Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril aan Tito en kie: Stoppit!

’n Bekgeveg op Twitter tussen Tito Mboweni, die minister van finansies, die Gautengse premier, David Makhura, en ander ANC-ringkoppe oor wie vir die provinsie se omstrede e-tolpaaie moet betaal, het uiteindelik Saterdag daartoe gelei dat pres. Cyril Rama­phosa sy stilte oor die kwessie verbreek het.

Ramaphosa het Mboweni en kie goed uitgetrap en die openbare spektakel oor regeringsbeleid as “diep betreurenswaardig” beskryf.

Hy het Mboweni en die Gautengse leiers aangesê om die gestryery, wat “onvanpas is vir mense in sulke hoë ampte”, te staak en saam te werk.

Saam met Fikile Mbalula, minister van vervoer, moet hulle teen einde Augustus oplossings aan die kabinet voorlê, het die president gesê.

Mboweni het gesê as ’n belegger in tolpaaie belê, is dit billik om opbrengste te verwag.

Mboweni, wat pas teruggekeer het van ’n besoek aan die Rwandese hoofstad, Kigali, het Saterdagoggend reeds die gewraakte twiets verwyder.

Volgens Pule Mabe, ANC-woordvoerder, kan die kwessie na die party se nasionale uitvoerende komitee verwys word, berig City Press.

Mboweni het onder meer in die middernagtelike ure op Twitter vir Makhura gewaarsku om nie met hom skoor te soek nie en hom daarop gewys dat dit die nasionale regering is wat die bron is van Gauteng se inkomste – ’n parmantige standpunt in die lig daarvan dat verreweg die meeste belastingbetalers in dié provinsie woon.

Makhura het in sy onlangse premiersrede gesê e-tol gaan afgeskaf word, terwyl Mboweni volhou gebruikers van padinfrastruktuur moet daarvoor betaal.

In ’n reeks twiets sedert Donderdag het Mboweni ingeklim onder Makhura en sommer ook staatsdepartemente en munisipaliteite wat nie hul Eskom-rekenings betaal nie, gedreig.

“As jy vir Eskom geld skuld, verminder ek jou toekennings. Finish en klaar,” het hy getwiet. “Gauteng se e-tol ook. Gebruiker moet BETAAL!!”

Toe kry hy vaart: “Ek is seker as die premier van Gauteng weet jy jy moet mooi dink voor jy skoor soek met die nasionale minister van finansies. Die een wat jou geldtoekennings beheer! Ek sou versigtig wees as ek hy was. GEBRUIKER/VERBRUIKER BETAAL!”

Mboweni het gesê as ’n belegger in tolpaaie belê, is dit billik om opbrengste te verwag. Daarom moet padgebruikers betaal.

Makhura het in ’n enkele twiet gesê hy het die e-tolkwessie na Rama­phosa verwys vir uitsluitsel.

“My gesprekke met hom en die minister van vervoer, Fikile Mbalula, was positief. Min. Tito Mboweni kan aanhou twiet terwyl hy kook; hy is ’n minister, nie die president nie,” het Makhura getwiet, met die hutsmerk #NoTurningBack. (Mboweni twiet ook dikwels oor sy kosmakery.)

In sy verklaring het Ramaphosa bevestig dat die beginsel van gebruiker-betaal regeringsbeleid is, maar bygevoeg dat e-tol in Gauteng “in sy huidige vorm probleme gee”.

Die Gautengse LUR vir menslike nedersettings, Lebogang Maile, het getwiet dat Mboweni die e-tolkwessie binne ANC-strukture kan opper, “maar hy kan ons nie dreig oor die finansminister se magte nie. Hy beklee die pos danksy ons steun. Moet ons nie tart en sonder respek hanteer nie, jy het ’n gebrek aan dissipline, ons is nie bang vir jou nie, haal uit en wys.”

Mabe het in aan City Press gesê die ANC moet streng optree teen lede wat op sosiale media kyf. “Ons gaan die nasionale uitvoerende komitee vra om te bepaal watter stappe ons moet doen teen kamerade wat doelbewus die ANC se kommunikasie­protokol ondergrawe.”

* Lees in Sake hoe die regering geld van Prasa wil vat om e-tolskuld te betaal.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Cyril Ramaphosa  |  David Makhura  |  Twitter  |  E-Tolstelsel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.