Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Covid-19 nie enigste pandemie in SA’ – Makhura

Covid-19 het ook ander pandemies in Suid-Afrika blootgelê, waaronder ongelykheid en hongersnood, misdaad en korrupsie, werkloosheid en armoede, geslagsgeweld, psigiese gesondheidsprobleme, en ekonomiese en finansiële ineenstortings.

Tog is David Makhura, Gautengse premier, steeds trots op wat die provinsie die afgelope jaar kon vermag. Makhura het Vrydag sy jaarverslag in ’n virtuele sitting van die provinsiale wetgewer gelewer.

Hy het ook gesê ’n nuwe LUR vir gesondheid gaan volgende week aangekondig word. Dit kom nadat Bandile Masuku vroeër vanjaar weens beweerde ongerymdhede met ’n PPE-tender afgedank is.

Volgens Makhura het Suid-Afrika teen die tweede kwartaal vanjaar 2,2 miljoen poste weens die Covid-19-inperking verloor, waarvan 661 000 in Gauteng was.

David Makhura, Gautengse premier. Foto: Argief

Hy meen hulle kon wel lesse uit die inperking leer, soos dat toegang tot digitale tegnologieë dienslewering, veral in die onderwys, gesondheidsdienste en e-handel, kan verbeter.

Die provinsiale regering het in Februarie sy groeiplan vir die volgende tien jaar, Grow Gauteng Together (GGT2030), bekend gestel, maar Covid-19 het dié plan vertraag.

Makhura sê die doelwit is steeds om ’n provinsie te wees wat goed bestuur word en ’n volhoubare, inklusiewe toekoms vir almal skep. Hy wil ook sien dat alle vorme van diskriminasie uitgewis en meer werkgeleenthede geskep word.

’n Bevoegde, etiese en ontwikkelende provinsie

Volgens Makhura is omsigtige finansiële bestuur en aanspreeklikheid kenmerke van die huidige administrasie.

“Tussen die finansiële jare van 2013-’14 en 2017-’18 het die ouditeur-generaal se verslae gewys die persentasie skoon oudits in die provinsie het van 56% tot 65% verbeter. Die premierskantoor en die provinsiale tesourie het agt opeenvolgende finansiële jare skoon oudits gekry, van 2012-’13 tot 2019-’20.”

Hy gee toe dat korrupsie in sommige departemente kop uitsteek en sê korrupsie wat met Covid-19 verband hou, is tekenend hiervan.

“Die provinsiale forensiese oudit-eenheid het 73 forensiese ondersoeke afgehandel en 66 sake is na wetstoepassingsowerhede verwys vir vervolging en om openbare geld terug te kry.”

Ekonomie, infrastruktuur en werkgeleenthede

Makhura sê hulle volg ’n strategiese benadering om die Gauteng-stadstreek te transformeer, moderniseer en her-industrialiseer deur spesiale ekonomiese sones te skep. Een van die sones waarin vordering gemaak word, is dié vir die motorbedryf in Pretoria, wat talle werkgeleenthede in Mamelodi geskep het.

’n Wetsontwerp vir ekonomiese ontwikkeling in townships is ook in die Staatskoerant gepubliseer met die hoofdoel om ondernemings in die township te bemagtig en te ondersteun.

“Hoewel Covid-19 vertragings veroorsaak het, vind openbare beraadslaging tans plaas en die gesprek oor die wetsontwerp is met geesdrif in die informele sektor ontvang,” sê Makhura.

Die provinsie gaan in die volgende vyf jaar R56 miljard op die ontwikkeling van infrastruktuur bestee. As gevolg van Covid-19 is die gesondheidsinfrastruktuur in die provinsie verbeter en ’n bykomende 3 000 hospitaalbeddens is beskikbaar.

Volgens Makhura is die program om skole te bou ná vertragings tydens die inperking ook weer op dreef.

Onderwys, vaardighede en gesondheid

“Een van ons prioriteite is om gehalteonderrig te verskaf en te belê in relevante vaardighede vir leerlinge in die provinsie, veral vir dié uit arm en kwesbare huishoudings.” Makhura sê hoewel die onderwyssektor vanjaar swaar getref is, het die Gautengse onderwysdepartement goed gevaar deur die onderwysstelsel laaste paar jare te moderniseer. Meer as 10 000 klaskamers is sedert die begin van die jaar met inligtings-en-kommunikasietegnologie toegerus, meer as 20 000 skootrekenaars is aan onderwysers voorsien en meer as 200 000 rekenaartablette is aan leerlinge verskaf.

Makhura sê ’n span is aangestel om die strukturele probleme en korrupsie in die Gautengse gesondheidstelsel te takel, wat veral tydens die verkryging van beskermende toerusting kop uitgesteek het.

Veiligheid en voedselsekerheid

Volgens Makhura het die polisie se sigbaarheid verbeter en is 55 nuwe voertuie vir wetstoepassingsowerhede bekom om sigbaarheid te versterk.

Hy sê hoewel misdaad tydens die inperking afgeneem het, het geslagsgeweld gestyg. Die provinsie het ’n eenheid hiervoor gestig en 60 spanne sal na gemeenskappe uitreik om voorvalle te ondersoek om te bepaal watter ingryping nodig is.

Volgens Makhura het Covid-19 weer eens beklemtoon dat meer as ’n derde van Gauteng se inwoners nie voedselsekerheid het nie. Tussen April en September is meer as 2,8 miljoen mense in die provinsie bygestaan.

Makhura het mense gewaarsku die Covid-19-uitbreking in die provinsie is nog nie onder beheer nie en dat mense nie laks met die voorsorgmaatreëls moet raak nie. Hy verwag dat die gevalle vanaf middel Januarie gaan styg wanneer mense van vakansie af terugkeer.

“Ons provinsie het baie werk gedoen om die verspreiding te beperk en die effek van Covid-19 te bestuur. Ons moet aanhou om dit te doen, want die pandemie is nie verby nie. Ek wil inwoners verseker dat ons alles in ons vermoë sal doen om diegene wat by Covid-19-verwante korrupsie betrokke was, aanspreeklik te hou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.