Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CR17: 2 van EFF bedank oor geld wat hulle by Cyril kry

Twee lede van die EFF het uit die party en as lede van die parlement bedank, nadat dit onthul is dat hulle geld van pres. Cyril Ramaphosa se ANC-presidensiële veldtog in 2017 (CR17) ontvang het.

Die EFF het Maandagaand bekend gemaak Tebogo Mokwele, ’n senior en uitgesproke LP, en Nkagisang Mokgosi het uit die party bedank.

In die jongste onthullings oor die CR17-veldtog het die EFF Sondag bekend gemaak Mokwele het R40 000 vir ’n “persoonlike probleem” van die CR17-veldtog ontvang.

EFF CR17
Tebogo Mokwele

Mokwele spreek haar berou in haar bedankingsbrief uit.

“Dit is met groot berou dat ek die mense van Suid-Afrika en die lede van die EFF inlig dat ek besluit het om uit die EFF-leierskap te bedank, sowel as die parlement. Ek onderneem ook om myself nie weer vir die volgende vyf jaar, vir enige van die poste verkiesbaar te stel nie,” sê Mokwele in haar brief.

Sy sê sy het reeds haar bedankingsbrief as EFF-LP aan die speaker van die nasionale vergadering gestuur.

Mokwele sê sy het tot dié besluit gekom nadat sy introspeksie gedoen het oor haar verbinding met die president van die ANC, waar sy geld vir haar eie persoonlike belange gekry het.

Sy onthul dat sy tussen 2017 en 2019 R80 000 gekry het en sê haar optrede het die beeld van die EFF skade berokken.

Mokwele meen sy kan nie verwag dat die EFF se woordvoerders meer tyd spandeer om haar optrede in die openbaar te bespreek nie.

“As ’n leier en ’n aktivis, besef ek dat ek ’n rewolusionêre plig gehad het om die EFF-leierskap oor my assosiasie met pres. Cyril Ramaphosa in te lig. Veral omdat daar geld betrokke was. Ek het nie en dit was heeltemal verkeerd van my,” sê Mokwele.

Sy sê dit is die EFF se doel om die ANC af te takel sodat hulle die regerende party kan word, wat volgens haar dus beteken die EFF en die ANC is strategiese vyande.

Mokwele sê sy wens sy kan steeds ’n lid van die EFF wees, al gaan sy vyf jaar neem om haarself te rehabiliteer.

Op haar beurt het Nkagisang Mokgosi aangekondig dat sy as EFF-LP bedank, asook uit die EFF-leierskap, waarna sy aangekondig het dat sy haarself nie vir die volgende vyf jaar vir enige leierskapsposte in die EFF verkiesbaar sal stel nie.

“My besluit is gegrond op die feit dat ek nie my verhouding met die ANC-president Cyril Ramaphosa openbaar gemaak het nie, wat die wisseling van geld insluit,” sê Mokgosi.

Sy erken dat sy ook tussen 2017 en 2019 R80 000 vir haar persoonlike gebruik by die CR17-veldtog ontvang het, waarna sy sê dit is oneerbaar om geld uit die vyand se kamp te ontvang en dit nie bekend te maak nie.

Mokgosi besef haar optrede het die EFF skade berokken. Sy kan nie met leierskapsverantwoordelikhede opgesaal word nie en daarom bedank sy as EFF-LP en uit die EFF-leierskap.

Sy doen dan ook ’n beroep op die EFF om as lid aan te bly.

City Press het Sondag berig prominente ANC-leiers soos Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid, en Fikile Mbalula, minister van vervoer, asook ander ANC-leiers ook derduisende rande deur die CR17-veldtog betaal is.

Dié uitgelekte inligting is glo deel van dié wat adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, ondersoek het oor die skening van R500 000 wat Gavin Watson, oudbaas van Bosasa, aan die veldtog gegee het.

LEES OOK: CR17: Cyril moet ‘drasties reageer’ op opponente in ANC

Meer oor:  Tebogo Mokwele  |  Cr17  |  Ramaphosa  |  Cyril Teen Ob  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.