Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CR17: Cyril moet ‘drasties reageer’ op opponente in ANC

* Die EFF het Maandagaand aangekondig twee van sy lede, Tebogo Mokwele, ’n senior en uitgesproke LP, en Nkagisang Mokgosi, het uit die party en uit die parlement bedank. 


Die stelselmatige uitlekking van finansiële inligting van pres. Cyril Ramaphosa se ANC- presidensiële veldtog in 2017 is deel van ’n “goed georkestreerde plan” deur sy opponente in die regerende party om hom as ANC-president én staatshoof te ontsetel.

Tebogo Mokwele Foto: Parlement

Dit is die mening van politieke kenners in reaksie op die jongste onthullings daaroor. Hulle sê dat ’n “ontsettende onstabiele tydperk vir die land voorlê” as Ramaphosa nie drasties daarop reageer nie.

In die jongste onthullings het die EFF Sondag bekend gemaak dat een van sy senior en uitgesproke LP’s, Tebogo Mokwele, ook R40 000 vir ’n “persoonlike probleem” van die CR17-veldtog gekry het. Die party oorweeg nog hoe hy verder teen haar sal optree.

Nie Mokwele of die EFF kon vir verdere kommentaar bereik word nie.

Die jongste drama oor die CR17-veldtog se geldsake volg nadat City Press Sondag ook berig het dat prominente ANC-leiers soos Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid, en Fikile Mbalula, minister van vervoer, asook ander ANC-leiers ook derduisende rande deur die CR17-veldtog betaal is.

Dié uitgelekte inligting is glo deel van dié wat adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, ondersoek het oor die skenking van R500 000 wat Gavin Watson, oudbaas van Bosasa, aan die veldtog gegee het. Ramaphosa wil haar verslag teen hom daaroor in ’n hof laat hersien.

Intussen het Ramaphosa self Sondag in ’n onderhoud ná sy ampsbesoek aan Tanzanië en wat ook op die presidensie se amptelike Twitter-rekening geplaas is, gesê die “kwessies” oor hom en die OB is “politieke dinge wat gebeur” wat nie sy aandag van sy werk aflei nie.

“Ek is verkies deur die mense van Suid-Afrika om hul werk te doen, so ek hou aan om hul werk te doen. Daardie proses (die hofaansoek teen die OB) gaan voort en is nou ’n regsproses. Ons moet dit vir die howe van ons land los om te oorweeg.

“Ek is nie in staat om vooraf te oordeel wat die uitslag kan wees nie. Ek los dit in die hande van die howe wat dit die beste sal hanteer,” sê Ramaphosa.

Ek is nie in staat om vooraf te oordeel wat die uitslag kan wees nie. Ek los dit in die hande van die howe wat dit die beste sal hanteer.
Cyril Ramaphosa

Kodwa, wat nie Maandag vir kommentaar bereik kon word nie, het egter aan die geselsradiostasie Power FM gesê die geld het “niks te doen gehad” met die CR17-veldtog nie. “Dit is irrelevant tot die konferensie van 2017 . . . dit het alles te doen gehad met my as ’n werknemer by Luthuli-huis, onthou ek het daar gewerk . . . die geld is in Januarie 2019 betaal, so dit het niks te doen gehad met die 2017-konferensie nie,” het hy gesê.

Wie is Tebogo Mokwele, EFF-LP, wat geld van die CR17-veldtog ontvang het ?

Mokwele, wat die EFF aanvanklik in die Nasionale Raad van Provinsies verteenwoordig het, is ná die verkiesing in Mei ’n LP in die Nasionale Vergadering.

Sy was vroeër ’n baie uitgesproke lid van die grondwetlike hersieningskomitee wat moes besluit of art. 25 van die Grondwet gewysig moet word, of nie, om grondonteiening sonder vergoeding toe te laat.

Mokwele is in Swartruggens, Noordwes, gebore waar sy haar politieke loopbaan as 14-jarige begin het. Sy was een van die leiers van die destydse betogings teen die skooluniforms in die destydse Bophuthatswana, sowel as teen die afskaffing van Afrikaans as verpligte skoolvak. – Bykomende bron: EFF

Mbalula kon ook nie Maandag vir kommentaar bereik word nie.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen Ramaphosa se teenstaanders tas met die uitlek van sy finansiële inligting sy “morele hoëgrond” aan om hom te ontsetel.

“Ek sien ’n bitter moeilike tyd vorentoe vir Ramaphosa as hy nie iets drasties doen nie. Dit is alles ’n politieke spel tot die bitter einde. Sy opponente kry dit reg om sy legitimiteit as president aan te tas,” sê Duvenhage.

Dr. Zwelinzima Ndevu, van die Universiteit Stellenbosch, meen die lekkasies is duidelik deel van ’n goed georkestreerde opbou na die ANC se nasionale algemene vergadering in 2020 waar sy opponente Ramaphosa wil onttroon.

“Dit is alles deel van die groter binnegeveg in die ANC. Wat egter kommerwekkend is, is dat ander partye soos die EFF ook nou betrek word. Dit kan die demokratiese proses in die land ondermyn,” sê Ndevu.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.