Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril begin nou spiere bult
cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa tydens sy toespraak op Vryheidsdag in Makhanda. Foto: https://twitter.com/PresidencyZA/

Pres. Cyril Ramaphosa is duidelik besig om sy mag in die ANC te konsolideer ná die verkiesing in Mei, sê politieke ontleders.

Dit het pas bekend geword dat die party se nasionale werkkomitee besluit het oudpres. Kgalema Motlanthe moet ondersoek instel na die moontlikheid dat Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, betrokke was by die stigting van Mzwanele Manyi se African Transformation Movement (ATM).

Magashule se naam word ook saam met dié van oudpres. Jacob Zuma en Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, gekoppel aan ’n poging om ontslae te raak van Ramaphosa.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê Ramaphosa gebruik dieselfde “strategie” as dié wat hy gebruik het om die gety te draai teen korrupsie in staatsinstellings deur kommissies van ondersoek aan te stel.

“Dit is duidelik deel van ’n strategie. Die president sal vir seker voordeel daaruit trek as mense soos Magashule ’n teiken word. Hy sal dan minder mense hê om hom oor te bekommer.”

Die president sal vir seker voordeel daaruit trek as mense soos Magashule ’n teiken word.

Die nuus oor die party se ondersoek na Magashule kom teen die agtergrond van Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, wat die naweek by die provinsiale uitvoerende komitee van die party in dié provinsie gesê het geen leier van die ANC sal by aanstaande jaar se nasionale algemene raad verwyder word nie.

Dié versekering het gekom te midde van bespiegelinge dat Ramaphosa se teenstanders dié raad kan gebruik om die president terug te roep.

Bathabile Dlamini het Dinsdag ook aangesluit by die groep voormalige ministers wat as LP’s uit die parlement bedank het. Nomvula Mokonyane en Malusi Gigaba het reeds die handdoek ingegooi.

Die besluit van die nasionale werkkomitee volg op ’n vroeëre besluit van die nasionale uitvoerende komitee dat die ondersoek gedoen moet word. Dit is ook dié komitee wat Motlanthe aangewys het om die ondersoek te lei.

Ingevolge die ANC se grondwet moet die nasionale werkkomitee ook verseker dat die provinsies, streke en takke van die ANC, ook parlementêre koukusse, die besluite van die party uitvoer.

Versterk Ramaphosa sy posisie?

Dr. Somadoda Fikeni, nog ’n politieke ontleder, sê dié ondersoek na Magashule kan beskou word as ’n teken dat Ramaphosa sy posisie in die ANC versterk om sodoende ’n greep op die mag te kry.

“Hy doen dit beslis. Dit sal ’n stadige proses wees, maar hy gaan dit op die wettige manier doen. Dit is omtrent tyd dat die ANC-strukture begin aandag gee aan al die bewerings. So dit lyk of die ANC gaan begin wys dat hy nie ’n leier gaan toelaat om sy eie wil uit te leef nie,” sê hy.

Ace Magashule

Vuyolwethu Zungula, president van die ATM, het Dinsdag gesê die pogings om Magashule te verbind met dié party, is niks anders nie as stigmatisering van die ATM, wat twee setels in die parlement gekry het ná die verkiesing.

“Sedert ons stigting verlede jaar, was daar nog geen bewyse wat Zuma, Magashule of enige ander ANC-leier met die party verbind nie. Mense doen dit sodat die kiesers die party nie ernstig moet opneem nie.”

Pule Mabe, nasionale woordvoerder van die ANC, het Dinsdag gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie.

“Dit is nie my werk om inligting wat uitgelek het, te bevestig of ontken nie. Ons het aanstaande week ’n NUK-vergadering en ons sal wag op amptelike kommunikasie,” het hy gesê.

Die nasionale werkkomitee het ook ’n voorgestelde provinsiale taakspan vir Noordwes, bestaande uit onder andere Mahumapelo, Gigaba, Dlamini en Mokonyane, verwerp.

Aaron Motswana, voormalige lid van die provinsie se uitvoerende komitee, het daarop aangedring dat Mahumapelo se provinsiale uitvoerende raad van destyds weer aangestel word. Dié raad is in Augustus verlede jaar ontbind.

“Die NUK moet weer gaan kyk na die hofuitspraak en die provinsiale uitvoerende raad weer aanstel. ’n Nuwe provinsiale taakspan moet aangewys word en dié span moet ’n konferensie vir die provinsie hou,” het hy gesê.

Meer oor:  Anc  |  Atm  |  Cyri Ramaphosa  |  Ace Magashule  |  Ace-Ondersoek  |  Parlementslede Bedank  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.