Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Covid-geld: ‘2 derdes is wanbestee’

Meer as twee derdes van die geld wat die regering tot dusver bestee het om die Covid-19-pandemie te beveg of die gevolge daarvan te verlig, het vermoedelik in die verkeerde hande beland en nóg mense sal môre daaroor aangekeer word.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het gister gesê die regering het tussen April en Augustus R15,6 miljard aan die pandemie bestee. Die eenheid ondersoek transaksies ter waarde van R10,5 miljard, oftewel 67% van die totale besteding, weens moontlike wanbesteding en/of korrupsie.

Die SOE, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die Valke het gister aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) verslag gedoen oor die vordering met Covid-19-verwante korrupsiesake.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, sê daar kan môre nog inhegtenisnemings wees in verband met die wanbesteding van Covid-19-geld, maar het nie uitgewei nie.

Adv. Shamila Batohi Foto: gallo

Die Valke het reeds 174 sake in verband met die wanbesteding van Covid-19-geld geïdentifiseer. Van daardie sake is 51 reeds ondersoek en ses was reeds voor die hof. Uit die 51 ondersoeke hou agt verband met die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters-fonds, twee met die Solidariteitsfonds, drie met nieregeringsorganisasies en 38 met beweerde verkrygingsbedrog.

Adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, sê R223 miljoen van die R10,5 miljard se sake is voor die spesiale tribunaal in ’n poging om die geld terug te kry. Hy sê 18 sake is reeds afgehandel.

Dit sluit die vervolging van ses kontrakteurs in weens tenderbedrog rakende persoonlike beskermende toerusting vir die Gautengse departement van gesondheid.

Dié departement word ondersoek weens meer as R200 miljoen se korrupsie. Hy het ’n pleidooi gelewer om strenger wetgewing om korrupsie te beveg.

“Daar is openbare verontwaardiging oor die betrokkenheid van prominente invloedryke mense (soos omskryf in die Wet op Finansiële Intelligensie, Wet 38 van 2001) en hul onmiddellike familie wat baat vind by die verkryging van tenders van staatsinstellings.

“Tans word dit nie as onwettig beskou nie en die behoefte bestaan aan die oorweging van bykomende wetgewing vir situasies waar staatsinstellings met mense in dié kategorieë kontrakte sluit,” sê Mothibi.

Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter wat die virtuele sessie gelei het, sê die oorlog teen korrupsie is duidelik nog lank nie verby nie “omdat die mense wat die gesteelde geld moet ondersoek, nog geld nodig het om die ondersoeke te kan doen”.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, sê as hul begroting gesny word, sal hulle nie suksesvol kan voortgaan met hul ondersoeke en vervolgings nie.

'Wetgewing kort ANC se steun, toepassing'

Om wetgewing deur te voer oor staatsamptenare en hul familielede wat met die staat sake doen, gaan ’n lang proses wees, sê dr. Guy Lamb, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement politieke wetenskap.

“Dit gaan ook alles afhang of die regerende party die wetgewing ondersteun.”

Hy sê die ondersoeke en vervolgings waarmee die SOE, die NVG en die Valke besig is, is ’n “goeie begin”.

“Daar is ’n duidelike tendens in die NVG om slegs mense te vervolg waarvan die moontlikheid op sukses baie hoog is. Hy gebruik sy beperkte­ hulpbronne goed en daar is ’n duidelike belofte van sy kant af dat geregtig-heid sal geskied.”

Dr. Ralph Mathekga, onafhanklike politieke ontleder, meen die wet moet staatsamptenare en politici heeltemal verbied om staatstenders aan vriende en familie toe te ken en dit nie net reguleer nie.

“Daar is wetgewing wat vereis dat amptenare belangebotsings moet verklaar, maar dit word nie toegepas nie,” sê hy.

Meer oor:  Shamila Batohi  |  Godfrey Lebeya  |  Pandemie  |  Korrupsie  |  Wetgewing  |  Aangekeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.