelling en afsku oor die wyse waarop mense hul werk verloor” te kenne te gee.

Malvern de Bruyn, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu. Foto: Malherbe Nienaber

Malvern de Bruyn, Cosatu se provinsiale sekretaris, sê werksverliese is besig om bedrywe dood te maak en dat die nasionale beraad wat oor werkskepping gehou is net tot verdere werksverliese gelei het.

Die optog na die parlement sal plaasvind in aanloop tot Woensdag se begrotingsrede wat deur Tito Mboweni, minister van finansies, gelewer gaan word.

De Bruyn sê dié betoging sal sorg dat die minister “ons duidelik hoor” dat verlede jaar se BTW-styging werkskepping negatief raak.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Adrian de Kock

“Dit is net die waarskuwing vir verdere massa-aksie wat sal volg as daar nie na ons eise geluister word nie en ons sal selfs regeringsgeboue beset indien nodig.”

Die stakingsaksie is nie net vir werkers nie, maar ook vir werkloses, sê De Bruyn.

Cosatu sê dit is ’n beskermde staking en die permitte is reeds bekom.

“Ons hoor voortdurend van afleggings in verskeie sektore, van verkope en vervaardiging tot mynwese, terwyl staatsondernemings bedreig word deur ontbondeling, herstrukturering en privatisering.”

Volgens Cosatu sluit dit in 140 000 poste by die winkelreus Edcon, wat kan sluit, 40 000 afleggings in die mynbedryf tot dusver, kennisgewings wat ontvang is van afleggings in die klere- en tekstielbedryf in Kaapstad en die voorgestelde verdeling van Eskom in drie eenhede, wat Cosatu glo tot reuse-afleggings gaan lei.

Daarby is 900 permanente en 1 200 kontrakposte by die SAUK in gedrang, 140 000 vakante poste in die staatsdiens is gevries en daar was 31 000 werksverliese in die landbou sedert Januarie, sê Cosatu.

Mncedisi Mbolekwa, Wes-Kaapse sekretaris van die polisievakbond Popcru. Foto: Malherbe Nienaber

“In baie gevalle is die afleggings weens gulsige sakelui wat werkers hoog en droog los, nadat hulle gebruik is om hul dividende en salarisse te verhoog. Die moontlike sluiting van Edcon sal ook die plaaslike klerebedryf uitwis.”

De Bruyn sê die staking sal ’n “onmiskenbare boodskap” aan die politieke en sake-elite stuur dat werkers “genoeg gehad het en gereed is om hul werk te verdedig”.

Daar sal aangedring word dat BTW van 15% na die vroeëre 14% verlaag word, “weens die uitwerking op die ekonomie en veral werkers se families, die werkersklas en werkskepping”.

Verder word daar geëis dat die toewysings van gratis water en krag verhoog word, tariewe vir water en krag verlaag word, koopbewyse vir plaaslik vervaardigde skoolklere aan skole sonder fooie uitgereik word en dat plaaslike hoender van BTW vrygestel word.

“Die regering moet dringend met ’n plan vorendag kom om die ekonomie om te keer, industrialisering aan te moedig en verkwiste besteding en die diefstal van staatshulpbronne stop te sit en die krisis by staatsondernemings te beëindig.”

Mncedisi Mbolekwa, Wes-Kaapse sekretaris van die polisievakbond Popcru, sê werkloosheid verhoog misdaad en die werklas van polisielede, terwyl meer mense aangestel moet word om oorvol tronke te kan beman.

Korrupsie raak ook polisielede omdat daar minder geld vir misdaadbestryding en die aanstel van meer polisielede beskikbaar is.

Jonovan Rustin, provinsiale sekretaris van die onderwysvakbond Sadtu.Foto: Malherbe Nienaber

Jonovan Rustin, provinsiale sekretaris van die onderwysvakbond Sadtu, sê met dié dat die aantal leerlinge in die provinsie met 25 000 gestyg het, moet 1 000 onderwysposte geskep word, maar dit het nog net tot 100 gelei.

Sadtu doen ’n beroep op onderwysers om Dinsdag uit hul skole te stap om te wys dat hulle “moeg vir geweld in ons skole is, waar bendes op leerlinge en onderwysers skiet”.

“Ons is ook siek en sat dat onderwysers mishandel word, gevloek en aangerand word. Die werkgewer het die verantwoordelikheid om hul veiligheid te verseker.”

Meer oor:  Cosatu  |  Wes-Kaap  |  Btw  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.