Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Covid-19: Cyril woon beraad oor geldhulp aan Afrika by

Internasionale hulp aan Suid-Afrika en ander Afrika-lande wat erg geraak is deur die gesondheids- en ekonomiese krisis weens die koronaviruspandemie, sal die hooffokus wees op ’n beraad Dinsdag in Frankryk.

Die presidensie het Sondag bekend gemaak dat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand op uitnodiging van pres. Emmanuel Macron na Frankryk vlieg om daar deel te neem aan die Beraad oor die Finansiering van Afrika-ekonomieë.

ramaphosa, macron
Pres. Emmanuel Macron van Frankryk en pres. Cyril Ramaphosa tydens 'n ontmoeting in Augustus 2019 by die G7-beraad. Foto: Reuters

Ramaphosa en ander Afrika-staatshoofde sal die beraad saam met Europese staatshoofde en leiers, verteenwoordigers van die G7- en G20-lande, sowel as hoofde van internasionale instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), die Wêreldbank en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) by die Grand Palais Ephémère bywoon.

Sy vertrek Sondagaand na Frankryk kom op ’n tydstip waarin Suid-Afrikaners asem ophou oor wanneer Ramaphosa weer die land te midde van vrese oor ’n derde vlaag van infeksies oor die staat van inperking sal toespreek.

Vroeër is berig dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Vrydag op die SABC2-program Morning Live gewaarsku het dat strenger inperkings weer ’n moontlikheid is weens ’n toename in koronavirusinfeksies.

Daar is Donderdag vir die eerste keer in drie maande meer as 3 000 nuwe bevestigde infeksies in die land aangemeld.

Volgens Mkhize kan strenger inperkings kom in die vorm van ’n perk op die getal mense wat byeenkomste mag bywoon, asook die herinstellings van ander inperkings “wat ons kon ophef toe getalle laer was”.

Daar is Vrydag ook berig dat die nasionale Covid-19-bevelsraad reeds vergader het en dat die kabinet sal besluit of verdere inperkings nodig is.

• Tyrone Seale, Ramaphosa se waarnemende woordvoerder, het Sondag in ’n verklaring gesê die beraad in Frankryk is ook daarop gemik om beleggings in Afrika te bevorder en om die risiko van buitensporige skuld te verminder.

Afgevaardigdes sal op die beraad ook beraadslag oor skuldverligting en ondersteuning deur die IMF.

Daar sal ook gekyk word na hoe om kapitaal aan die private sektor in Afrika te verskaf om beleggings te ondersteun wat inklusiewe ekonomiese aktiwiteit sal aanwakker, werksgeleenthede sal skep en sal help om volhoubare ontwikkelingsdoelwitte vinniger te bereik.

Die Beraad oor die Finansiering van Afrika-ekonomieë kom luidens sy verklaring ná ’n reeks internasionale stimuluspakkette, soos die Wêreldbank se $14 miljard om koronavirusfinansiering vinniger beskikbaar te stel, die Afrika Ontwikkelingsbank se $10 miljard-koronavirusreaksiefasiliteit en die IMF se bewilliging van finansiering en skuldverligting om lande en maatskappye te help met hul reaksie op die pandemie.

Volgens Seale sal Ramaphosa voor die beraad Maandagaand ook eers die verwelkomingsaandete ter ere van Afrika-staatshoofde, waarvan Macron die gasheer sal wees, bywoon.

Ramaphosa sal tussendeur ook bilaterale vergaderings hou met deelnemende leiers om Suid-Afrika se diplomatieke bande met hul onderskeie lande te bevorder.

Ramaphosa word vergesel van dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie.

Meer oor:  Emmanuel Macron  |  Cyril Ramaphosa  |  Ekonomiese Hulp  |  Beraad  |  Afrika-Lande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.