Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril aan Trump: ‘Moet jou nie oor SA bekommer’

As pres. Donald Trump in die gehoor was, sou hy vir hom gesê het hy moet hom nie oor Suid-Afrika bekommer nie omdat dié land op tipiese wyse sy eie probleme sal oplos.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand in New York, toe hy die David Rockefeller-gedenklesing by die Council on Foreign Relations gelewer het, gesê hy glo Trump moes meer moeite gedoen het om die regte inligting te bekom toe hy Suid-Afrika onlangs op Twitter aangeval het oor plaasbesettings, -moorde en grondvergrype.

Ramaphosa het gesê Suid-Afrika het ’n verduideliking na die Amerikaanse departement van buitelandse sake gestuur oor wat met grondhervorming beplan word.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, sal Vrydag in New York met Mike Pompeo, Trump se minister van buitelandse sake, vergader om die situasie uit te klaar.

Pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand in New York.

Ramaphosa het opnuut benadruk geen grondvergrype sal toegelaat word nie, alles sal binne die reg geskied en die ekonomie en voedselproduksie mag nie skade ly nie.

Grondhervorming is nodig om die foute van die verlede reg te stel, die ekonomie te laat groei en werkgeleenthede te skep.

Die uitgelese gehoor het tjoepstil na die president gesit en luister.

Toe Ramaphosa gesê het as Trump in die gehoor was sou hy vir hom gesê het om hom nie oor Suid-Afrika te bekommer nie omdat dit in die wese van Suid-Afrikaners is om hul eie probleme op te los, het Roger Altman, die gespreksleier, onder ’n gelag gesê Trump is “nie ’n lid van dié organisasie nie” (met verwysing na die Council on Foreign Relations).

Hulle het ook gelag toe Ramaphosa ná sy toespraak aan Altman gevra het of hy (die president) “moet staan of kniel” vir die vraesessie.

Altman het ná Ramaphosa se toespraak opgemerk dit is lekker om te luister na ’n Afrikaleier wat praat van dividende op vele terreine.

Ramaphosa het ook aan die gehoor verduidelik wat sy regering met sy stimulusplan vir die ekonomie wil bereik.

Hy het ook die Suid-Afrikaanse media geloof en gesê danksy ’n vrye pers en ondersoekende joernalistiek, is die grootskeepse korrupsie in Suid-Afrika blootgelê.

Ná die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping sal die land se strafregstelsel volgens Ramaphosa die volgende paar jaar baie besig wees.

Ramaphosa het ook gesê korrupsie is nie net tot die staat beperk nie. Dit kom ook in die private sektor voor en selfs groot internasionale maatskappy was betrokke.

Meer oor:  New York  |  Verenigde Nasies  |  Vn-Besoek  |  Grond  |  Politiek  |  Donald Trump  |  Cyril Ramaphosa  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.