Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CPS ‘doen alles moontlik om Sassa nie terug te betaal’

Die omstrede Cash Paymaster Services (CPS) doen alles moontlik om nie die meer as R300 miljoen, wat hy ingevolge ’n hofbevel onregmatig van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) gekry het, terug te betaal nie, sê Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling.

Zulu het dié jongste verwikkeling in die voortslepende CPS-Sassa-sage in ’n parlementêre antwoord onthul nadat Bridget Masango, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, by haar wou weet wat die situasie van alle Sassa-hofgedinge teen CPS is.

Masango wou ook weet waar die proses trek wat betref die sowat R316 miljoen wat CPS aan Sassa moet terugbetaal, en watter stappe Zulu teen die Sassa-amptenare gedoen het wat die geld aan CPS uitbetaal het.

Die hooggeregshof het in 2018 gelas dat CPS die geld aan Sassa terugbetaal. Dit is in 2014 aan CPS betaal nadat dié diens het dat hy meer begunstigdes vir maatskaplike toelaes moes registreer as waarvoor hy aanvanklik gekontrakteer is.

Die konstitusionele hof het in 2017 CPS se hele kontrak met Sassa vir die uitbetaling van maatskaplike toelaes ongeldig verklaar.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling. Foto: Daily Sun

Die regering het later die Poskantoor aangestel om die maatskaplike toelaes se uitbetaling te behartig. Die parlement het vroeër ook gehoor dat CPS tot R200 miljoen per maand aan administrasiegeld verdien sedert hy in 2012 aangestel is om die toelaes uit te betaal.

Volgens Zulu het Sassa op 10 Oktober 2019 ’n brief gestuur aan CPS, waarin hy eis dat die maatskappy ingevolge die hooggeregshofbevel die R316 miljoen met rente terugbetaal. Dit was nadat CPS se appèl daarteen misluk het.

CPS het egter op 14 Oktober 2019 in ’n brief aangedui dat hy van plan is om na die konstitusionele hof te appelleer.

“Sassa sal wag vir die uitslag van die beplande appèl en as die appèlhofuitspraak nie omgekeer word nie, sal Sassa die hooggeregshofbevel laat afdwing,” lui Zulu se antwoord.

Zulu sê die Sassa-amptenaar wat die R316 miljoen-transaksie gemagtig het, werk nie meer vir Sassa nie.

Volgens Zulu het Sassa ook ’n ander hofgeding teen CPS aanhangig gemaak vir die verhaling van ’n verdere R74 miljoen wat glo ook onregmatig aan die maatskappy betaal is.

"In Februarie en Maart 2018 het Sassa onderskeidelik 2,1 miljoen en 2,3 miljoen begunstigdes se toelaes regstreeks in hul bankrekenings betaal sonder om CPS se dienste te gebruik." 

CPS het glo egter R74 miljoen vir dié uitbetalings geëis.

Zulu sê toe CPS die dagvaarding vir die R74 miljoen ontvang, het hy in hofdokumente geëis dat Sassa meer besonderhede daaroor moet verskaf. Sassa het dit gedoen en sy gewysigde hofstukke daaroor op 27 September 2019 ingedien.

Volgens Zulu het CPS egter ook kapsie teen die wysigings gemaak. Dié hofgeding is ook nog hangend.

Meer oor:  Sassa  |  Cps  |  Lindiwe Zulu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.