Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CR17-sage ‘sal Cyril se geloof-waardigheid skaad’

Te midde van die bespiegelinge wat verdiep ten opsigte van pres. Cyril Ramaphosa se CR17-veldtog, meen politieke kenners dat dié kwessie sy politieke geloofwaardigheid sal skaad.

Dit volg nadat die EFF Dinsdag ’n pleidooi aan enige van sy LP’s of lede gerig het wat geldelik gebaat het by die CR17-veldtog, om na vore te kom.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jaco Marais

Dit het gevolg ná die bedanking van twee EFF-LP’s – Tebogo Mokwele en Nkagisang Mokgosi. Hul bedanking as LP’s, asook uit alle leierskapsposte in die party, het gekom nadat hulle erken het dat hulle elkeen R80 000 van die CR17-veldtog ontvang het.

“Ons herhaal ons beroep op alle vegters binne en buite die leierskap wat op enige manier geldelik voordeel getrek het uit die CR17-veldtog. Ons pleit by hulle om die EFF-leierskap in hul vertroue te neem en hulle te onderwerp aan die dissipline van ons revolusie,” lui Dinsdag se verklaring.

Dit was nadat Sunday Independent vroeër berig het oor die name van politici en sakelui wat glo óf geld vir die CR17-veldtog geskenk, óf geld daarvan ontvang het.

Dit het Dinsdag op sosiale media hieroor gegons.

Mmusi Maimane, DA-leier, het in ’n video wat op Twitter versprei is, gesê die stelsel van patronaatskap in die ANC moet uitgeroei word.

Die ANC het volgens hom besluit dat die staat gekaap moet word. “Die manier om die staat te kaap is om te verseker jy stel kaders aan wat lojaal is aan die party – nie aan die landburgers nie – en om te verseker dat regeringsinstellings gekaap word deur betalings aan lede van die party te maak. Dit is dieselfde rolprent, dit word heeltyd herhaal, het hy gesê.

Minister kap terug oor bewerings dat sy R5 miljoen van die CR17-veldtog gekry het:

Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsakeontwikkeling, het beweringe oor haar betrokkenheid by die CR17-veldtog as “kwaadwillig” en “onwaar” afgemaak.

Dit is nadat die Sunday Independent vroeër berig het hoe sy deel was van prominente politici wat groot bedrae geld van die veldtog ontvang het.

Die koerant het Sondag ook beweer dat Ntshavheni deel van die R5 miljoen wat sy ontvang het, gebruik het om ’n luukse voertuig te koop en ’n spoghuis vir haar ma in Thohoyandou te bou. Sy ontken dit ten sterkste in ’n verklaring.

Sy sê daarin dat sy al openlik erken het dat sy een van die vroeë organiseerders van die CR17-veldtog was en dat sy haar aktief in Limpopo daarvoor beywer het.

“Soos met enige veldtog wat vergaderings en saamtrekke organiseer om steun te werf vir hul voorkeurkandidaat, moes die veldtog gefinansier word. In Limpopo het die meeste van die finansiering gekom van skenkings deur kamerade en ondernemings wat in Ramaphosa se kandidatuur geglo en hom ondersteun het. In baie gevalle waar die skenkings nie voldoende was om sekere koste te dek nie, het die nasionale veldtog bygedra om die gapings te vul.

“Dit is algemene kennis dat ANC-takke algemene vergaderings gehou het om afgevaardigdes te benoem, en daarom hulp nodig het met selfoonlugtyd, brandstof en soms kos. Sulke (geldelike) bystand is uitbetaal deur streek- en groep-koördineerders. Hierdie koördineerders is dieselfde kamerade wat vandag daarvan beskuldig word dat hulle die veldtog se geld vir persoonlike gewin gebruik het. Dit is ’n blatante leuen.”

Ntshavheni het daarom die bewerings dat sy persoonlik sulke geld gebruik het, as “lagwekkend” beskryf, veral omdat sy en haar ma self gevestigde sakevroue is wat ’n taxi- en ander ondernemings besit.

Sy neem ook aanstoot teen die beweringe dat Ramaphosa haar as minister aangestel het danksy die werk wat sy vir die veldtog gedoen het.  Llewellyn Prince

Prof. Samadoda Fikeni, politieke ontleder aan Unisa, het gesê die hele CR17-sage sal polities skade aan Ramaphosa se geloofwaardigheid aanrig.

“Dit is veral só aangesien hy die platform gebruik het om korrupsie te beveg. Selfs al word daar wettig bewys dat hy niks verkeerd gedoen het nie, is die politiese skade aangerig. Dit sal groter sinisme jeens politici skep wat sê hulle beveg korrupsie.”

Daar is volgens Fikeni drie wetlike aspekte ter sprake in die kwessie. Dit is die vraag of Ramaphosa die parlement mislei het; of daar enige geldwassery was; en of geld wat aan die veldtog geskenk is, vir persoonlike gebruik aangewend is.

Op ’n vraag of Ramaphosa aan die einde van die pad is, het Fikeni gesê hy het nog steeds ’n pad voor hom, maar dit gaan moeilik wees. “Hy kan byvoorbeeld maklik afgepers word in die ANC om hom nie te sterk uit te spreek oor korrupsie nie. Hy kan dalk ook maklik afgepers word om spesifieke mense in sekere poste te ontplooi, en nie die mense wat hom befonds het nie. Dit sal sy beweegruimte inperk.”

Ramaphosa sal hard werk om sy naam skoon te maak, het Fikeni gesê. “Hy kan byvoorbeeld bewys dat hy die ekonomie kan herbou. Mense weet dat politici soms verkeerde goed doen wat aan die rand van die wet is, maar hulle raak bekommerd as dit by kwessies oor die vordering van die land kom.”

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê die uitlek van die dokumente was deel van ’n terugvegpoging van die Zuma-kamp.

Hy meen die hele kwessie is ’n groot uitdaging vir Ramaphosa se presidentskap.

“Ek dink die enigste manier om dit te oorkom is om die land in sy vertroue te neem en presies te vertel wat gebeur het, en nie gebeur het nie. Almal sit en wag vir Donderdagmiddag wanneer hy vrae oor die kwessie in die parlement gaan beantwoord.”

Venter glo die Ramaphosa-presidentskap sal op ander wyses probeer om die fokus van die geld af te lei.

“Ek dink nie dit is einde van die pad vir Ramaphosa nie.”

Hy meen die kwessie is hanteerbaar. “Hy gaan hier uitkom. Politici doen gewoonlik drie of vier goed as ’n krisis soos dié ontstaan. Hulle steek iemand in die pad; maak baie openlike verklarings of wydlopende uitsprake; as hulle wil tyd wen laat hulle ’n ondersoek deur ’n kommissie doen; wat ek nie dink daar nou ’n aptyt voor is nie.”

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Eff Lp's  |  Cr17-Veldtog  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.