Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Covid-19: R14,2 mjd. se korrupsie ondersoek wyl bewerings ‘instroom’

Beweerde korrupsie van R14,2 miljard met tenders vir die aankoop van persoonlike beskermende toerusting (PBT) word deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) in verskeie staatsdepartemente ondersoek.

Dít terwyl nuwe bewerings van korrupsie volgens adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, steeds instroom.

Volgens Mothibi is dié skoksyfers vervat in die SOE se jongste sesweeklikse vorderingsverslag, wat op 30 April aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is.

Adv. Andy Mothibi Foto: Misheck Makora

Ramaphosa se woordvoerder, Khusela Diko, is self op spesiale verlof ná bewerings dat haar oorlede man se maatskappy uit beweerde onreëlmatige PBT-tenders van die Gautengse gesondheidsdepartement voordeel getrek het.

Die SOE het Dinsdag voor die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste oor sy begroting en prestasieplanne vir die huidige boekjaar verskyn.

Mothibi het dit duidelik gestel dat die SOE se finansies ondanks ’n begrotingsbesnoeiing van R41 miljoen vanjaar gesond is, maar bygevoeg dat die risiko bestaan dat die SOE weens uitstaande skuld van ander staatsinstellings nie sy werk in die toekoms doeltreffend sal kan doen nie.

LP’s het gehoor dat staatsinstellings die SOE saam meer as R530 miljoen skuld vir ondersoeke wat die eenheid namens hulle in hul onderskeie instellings gedoen het. Slegs sowat R75 miljoen daarvan kon ingevorder word.

Volgens Mothibi oorweeg die SOE verskeie stappe om dit te verhaal, maar is die hof die laaste uitweg.

Oor die SOE se PBT-ondersoeke het Mothibi aan die komitee gesê hoewel die eenheid die oorgrote meerderheid van sy ondersoeke afgehandel het, stroom nuwe bewerings oor PBT-korrupsie steeds in en word dit ook ondersoek.

Mothibi het bygevoeg dat die samewerkingsentrum tussen die SOE en verskeie wetstoepassingsagentskappe om PBT- en ander staatskorrupsie te ondersoek, waarde tot die ondersoeke toevoeg.

Ons ondersoek ook beweerde PBT-onreëlmatighede in die departement van onderwys in Gauteng waarmee die sentrum baie behulpsaam is. Ons sal binnekort aankondigings daaroor doen.

“Was dit nie hiervoor nie, sou ons in die meeste gevalle waarskynlik baie langer geneem het om ons ondersoeke af te handel.

“ ’n Tipiese voorbeeld is die PBT-ondersoek in die Gautengse gesondheidsdepartement waar ons die geldspoor gevolg en bevries het danksy die sentrum en veral die finansiële intelligensiesentrum.”

Volgens hom werk die SOE nou saam met die nasionale vervolgingsgesag en die Valke sou misdadigheid in sy ondersoeke na vore kom.

“Ons ondersoek ook beweerde PBT-onreëlmatighede in die departement van onderwys in Gauteng waarmee die sentrum baie behulpsaam is. Ons sal binnekort aankondigings daaroor doen.”

Mothibi het bygevoeg dat die SOE deel is van die interministeriële komitee oor die nasionale Covid-19-inentingsprogram wat deur adj.pres. David Mabuza gelei word.

“Ons is reeds versoek om ons ervaringe met PBT-korrupsie met die interministeriële komitee te deel om die risiko van korrupsie met die inentingsprogram te probeer beperk.”

LP’s het gehoor dat die SOE tot dusver 69 siviele hofgedinge na die spesiale tribunaal verwys het in ’n poging om sowat R7 miljard se staatsgeld te verhaal.

Hiervan is 15 hofgedinge weens onreëlmatig toegekende PBT-tenders waardeur die SOE sowat R365 miljoen wil verhaal.

Altesaam 13 beslagleggingsbevele vir miljoene rande se bates is ook reeds deur die spesiale tribunaal beteken, terwyl bankrekeninge van staatsamptenare wat onregmatige geld van diensverskaffers gekry het, bevries is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.