Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CR17: Valke sal korrupsie, geldwassery ondersoek
Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Die Son

Die Valke sal ondersoek instel oor of daar enige misdaad soos korrupsie of geldwassery in verband met die skenkings aan óf uitbetalings deur pres. Cyril Ramaphosa se ANC-presidentsveldtog in 2017 gepleeg is.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het Maandag bevestig dat die politieke party African Transformation Movement (ATM) die Valke versoek het om bogenoemde teen Ramaphosa te ondersoek.

“Die aangeleentheid is na die handelsmisdaadeenheid vir verdere ondersoek verwys,” het Mulaudzi gesê.

Die party se president, Vuyo Zungula, het Vrydag ook persoonlik ’n “skenking” gemaak tot adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se regskoste nadat die konstitusionele hof vroeër beslis het dat sy in haar persoonlike hoedanigheid vir ’n deel van die koste in die Absa/ CIEX/ Reserwebank-saak aanspreeklik gehou word.

Die ANC het in Junie ook ’n ondersoek gelas nadat Ace Magashule en ander ANC-leiers daarvan beskuldig is dat hulle ’n “aandeel” in die stigting van die ATM kort voor die verkiesing op 8 Mei gehad het.

Op sy beurt het Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, egter ’n lasterklag teen Buyisile Ngqulwana, voormalige ATM-lid wat die bewerings gemaak het, by die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien. Hy eis R500 000 se skadevergoeding omdat die bewering hom glo as ’n “verraaier van die ANC” uitbeeld.

Daar word egter wyd bespiegel dat die Zuma-faksie in die ANC, waarvan Magashule glo lid is, die OB-kantoor en uitgelekte CR17- finansiële inligting vir hul binnegevegte teen Ramaphosa en sy ondersteuners in die ANC gebruik.

Zungula het Maandag bevestig dat sy party die afgelope Donderdag ’n dossier met inligting oor die CR17-finansies na die Valke gestuur het om te ondersoek of formele klagte daaroor teen Ramaphosa ingedien kan word.

“Dit is omdat Ramaphosa vroeër die hof gevra het om sekere bank-inligting van sy veldtog te verseël. Ons wil weet waarom daar so geheimsinnig opgetree word deur ’n president wie se veldtog-tema destyds op deursigtigheid gegrond was.

“Ons het die Valke versoek om ook ondersoek in te stel of van die skenkers dalk by geldwassery betrokke kon wees, en of diegene wat geld van die veldtog ontvang het, dalk by belastingoortredings betrokke kon wees.”

Wat sy eie skenking vir Mkhwebane se regskoste betref, het Zungula gesê dit is om die kantoor van die OB as grondwetlike instelling te beskerm.

“Haar opponente wil haar egter persoonlik breek en daarom gaan dit nie net om haar kantoor nie. Ons wil haar ondersteun omdat ’n persoonlike kostebevel teen ’n sittende OB ’n gevaar vir die demokrasie inhou. Dit omdat dit haar en haar opvolgers se toekomstige besluite uit vrees vir persoonlike kostebevele kan beïnvloed.”

Hy het ook die bewerings dat Magashule ’n hand in die stigting van die ATM gehad het, as onwaar afgemaak.

“Dit is opgemaak deur die ANC self sodat kiesers die ATM as die skepsel van korrupte ANC-leiers beskou. Dit omdat dit in die belang van die ANC is om nuwe politieke partye te vernietig wat sy steun kan afrokkel,” het Zungula gesê.

Meer oor:  Valke  |  Cyril Ramaphosa  |  Cr17-Veldtog  |  Geldwassery  |  Korrupsie  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.