Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CR17-veldtog was skoon, sê presidensie

Nadat joernaliste vrae begin vra het, het die presidensie bewus geraak dat vertroulike inligting, wat vervat was in bankstate van donateurs wat geld geskenk het en ontvangers van die CR17-veldtog van pres. Cyril Ramaphosa, na die media gelek is, sê Khusela Diko, woordvoerder van die president.

Diko het by navraag ook gesê die inligting, wat veronderstel was om net deur die openbare beskermer (OB) gehanteer te word, sluit in bankstate van derde partye wat bewyse van private transaksies is en wat veronderstel was om uiters vertroulik te wees.

“Die presidensie het met ernstige kommer kennis geneem van optrede wat neerkom op die oortreding van die grondwetlike reg op privaatheid.”

Diko sê wat dit nog meer problematies maak, is dat dit lyk asof die inligting van die begin af op ’n onwettige manier bekom is.

“Pres. Cyril Ramaphosa se regsverteenwoordiger het die hof versoek dat sekere inligting in die rekords van die OB, wat bewerings teen die president ondersoek, nie openbaar gemaak moet word nie.”

Diko sê die versoek is hangende ’n beslissing oor of die inligting wetlik bekom is en of dit wetlik verskaf is in verband met die ondersoek teen Ramaphosa.

“Die hof kan vorentoe nog besluit om sommige of al die inligting openbaar te maak nadat hy beslis het oor die wetlikheid al dan nie van hoe die inligting bekom is en die toepaslikheid daarvan om dit in die hofrekord in te sluit.”

Diko sê die selektiewe sirkulering van die bank-inligting wat nou plaasvind, is duidelik kwaadwillig om die president te beswadder.

“Nie die president of die CR17-veldtog het enigiets eties of wetlik verkeerd gedoen nie. Dit is ’n algemene en aanvaarde praktyk in Suid-Afrika en regoor die wêreld vir partye en hul kandidate om geld van skenkers vir veldtogte in te samel.

“Van die begin af het die CR17-span en die kandidate ooreengekom dat dit ’n skoon veldtog sou wees wat aan al die wetlike voorskrifte moet voldoen.”

Daar is ooreengekom dat sekere geld vir die veldtog ingesamel sou word by private individue wat die pogings ondersteun om die integriteit en eenheid in die ANC te herstel en om Suid-Afrika terug op die pad van groei en transformasie te plaas, met ’n uitdruklike verstandhouding dat hulle vanweë hul bydrae geen spesiale guns sou bekom nie.

“Geld is van ’n breë verteenwoordigende deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap ingesamel, soms met die hulp van individue wat toegang tot verskeie netwerke het.”

Meer as honderd individue het tot die veldtog bygedra.

Die donasies is vertroulik gemaak.

Diko sê soos wat die president te kenne gegee het in sowel sy antwoord op die seksie 7(9)-kennisgewing van die OB, as in sy oorspronklike verklaring aan die hof, is die geld gebruik om ’n reeks veldtog-aktiwiteite te ondersteun. Dit sluit in mobilisering, kommunikasie, ondersoeke, sekerheid, administrasie, logistieke ondersteuning (reis en verblyf), asook vergoedings en salarisse.

Geld is ook beskikbaar gemaak aan koördineerders in provinsies regoor Suid-Afrika. Die koördineerders het die geld onder meer gebruik om vergaderings en byeenkomste te organiseer, vervoer te reël, plekke vir byeenkomste te bekom en om verblyf te verskaf.

“Die president verseker die Suid-Afrikaanse publiek dat die CR17-veldtog ’n skoon veldtog was en dat dit gehou is in die gees van die land se ryke demokratiese tradisies – naamlik verantwoordbaarheid, eerlikheid en integriteit,” sê Diko.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.