Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CPS aangekla oor ‘uitbuiting’

Klagte is by die polisie ingedien teen werknemers van Cash Paymaster Services (CPS) wat glo steeds alles moontlik probeer doen om vas te klou aan ’n hoogs winsgewende kontrak om maatskaplike toelae uit te betaal.

Dit ten spyte van ’n konstitusionele hofbevel wat duidelik uitstippel dat die kontrak met CPS teen einde September uitgefaseer moet wees en dat die Poskantoor en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) dié uitbetalingsdiens moet oorneem.

Die interministeriële komitee wat die uitfasering van die CPS-kontrak moet monitor, het Donderdag in Pretoria onthul dat CPS-personeellede na bewering by betaalpunte landwyd probeer om die migrasieproses na die Poskantoor te ontspoor.

Susan ShabanguFoto: Lisa Hnatowicz

Nomvula Mokonyane, minister van kommunikasie, het namens die komitee gesê regstappe is teen CPS-personeellede gedoen wat inmeng by die werk van Sassa en die Poskantoor se spanne wat die omruilproses van Sassa-kaarte wil afhandel.

Susan Shabangu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het gesê CPS het glo meer werknemers as gewoonlik by betaalpunte geplaas om kwesbare begunstigdes te oortuig om toestemmingsvorms in te vul sodat hulle steeds hul toelae deur CPS kan ontvang. “Daar is verskeie sake aanhangig gemaak.

“Ons het ook die konstitusionele hof in kennis gestel dat CPS aanhou om begunstigdes te lok om hul dienste te gebruik. Ons het ook vir die Grindrod-bank (’n filiaal van CPS) hof toe geneem omdat hy voortgaan om onwettig geld van toelae af te trek.”

Die ministers het gesê die voortdurende staking by die Poskantoor raak nie die uitbetaling van toelae of die oorskakeling na die nuwe Sassa-kaart nie. Die staking raak glo net 60% van poskantore in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Hulle het weer om verskoning gevra vir die tegniese probleme wat baie begunstigdes in die Julie-uitbetalingsproses ervaar het en sê dié probleme kry aandag.

Mokonyane het gesê die komitee is tevrede met die vordering wat tot dusver gemaak is om te voldoen aan die uitspraak van die konstitusionele hof, wat beveel het CPS moet einde September ophou om toelae uit te betaal.

Die Poskantoor het meer as 1,8 miljoen begunstigdes wat kontanttoelae deur CPS kry, na die nuwe goue Sassa-kaart oorgeskuif. Die res sal teen einde Augustus die nuwe kaart kry.

Die goue kaart is volgens die ministers veiliger en laat nie onwettige of bedrieglike aftrekkings vir elektrisiteit, selfoonlugtyd of lenings toe nie.

Die ou, wit Sassa- en CPS-kaarte sal van Oktober af nie meer werk nie.

Begunstigdes wat steeds die wit kaart gebruik, word gevra om die goue kaart wat die Poskantoor uitreik, te gebruik.

Volgens Mokonyane kan begunstigdes by plaaslike Sassa-kantore, kontantuitbetalingspunte en gemeenskapsale wat binnekort aangekondig sal word, aansoek doen om die goue kaart te kry. Poskantore sal ook binnekort daarmee kan help.

Bridget Masango, DA-LP en die party se woordvoerder oor maatskaplike toelae, het dit verwelkom dat Sassa besluit het om regstappe te doen teen CPS se “afskuwelike pogings om begunstigdes uit te buit”.

“Die parasitiese CPS moet ten volle aanspreeklik gehou word.”

Sy het gesê die ANC-regering se halfhartige verskoning beteken niks as begunstigdes nie hul toelae kry om vir kos, vervoer en ander noodsaaklikhede te betaal nie.

Meer oor:  Susan Shabangu  |  Sassa  |  Cps
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.